Dis nou min dae vir die koerante. Die onsekerheid groei. Rapport plaas al minder resensies, en meer uittreksels uit boeke.
Intussen wil iemand by my weet hoe ek die puntetellings by die resensies bepaal. Nie maklik nie, maar daar is sekere vrae wat, indien ek hulle positief kan beantwoord, altyd vir my ’n punt werd is:
- Het die resensie ’n inleiding wat jou dadelik aangryp en laat voel hierdie resensie móét ek lees?
- Het die resensie ’n betoog wat uit die inleiding volg?
- Loop die betoog uit op ’n afsluitingsparagraaf waarin alles byeenkom in ’n evaluering/taksering?
- Het die resensent ’n herkenbare styl wat die resensie op ’n unieke vlak plaas?
- Dui die resensent die raamwerk aan waarbinne hy/sy die boek onder bespreking takseer?
- As daar ’n betoog is, hou dit tred met die raamwerk en die verwysingsveld van ander skrywers en werke wat deur die resensent betrek word?
- Oortuig die betoog?
- Reageer die resensent werklik op die boek?
- Slaag die resensent daarin om te reageer sonder om die hele verhaal te vertel?
- Het ek die resensie enduit gelees sonder om verveeld te raak?
- As die resensie ’n akademiese inslag het, maar in ’n algemene publikasie verskyn, is daar ’n poging om die vakgebied toeganklik te maak vir die oningewyde en/of onbelangstellende leser?
Hopelik help dit …
Onder water, deur Henda Olivier. Resensent: Joan Hambidge (Boeke24)
Daar is kere wanneer ek werklik nie genoeg inspirasie uit ’n resensie deur Joan Hambidge kan put om dit te ontleed nie. Dit is vir my hartseer dat iemand wat soveel skerp insig in ’n roman het, sukkel om haar insigte reguit oor te dra. Sy maak weer haar draaie by ou bekendes (Paglia, ens). Sy blerts haar bitsighede uit met ’n put-down wat net sy en haar studente sal geniet (“Vraisemblance dus”), terwyl sy gewoon kon gesê het dis ongeloofwaardig. En dan hol sy weer die vlaktes in met paragrawe oor sake (adder, #MeToo, die landskap van die seksuele spel, groot kuns) wat hulle skynbaar via die betrokke roman by haar aanmeld, maar wat die resensent nie genoeg besiel het om die paragrawe met uiteensettings te laat skakel nie. Dit laat my dink aan ’n student wat soveel te sê het in ’n eksamen dat die poging om alles neer te pen lei tot die verbrokkeling van die skryfstyl en dit daardeur onverstaanbaar gemaak word. Dis seker hoekom sy “ter sake” uit die bloute “ter saaklik” maak. Maak ek die regte afleiding dat sy eintlik reageer op iemand (ongeïdentifiseer) wat gesê het Olivier is ’n nuwe stem, dat sy belofte toon en ’n “gloeiende stem” het? Hoekom sukkel sy so om dinge reguit te sê? 4/10
Wegkruiper, deur Christelle Wessels. Resensie: Erla Diedericks (Rapport Boeke)
Diedericks het beslis die boek gelees. Die hele boekebedryf gons oor die sprong wat Wessels gemaak het, hoe sy haar met hierdie roman skielik in dieselfde liga as Deon Meyer, Rudie van Rensburg, Marie Lotz en Chris Karsten bevind. Hier was nou die ideale geleentheid om te vertel hoe dit gebeur het - nie wat in die storie gebeur nie. 3/10
Ek en jy bestaan nie, deur Danie Marais. Resensent: Louise Viljoen (Rapport Boeke)
Louise Viljoen bevind haar nou al só lank in die voorste linie van goeie resensente dat mens soms aan een van haar resensies begin lees en dadelik bewus is van die patroonmatigheid. Ek het al geleer om dit te ignoreer. Sy offer doodgewoon die voordele wat ’n luidende inleiding mens bied, op aan die voordele wat ’n diachroniese uiteensetting van die kunstenaarskap voor oë jou lewer. In hierdie geval is daar ook ’n lede waarin haar taksering kragtig saamgevat word. Die mense wat hierdie resensie gaan lees, sal nie gesteur word deur die akademiese inslag nie. En binne die groter konteks weet ’n mens ook dat hierdie resensie een van moontlik twee sal wees waardeur die geslagte van die toekoms hul toegang tot Marais se besondere digterskap gaan kry. Viljoen se ontleding is indringend en verrykend; ek het die naweek nadat dit verskyn het, met die bundel in die een hand en haar resensie in die ander deurgebring. Dis selde dat ’n resensie my só gelei het. Marais is een van die belangrikste stemme in die teenswoordige kulturele spektrum. Viljoen laat mens dit terdeë besef. En ja, sekerlik, by die digkuns is die hoe en die wat ewe belangrik. 8/10
Ek het ’n vermoede dat daar heelwat subtekste in hierdie resensie opgesluit is. Ek is dit heeltemal eens met die meeste van Van Noord se betoog. Hy is ’n gesoute joernalis, en wat lekker is van hierdie resensie, is die manier waarop hy sê dat blokraaisels iets is wat groter inslag gevind het by die ouer geslag. Sy argument vertroebel egter. Al die ontwikkelinge op die gebied van blokraaisels die afgelope 20 jaar het gekom danksy rekenaarprogramme wat al die soorte woordspeletjies wat Van Noord in sy resensie noem, moontlik gemaak het. Ek is geneig om heelwat dubbelsinnigheid te lees in sy slotwoorde: “Lank lewe die blokraai – en lank lewe papier!” 5/10
Die geskenk, deur Riette Rust. Resensie: Johannes de Villiers (Rapport Boeke)
Johannes de Villiers is ’n besonder geskikte persoon om Riette Rust se Die geskenk te resenseer. As mens sy Meer as jou seerkry gelees het, sal jy presies weet hoekom ek só sê. Ek kon nie anders as om te wonder hoe Johan van Zyl se opdrag aan hom gelyk het nie. “Gee ’n oorsig oor die volledige inhoud”? Met De Villiers se agtergrond sou dit ’n vermorsing van tyd en ruimte wees om dít van hom te verwag. Ek het eerder uitgesien na sy reaksie op, of ontleding van, die eienskappe wat Riette Rust in staat gestel het om hierdie boek te skryf. Dis sekerlik nie nodig om die boek self in sy onderdele te beskryf nie. Riete Rust is ’n celeb – was dit gewees van die dag af toe haar boek oor narsisme verskyn het. Haar lewensverhaal is welbekend. Wat ek gedink het De Villiers sou doen, is om die mantel van resensent volledig op hom te neem en te verduidelik hoeke staal daar aan hierdie vrou se gees is. Hy begin met die opmerking: “Aan hierdie persoon is meer as haar deel van die wêreld se swaarkry uitgedeel.” Hy eindig met die pragtige opsomming dat die boek ’n padkaart na heel word is. ’n Resensent met De Villers se ondervinding en insig hoef nie te bewys dat hy die hele boek gelees het nie. Van hom wil ek weet hoekom Rust heel kon word onder die soort omstandighede wat ander sou knak. ’n Resensie soos dié moet uitstyg en dinge verwoord wat die leser dalk net vermoed het. Johannes de Villiers is die resensent wat dit sou kon gedoen, maar nie het nie. 3/10
Samboksalf en ’n draaktraan, deur AM Holder. Resensie: Ilza Roggeband (Boeke24)
Roggeband se skadeloosstelling (“Ek het absoluut niks om hierdie boek mee te vergelyk nie”) is genadiglik nie “Dis nie my koppie tee” nie. Haar reaksie op die boek is sjarmant en begrypend, en sy stel ons baie positief in jeens ’n nuwe skrywer. Die kritiek wat sy lewer, is lig en indringend. Ek is seker Holder bloos nou nog oor die vrou wat motor bestuur met ’n lang swaard wat aan haar gordel vas is. 6/10
Gebooie, deur Rudie van Rensburg. Resensie: Francois Bekker (Boeke24)
O aarde. Die resensie begin asof dit ’n meem wil wees. Dan skuifel dit oor na die sfeer van die skynvroomheid: “Moordenaars en maaifoedies.” ’n Resensent wat té fatsoenlik is om moerneuker of motherfucker te gebruik en wil hê ons moet dit weet. Daarna double declutch hy en lanseer sy betoog in ’n samevatting, tien paragrawe lank, van verhaal en alles wat daarvan af te lei is. Hierdie resensie maak alleen in sy laaste drie paragrawe sin. In hierdie stadium van Rudie van Rensburg se publikasieloopbaan het hy sterk, gesaghebbende kritiek nodig. ’n Resensent wat die roman kan plaas teenoor die groot stroom reeksmoordenaarverhale wat sedert Silence of the lambs op die leespubliek losgelaat is. Ek sou graag wou sien hoe hy die hele resensie gebruik om sy een kernsin volledig te ontwikkel in ’n groter argument: “Met ’n kreatiewe benadering slaag Van Rensburg daarin om hierdie fassinerende gegewens deel van die storielyn te maak.” Ek weet Bekker kan dit doen, maar hy wil eerder die hele storie opsom. 4/10
Wegkruiper, deur Christelle Wessels. Resensie: Stefaans Coetzee (Boeke24)
Wanneer ’n resensent oor die woordbeperking op sy resensie kla, kan jy maar snuf in die neus kry. Stefaans Coetzee moes hierdie resensie ’n paar keer goed deurgelees het en woes gesny het. Hy begin met ’n papperige inleidingsparagraaf, en sien nie raak dat daar in sy betoog minstens drie klinkende opmerkings is wat ’n fenomenale wegspringplek vir sy bespreking sou verskaf het nie. Met die lees hinder sy lerende toon mens. Resensies is nie deel van die pedagogiek nie. (’n Paar weke gelede het Erla Diedericks my teleurgestel met haar resensie oor hierdie boek. Stefaans Coetzee verklap in die verbygaan die rede vir die verandering by Wessels. Dis hoe mens dit doen.) 4/10


Kommentaar
Met respek, Crito.
Wanneer jy 'n numeriese waarde aan jou taksering koppel, is jy besig om kwalitatiewe oorwegings soos wat jy hierbo noem, te kwantifiseer. Jy antwoord nie my vraag nie, want jy noem net die kwalitatiewe oorwegings. In die akademie sal daar byvoorbeeld 'n duidelike skema wees waarbinne jy hierdie oorwegings omskakel in syfers; asook 'n instrument wat die standaarde vir jou takserings bepaal. Ek probeer ook verstaan hoe om jou oorkoepelende taksering te lees, bv. 0 tot 2 = geen of min bewese substansie; 3 tot 4 = enkele aspekte met substansie maar in die geheel steeds onoortuigend; 5 tot 6 = voldoende, maar nie hoogstaande nie; 7 tot 8 = goeie resensie wat 'n betekenisvolle bydrae tot die kanon lewer; en 9 tot 10 = uitstaande resensie.
Dit bring my by 'n volgende punt. Jy maak geen melding van die kanon nie, en resensering vorm tog die basis vir die kanonisering van tekste. Daarom sou ek dink resensente moet uiteindelik bewys lewer van die posisie (al dan nie) van die teks relatief tot die kanon.
Dankie, Crito. Jou puntetellings vir die beoordeling van resensies bevat vir my waardevolle wenke, sonder dat dit dalk jou idee was. Ek luister en leer.
Aai, ja. Die Groot Kanon. Het skoon daarvan vergeet... Stout Crito, stout.
Trisa, ek stem. Dit help baie. En ek leer graag.
Die pedanterie en impiëteit, darem … van waar Gehasi. Diepgang sal verlore gaan indien Crito tot die bloudruk van ‘n rubric begrens word; resepmatigheid van die resensie helaas ons voorland. Nee, Crito ruk-en-rol met die dogters van Zeus en fuif met vernuf tussen die mites. Crito voel iets aan en skiet uit die heup. Ha!
Ek het nie enige besware nie.
Die nuwe Crito/ punte gee / lessies is uiters vervelig. Ek sal maar weer eendag gereeld lees wanneer dit weer geskryf word deur iemand wat nie dink 'n probleem met Joan Hambidge se aantekeninge is dat "sy sukkel om haar insigte reguit oor te dra" nie.
Crito moet vir Joan Hambidge uitlos. Hambidge is baie slimmer as Crito. Crito is altyd baie gou om kommentaar te lewer en eiertjies te lê, maar nooit as te nimmer sal Crito 'n resensie vol insig kan skryf soos wat Hambidge doen nie. Hambidge is 'n kleinood vir Afrikaans.
Ek moet met die vorige twee bydraers saamstem.
Dit is belangrik dat Crito soms terugstaan en die groter prentjie rondom literêre kritiek beskou. Hambidge is vir 'n geruime tyd reeds ons mees belese en produktiewe literêre kritikus.
Man Henning, ja.
Maar dis nie ek wat puntetoekenning voorstaan nie, dis Crito. My beskeie bydraetjie is bloot om te verneem of daar logika in haar puntetoekenning is.
Jy beweer "Diepgang sal verlore gaan indien Crito tot die bloudruk van ‘n rubric begrens word...".
Wow Henning, haat jy jou eie professie dan so baie dat jy eerder die mistieke wil aktiveer om 'n besluit te neem?
Man, Miller Moolman, a nee a. Logika ...
WDF.
"Miller Genuine" is 'n bier en my bot sê 'n 'miller' werk met mielies in 'n meule en selfs 'n moolman het met meulens te make. Hier is nou iemand deur die meule, dag ek. Seker uit die Vrystaat. Eintlik wou ek nog met Bettina in gesprek tree oor wokeness en die res toe jy my hier uit die skuinste raakry dat my skrumpet skoon skeef sit. Watter professie, meen u, Metusalem?
Gods meul maal stadig oor elkeen se beskeie bydrae.
“The Moving Finger writes; and, having writ,
Moves on: nor all thy Piety nor Wit
Shall lure it back to cancel half a Line,
Nor all thy Tears wash out a Word of it.”
Goed dan, laat sy wat ore het: “The life that you seek you never will find.”
he-hê-he
gedink jy kan my uitoorlê
in dié
geselskapkamer ‒ verlore
paradys (of biblioteek) vir
verlooptes