Titel: Work diva – how to climb the corporate ladder without selling your soul
Outeur: Kim Meredith
ISBN: 9781770200838
Prys: R119.96
Om ’n handleiding tot korporatiewe sukses in hierdie tye ernstig op te neem is bietjie soos om ’n seksgids te besigtig terwyl jy in ’n klooster woon. Want Work Diva is een van die honderde duisende titels wat die afgelope dekade verskyn het om te vertel hoe die professionele individu sukses in die werkplek kan behaal en terselfdertyd ’n beter mens vir hom- of haarself kan wees, asook om die respek van sy kollegas te in te win en gesag af te dwing.
Die vraag is natuurlik: Waarom is die wêreld tans in so ’n ekonomiese gemors as hierdie boeke oor selfhulp in die sakewêreld so driftig verskyn en in hul miljoene verkoop word? Is daar ’n korrelasie tussen dít wat in hierdie soort boeke geleer word en die feit dat die ineenstorting van die wêreldekonomie voor die deur van swak en oningeligte korporatiewe base gelê kan word?
Die goeie nuus is egter dat Work Diva nie veel tot die verdere verswakking van die gehalte van sakevernuf gaan bydra nie, omdat dit bra basies en eenvoudig is. Die boek is geskryf deur Kim Meredith, ’n Suid-Afrikaans sakekonsultant wat volgens die omslag in internasionale kringe gerespekteer word.
Sy bring egter nie haar gesag na hierdie boek nie. Ek is tans besig met die onderrig van eenvoudige sakekennis onder Graad 11-leerlinge, en die meeste van hulle sou hul oë rol as een van Work Diva se hoofstukke vir leeswerk aan hulle gegee moes word.
Die titel mag vele verwagtings wek, veral onder vroue in die sakewêreld wat steeds onder die uitgediende gedagte verkeer dat hulle in ’n swakker posisie as hul manlike eweknieë is. Die skrywer spel hier ’n paar trappe uit oor hoe die vrou daardie korporatiewe leer kan klim en saam met die ander susters bo kan uitkom.
Hoe hanteer die Work Diva byvoorbeeld haar rol as moeder? Hoe kan vroue hul gemeenskaplike kennis en ervaring van vrouwees gebruik om saam te staan en sodoende hul kollektiewe invloed op die sakewêreld uit te voer? Die mag van kennis en mentors, als geskraap uit Google en ander artikels. Hierdie stof is nie uitdagend, insiggewend of verhelderend nie – maar daar is oorgenoeg vrouetydskrifte wat jou op ’n weeklikse basis vertel hoe om nie ’n slagoffer van stereotipering te word nie.
Inligting oor kommunikasie is altyd welkom, en aangesien die professionele vrou se hoofklagte die bewering is dat “niemand na my luister nie”, sou geen Work Diva volmaak wees sonder ’n paar wenke oor kommunikasie nie. Weer eens is dit bietjie Business for Dummies-stof. Hoe om te luister. Jou punt oor te dra sonder om as te opdringerig gesien te word. Lyftaal. Ens.
Dinge wil-wil warm begin raak wanneer die kwessie oor seks in die werkplek bespreek word. Daar was hier ’n welkome gebrek aan histerie en paranoia rondom seksuele teistering, wat verrassend was, want jy kan deesdae op kantoor nie eers vir ’n vroulike kollega op die formaat van haar borste komplimenteer nie, of sy hol na die baas en beskuldig jou van teistering. Kim Meredith is heel sober hieroor, en insinueer dat vroue darem slim en bemagtig genoeg behoort te wees om nie hulle manlike kollegas uit te lok nie.
Die algehele ligte trant van die boek eindig met lyste van musiekitems, boeke en flieks wat die vrou beter kan laat voel in daardie “af” tye.
Die feit dat Work Diva vir niks anders as ligte leesstof bedoel is nie, word onderstreep deur die feit dat gewigtige items – soos regstellende aksie oor die kleurgrens – glad nie geraak word nie. Asof die Work Diva, wat Sex and the City kyk en Cosmopolitan lees, nie haar hande wil vuilmaak met die harde realiteite van die hedendaagse sakewêreld nie.

