
Foto: Canva.com
Hoe liggies dans my masker in die aandwind
Die somer is dood, sy lig vergaan
in die aandskemer kinders se geskree wat taan
dan sien ek my masker dans in die wind
by die vensterraam met ’n knop in die vorm van
’n neus wat hy hoop my einste neus sou wees
hy wens seker hy kan hom vou in ’n gesig
wat ons twee uit die skare lig
hoe dans hy so liggies in die wind, hy wat so vinnig
soveel meer geword het as ek sedert ’n kind?
geag, geëer, in hoë kringe hoogs gerespekteer
ek claim geen rol in jou wegholsukses
vir jou beskerming sê ek erg bedank
of jy opreg was, of ’n opportunis, berug
dink jy as als verby is sal jy my kan teruggee,
my eindelik weer kan oorlaat aan my eie gesig?

