Mens hoor dikwels, nege uit die tien keer as mens vra hoekom iets Engels is, "dit is maar vir die toeriste". 'n Plek se aard, juis dit wat die toeris trek, word dus verander of aangepas om die toeris te akkommodeer en dit is dan op die manier teenproduktief. Om toeriste te akkommodeer is dus nie goed vir toerisme nie.
Dit is ook nie goed vir Afrikaans nie; die Afrikaanssprekende word in sy eie land afgejak om toeriste-onthalwe. Dis mos nie reg nie; die Afrikaner word 'n toeris in sy eie land om dinge vir toeriste te vergemaklik.
Ek wonder ook hoe 'eg' is geld wat uit toerisme gemaak word: Daar is wel mense wat arbei om 'n diens te lewer maar is dit ooit produktief? Kan 'n klomp Rooihuide byvoorbeeld, of Khoisan, wat in tradisionele drag net rondsit om deur toeriste aangegaap te word geld 'verdien'?
Maak nie sin nie. Hoe kan beloning vir arbeid in land A bloot net in land B gestort word? Die toerismebedryf is vir my amper soos kwantummeganika; as jy daarop konsentreer verdwyn dit. Toeriste moet ignoreer word; as hulle kom kuier moet hulle maar inval by plaaslike hotelle en herberge want om 'n hele bedryf daar te stel uitsluitlik vir toeriste klink nie vir my kosher nie.
Jan Rap


Kommentaar
Jan
Jy skryf: "Ek wonder ook hoe 'eg' is geld wat uit toerisme gemaak word" dan weer: "Toeriste moet ignoreer word; as hulle kom kuier moet hulle maar inval by plaaslike hotelle en herberge want om 'n hele bedryf daar te stel uitsluitlik vir toeriste klink nie vir my kosher nie."
Maat. Met jou stellings hierbo gemaak, pak jy nou 'n saak aan wat jou algehele onkunde oor beide ekonomiese wetenskap, asook die ekonomie van hierdie land uitlig.
Die toerismebedryf verskaf meer werk tans in hierdie land as selfs die mynbedryf en is DIE marksektor waarin die ekonomiese toekoms van hierdie land grootliks lê.
Selfs piepklein Swaziland weet dit. Reis deur enige deel van Swaziland, en jy sien geen advertensies in Swazi of enige ander inheemse taal nie, "Billboards" langs die pad, in hul hotelle en elders is uitsluitlik in Engels.
Jou fanatiese beheptheid met Afrikaans lyk my stuur jou ontkant. Afrikaans onder Afrikaners is STERK, aan die brand en groei nog steeds.
Jaco Fourie