"Hillbrow-blom" deur Renè Hvidsten

  • 0

Hillbrow-blom

By Hillbrow verby, stadsliggies gly oor my venster.
Siele wat dwaal deur die nag, betonstrate af,
verdwaalde mense.
Elkeen soekend na die waarheid hier diep in hulself,
maar waarheid wat vrymaak so lank reeds gedelf,
soos woorde in ’n vers: vasgevang en verlore soos ’n mot om ’n kers.

Vroue van die nag wat ure staan en wag in die strate.
Sien die skadu-figuur, versmelt teen ’n muur,
alleen verlate.
Met die draad in haar hand wat sy staan en vleg,
en rooi krale aan ’n band wat sy daaraan heg,
draai ek eers om, dan weg as sy sê: Kom kry vir jou ’n Hillbrow-blom.

Koor:
O liefde groei in blomme, krale vol in bloei.
In Hillbrow se strate staan blomme verlate,
Kom kry vir jou ’n Hillbrow-blom.

Straatligte helder, nes donker in ’n kelder verblindend.
Bakhandkinders wat eis, so vlugtig soos vlinders,
Gee dit.
Met ’n lem in die hand en ’n blom in sy bloed,
so jonk reeds volwasse en ’n straatkind se moed,
flits hy sy woede, as sy oë wild soek, jong seun van die Hillbrow-blom.

Koor:
O liefde groei in blomme, krale vol in bloei.
In Hillbrow se strate staan blomme verlate,
Kom kry vir jou ’n Hillbrow-blom.

Brug:
Hoe luid die sirene wat skreeu deur die nag
Waansinnige eggo’s wat honend hard lag
Jong kinders soos honde in ’n groep as hul draf
In Hillbrow lê blomme rooi op ’n graf

Hoor die kar se alarm as dit sag weergalm in die stilte.
Sien die skadu-figuur waar sy die verte intuur,           
krale op linte.
En die stem van my pa deur die jare gedra,
my kind, sonder genade, was die vrou dalk jou ma,
so hoor sonder oordeel as sy jou vra: Kom kry vir jou ’n Hillbrow-blom.

Koor:
O liefde groei in blomme, krale vol in bloei.
In Hillbrow se strate staan blomme verlate,
Kom kry vir jou ’n Hillbrow-blom.

O liefde groei in blomme, krale vol in bloei.
In Hillbrow se strate staan blomme verlate,
Kom kry vir jou ’n Hillbrow-blom.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top