Hobie 16 Katamaran

  • 0

Hobie 16 Katamaran

As die seile slap lê, dan dring
daardie wieg van die water
deur die voorslaap, wanneer drome omring.
My oë sukkel tans teen die son se skater
op die oppervlak met die straleskyn
wat dui waar winde ruis of kwyn.
Pienk en rou vingerpunte trek
met toue die halwe wind in
om die fok- en grootseil te laat strek
en vul die hart met bewering
en spoed dat dit klots en spat
en die wind maak droog, en die golwe nat.
Maar onverkende kuste bly ’n skim,
nes Rhodos in sig. Hierdie kolos,
verhewe bo water: Nou moet jy klim
oor die rand, laat die aarde los,
strek uit die bene! Gryp die tou! Lig die kop agteroor!
Laat jou hande gaan! En die wind is al wat jy hoor.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top