Hipertekspoësie-kompetisie: Terugflits

  • 0

Onthou julle die Zephyr met sy reuse sitplekke sonder safety belts.
Die Zephyr sonder remme.
En kasterolie-bottels wat soos juwele in die geel son geglinster het,
die geroeste graaf wat spit en delf aan sy eie rou wond in die droë
grond. Rysmierbult, en ons heeldag in die bakkende son.
En die ou plaashuis wat so swaar gesug het tussen sy eie skarniere,
die vier winde het geloei soos geeste, die vensters in ’n duisend
stukkende skerwe soos sproeiers teen die wit lig. Onthou julle ...
die berge by Venterskroon wat soos ’n geëelte hand uitgestrek was,
Ons in die modder en die sinkbad en die bome en in die riviere en
tussen die grafte en in die huise en op die highway met die lamppale
wat verby flits-
flits-
Onthou julle.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top