In my vorige skrywe het ek na Hilary Spurling se boeke oor Henri Matisse verwys (SêNet 23 deser). Terwyl sy hierdie skilder se lewe nagevors het, het sy op inligting oor iemand anders afgekom wat interessant gelyk het omdat dit so vergesog is. Soos dit 'n goeie outeur betaam, het Spurling na voltooiing van haar Matisse-teks (skynbaar) verdere navorsing oor hierdie persoon gedoen en haar aan die vergetelheid ontruk deur 'n boek te publiseer: La Grande Thérèse: The Greatest Swindle of the Century (London: Profile Books, 1999/2006, 144p). Ek moet noem dat dit vir my as leser nie altyd maklik was om die ingewikkelde familiebetrekkinge te ontrafel nie.
As 'n mens hierdie boek lees en daarna na die twee boekdele van Spurling se Matisse-biografie teruggaan, vind jy dat baie van die inligting wat in die Thérèse-boek staan (en soms meer as dit) reeds daar voorkom. "When I came to write the first volume of my biography, I had to fight so hard to relegate Thérèse to a minor role that, once it was finished, I felt I owed her a book of her own" (Kindle 980). Hier en daar is 'n verandering aangebring, bv dat Thérèse 14 jaar oud was toe haar ma in 1871 oorlede is en nie reeds in 1867 toe sy net 11 was nie.
Spurling het lofwaardige navorsing en dokumentering oor Matisse gedoen. Sy verdien dus om die maksimum voordeel uit haar arbeid te trek. In werklikheid het sy egter die aanvanklike tweedelige biografie gemelk om daarna 'n verkorte biografie in een band te publiseer, asook hierdie kort boek oor Thérèse, wat uiteraard hierdie mens duideliker belig omdat haar lewensverhaal nie deur Matisse-inligting oordonder word nie.
Die newetitel van die boek is oordrewe en waarskynlik 'n uitgewersfoefie, hoewel 'n regsgeleerde wél met hierdie woorde na die Humbert-saak verwys het. Uit Spurling se navorsing blyk dat Thérèse se lewe 'n klassieke geval is waarin die werklikheid meer boeiend as fiksie is. Die outeur noem dat dit nie nodig was om in enige opsig feite te versin of aan te dik nie: "La Grande Thérèse may read like a fairy tale but I have invented nothing. The facts laid out here, together with every word of dialogue, come from contemporary sources" (K 998)
Die hoofkarakter, Thérèse Daurignac (gebore in 1856), later Humbert, se beste vriendin, Catherine Fuzié, was agt jaar ouer as sy. Catherine het met Armand Parayre getrou. Hulle oudste kind, Amélie, het in 1898 met Henri Matisse getrou. Dit verduidelik waarom Spurling tydens haar Matisse-navorsing van Thérèse se bedrywighede bewus geword het. Die Matisse-konneksie word ook vindingryk vir reklamedoeleindes op die boekomslag gebruik deur dit met 'n kleurafdruk van 'n Matisse-skildery te versier: "Woman with the Hat" (1905) beeld Matisse se vrou uit wat na hulle huwelik 'n hoedewinkel in Parys gehad het. Deur hoede te verkoop, het sy die wolf van die deur gehou, want in daardie stadium was hulle brandarm omdat Matisse toe nog nie as skilder bekendheid verwerf het nie.
Thérèse was die oudste kind in 'n arm familie in Aussonne, naby Toulouse, in die suidweste van Frankryk. Haar pa, Guillaume Auguste Daurignac (1801-1886), was 'n buite-egtelike kind. Hy is as 'n baba in Toulouse se kerktoring gevind. Omdat sy agtergrond so bedenklik was, het hy vir hom 'n romantiese voorgeslag versin. Hy het naam as 'n waarsêer en towenaar verwerf. Eers in 1852 is hy met die baie jonger Lucie Rosa Capella, wat ook 'n buite-egtelike kind was, getroud. Na haar biologiese pa se afsterwe het Lucie 'n duisend frank ontvang, waarmee sy 'n plaashuis gekoop het. Sy het 'n verband op die huis uitgeneem en 'n winkel wat onderklere verkoop in Toulouse geopen.
Na die geboorte van ses kinders het Lucie in 1871 gesterf. "Over the next few years the family's situation went from bad to worse. Auguste Daurignac withdrew into himself, sunk in fantasy, ignoring creditors or fending them off with talk of unspecified legal documents in a locked chest and, failing that, with the threat of magic powers" (K 99). Die veertienjarige Thérèse het noodgedwonge die huishouding en die versorging van haar vyf sibbe oorgeneem. "Thérèse fed the children, mothered the baby, and kept everybody's spirits up with her tall stories" (K 114). "Thérèse's stories offered a romantic future in which they would all end up rich" (K 123).
Sy was nie danig mooi nie, maar het oor groot verbeeldingskrag beskik. In daardie tyd en omgewing was daar min geletterde mense en nog geen radio, rolprente en televisie om vir vermaak te sorg nie. Sy het haar verbeel dat haar pa 'n graaf, Comte d'Aurignac, was, dat hulle oor 'n fortuin beskik en in 'n kasteel, die Château de Marcotte, gewoon het. Dekades lank het sy hierdie fantasie geleef. "It was a fairy-tale outcome for an uneducated village girl born at the bottom of the social heap, with her imagination as her only capital" (K 61). Haar verbeelding, wat sy aan haar pa te danke gehad het, het ook op hom ingewerk. Later het Auguste Daurignac homself inderdaad Comte d'Aurignac genoem.
Thérèse het as kind haar vriendinne oorgehaal om hulle juweliersware bymekaar te gooi. "People will think I've got bags of jewels, if I change them often enough" (K 131). Sy het voorgegee dat sy te skaam is om klavier voor gaste te speel en het dan iemand anders in die vertrek langsaan laat speel, waarna sy vir die applous haar opwagting met 'n buiging gemaak het. Dit alles het voortgevloei uit haar "love of make-believe and mystification" (K 134); dus uit haar "showing off and her childish lies" (K 138). "Thérèse was following in the footsteps of her father, who had returned to his old dreams of a noble ancestry and a lost heritage, claiming to have proofs of both in the chest full of yellowing parchment" (K 138).
Hulle groot erflating het na bewering van 'n afgetrede onderwyseres, 'n peetmoeder of 'n ryk Nederlandse tante gekom. Daar was ook sprake van 'n erflating in Portugal. Op grond hiervan het Thérèse hulp vir haar en haar gesin gebedel. "I'll pay you as soon as I get my inheritance ... Thérèse was seventeen when she announced her engagement to the son of a Bordeaux shipping magnate, explaining in floods of tears that it was a loveless match she must force herself to go through with in order to honour a pact made in her infancy between their two fathers. She wept so piteously that it was only after an elaborate trousseau had been ordered, made to measure, and delivered to Aussonne, that the Toulouse shopkeepers slowly realized they had been diddled once again" (K 168).
"Bankruptcy could no longer be staved off. By 1874 the family was in the hands of the receiver, their house sold and its contents repossessed" (K 172). Hulle het na Toulouse uitgewyk. Die twee oudste seuns het daar werk gekry, die jongste seun is in 'n kerkskool en die dogters in 'n akademie geplaas. Die skoolrekenings is selde betaal. Hulle het in 'n goedkoop losieshuis gewoon. Vir Thérèse was dit "humiliation and defeat" (K 185).
Thérèse se ma se halfsuster, Marie-Emilie Thénier, was 'n bediende en het met Gustave Humbert (1822-1894) getrou. Hy het 'n professor in die regte aan die Universiteit van Toulouse en later 'n parlementslid geword. Hulle seun, Frédéric (gebore in 1857), het in 1878 met Thérèse getrou. Hulle het hulle in Parys gevestig en 'n kind, Eve (gebore in 1880), gehad. In Parys "Thérèse adapted effortlessly to the social showmanship" (K 364). Haar broer, Emile, het tydens dieselfde seremonie met Frédéric se suster, Alice, getrou. Hy het Gustave se private sekretaris geword. Armand Parayre, die vader van die latere Amélie Matisse, was met Thérèse se beste vriendin, Catherine, getroud. Hy was aanvanklik 'n onderwyser, maar het mettertyd die redakteur van 'n koerant geword wat aan die Humberts behoort het.
Dit is hierdie onderlinge verbintenisse tussen Thérèse en al hierdie mense maar veral haar skoonpa Gustave wat die "sukses" van Thérèse se verbeeldingsvlugte dekades lank onderskraag het; veral nadat Gustave in 1882 as minister van justisie aangestel is. "Whenever the real world fell to pieces around her ears, she took refuge in her dream castles" (K 239). "She lied as a bird sings" (K 306). Dit is Gustave wat die toekenning van drie verbandlenings op die Château de Marcotte, Thérèse se verbeelde kasteel, bewimpel het. Daar is ook gepoog om 'n verband op Sabatou-Blancou, 'n Portugese landgoed wat sy na bewering in 1877 van 'n Amerikaanse miljoenêr, Robert Henry Crawford, geërf het, te kry. Crawford was glo haar ma se vriend en haar biologiese pa. Later het beleggers geld aan Thérèse geleen met Sabatou-Blancou as sekuriteit.
Die Humberts en veral Thérèse was in Parys vanweë hulle "fabulous wealth" bekend (K 368). Banke en ander sake-ondernemings het met groot geneentheid lenings aan haar toegestaan. Sy het 'n groot bedrag van hierdie geleende geld by 'n bank in Toulouse gaan deponeer met dié storie: "It was the revenue from her Portuguese cork oaks" (K 380). In Narbonne het die Humberts in 1883 werklik 'n kasteel gekoop: die Château de Celeyran wat aan die skilder, Henri Toulouse-Lautrec (1864-1901), se familie behoort het.
Vir haar broer Louis het Thérèse eiendom in Tunisië gekoop. Haar luukse vierverdieping huis in Parys was ook as "The Château" bekend, onder meer vanweë "the sumptuous extravagance of her lifestyle" (K 434). Henri Matisse en Amélie Parayre het uit hierdie huis getrou. Op die Seine-rivier het die Humberts 'n seiljag gehad. "Three successive presidents of the republic, and at least five prime ministers were Madame Humbert's personal friends" (K 443). Talle ander hoëlui het haar partytjies en onthale bygewoon, insluitende die aktrise Sarah Bernhardt (1844-1923) en die skrywer Emile Zola (1840-1902).
"But beneath all the charades, the castle rituals, and ceremonies lay an uglier reality" (K 526). Een van Thérèse se broers, Romain, word daarvan verdink dat hy twee moorde gepleeg het om die Humbert-kaartehuis in stand te hou. Nadat hy justisie-minister was, het Gustave Humbert die visepresident van die senaat geword, in 1889 'n regter in die hooggeregshof en in 1890 die hoofregter in die ouditeringkantoor. Vier jaar later is hy oorlede, maar sy aansien het onaangetas gebly. Sy "involvement in the affair that bears his name has never ... been closely examined" (K 988). Die rede hiervoor is dat die Franse regering nie kans gesien het vir nog skande na die Dreyfus-aangeleentheid (SêNet 29.06.2012) omstreeks dieselfde tyd nie.
Die Humberts se koerant is in 1895 gesluit. Probleme het egter eers werklik begin kop uitsteek toe 'n handelsbank gelikwideer en daar ondersoek ingestel is. Thérèse kon later geld te leen kry slegs as sy die hoogste rentekoers in Frankryk aangebied het. Die Humberts het in 1893 met 'n spaarbankonderneming begin om geld te genereer. Armand Parayre is as bestuurder aangestel. "A glossy advertising brochure headed by pictures of the Pope and President Paul Kruger of South Africa" is gepubliseer om vertroue in die spaarbank te wek (K 686).
"The end came with a simple request from the appellate judge for the permanent domicile of the elusive Crawford brothers" wat skynbaar die finansiële welstand van die Humberts verseker het (K 788). Thérèse het die eerste adres in New York City waaraan sy kon dink, verstrek. Maar dit het geblyk dat geen Crawfords by daardie adres is nie. "The judge signed an order ... for the strongbox [wat glo stawende dokumentasie vir die Humberts se rykdom sou bevat] to be opened" (K 792). Daar was niks van belang in die kluis nie. 'n Klag van bedrog is toe gelê, maar Thérèse en haar familie het intussen verdwyn. In hulle soektog na leidrade is Matisse se ateljee en sy vrou se hoedewinkel deur die polisie deursoek.
Die Humberts het ses maande lank in Madrid, Spanje, geskuil voordat hulle opgespoor en na Parys teruggebring is. In 1903 is Thérèse, haar broers Emile en Romain en haar man verhoor. Sy en haar man is elk tot vyf jaar eensame opsluiting gevonnis, Emile tot twee jaar en Romain tot drie jaar. Sy was 52 en haar man 51 jaar oud toe hulle in 1908 vrygelaat is. "Nothing more was ever heard of either of them" (K 946). Hulle sterfdatums is dus onbekend. 'n Joernalis het Thérèse verontskuldig deur te skryf: "Madame Humbert was only trying to give herself a little of that illusion which is essential to cover up the miseries of existence" (K 960).
Thérèse se vriendin, Catherine, wat so baie vertroue in haar gehad het, het na die hofsaak nooit herstel nie. Sy is in 1908 oorlede, "long before the world conceded that her son-in-law [Henri Matisse] was a genuine magician after all" (K 955). Gelukkig was Matisse en sy vrou nie deel van die bedrogspul nie, maar dit verklaar dalk waarom hierdie skilder altyd lugtig was om sy persoonlike sake bekend te maak.
Die les wat 'n mens uit Thérèse se lewensverhaal kan put, is seker dat misdaad nie loon nie. As ek so om my in die nuwe Suid-Afrika kyk, wonder ek soms in watter mate dit steeds geld.
Johannes Comestor


Kommentaar
Die illustrasie toon Therese regs en haar man links. Dit is 'n spotprent wat na aanleiding van die Humberts-verhoor gepubliseer is. In die teks hierbo verwys ek na 'n Matisse-skildery wat op die omslag van ander uitgawes van die boek verskyn.
Johannes Comestor