Ek sien jou in prentjies verbysweef deur vensters in beton,
Al die mooi en al die lelik en die graffiti wat vermom.
Op die naat van my rug kyk ek na verdwaalde sterre terug
En dan asem ek jou in;
Die soetgeur van wildesering, van roosmaryn en krismisroos …
Braaivleisrook, soetgras wat brand, ‘n stomende koppie boeretroos.
Ek hoor jou in die nagwind wat saggies buite ween,
ek hoor jou in die hoëveld-donderstorm wat op my venster rëen.
Ek hoor jou in sirenes wat in donker strate loei;
ek hoor jou in die slagoffersnikke wat homself lê en dood bloei.
Ek bewonder jou elke skemer wanneer pienk-oranje strepe agter jou kom dans,
En die romantiese sweem van jou blinkswart kombers wat jy om ons kom vou elke aand.
Ek verafsku en bemin jou vir alles wat jy is.
Dit is My stad, Dit is Jou stad
Dit is Goudstad.

