Fanie Olivier is een van ’n groep skrywers wat Pretoria-PEN wil herkonstitueer. Hieronder is sy motivering en ’n oproep aan skrywers om aan te sluit.
Sondag 4 Desember 2011
Hallo aan almal van julle
Herkonstituering van Pretoria-PEN: Oproep aan skrywers om aan te sluit
Hierdie brief is aan die langerige kant (jammer daaroor), maar dis miskien belangrik in die lig van die feit dat Dan Roodt onlangs in ‘n fietsryverslag in Rapport na homself verwys het as die nuut-herverkose president van “Pretoria-PEN”. Hy het ook ’n nuwe webwerf vir sy vereniging geloods en het nou begin met ’n veldtog om lede te werf vir "Pretoria-PEN".
En as jy hierdie brief meer as een keer ontvang, Fanie se persoonlike "jammer". (Hy het sy Outlook Express [en die adreslys] verloor en bedel nou orals adresse af.)
Pretoria-PEN is in 2006 deur die internasionale PEN erken. Dit dien as ’n sentrum vir alle Afrikaanse skrywers orals, en die naam is destyds voorgestel deur die sekretariaat van PEN International.
Pretoria-PEN was vir baie jare na 2006 dormant, het geen jaarvergaderings of bestuursvergaderings gehou nie. Dan Roodt, wat in 2005 tot president verkies is, het hom egter deurentyd as president voorgehou. Daar was geen grondwet wat ooit deur ’n jaarvergadering aanvaar is nie.
In Oktober het Pieter Haasbroek, John Miles en Fanie Olivier begin om ander lede op die webwerf se ledelys se mening te toets oor ’n voorstel om die sentrum op ’n verantwoordelike en deursigtige manier te herkonstitueer nadat ’n uitgebreide ledeveldtog van stapel gestuur is. Daar was uiteindelik 33 mense op die lys wat ons kon opspoor en 27 wat op die briewe gereageer het. ’n Voorstel in hierdie verband is deur die oorgrote meerderheid van die destydse lede aanvaar.
Dan het geweier om die voorstel te aanvaar, en het voortgegaan om in alleryl ’n "jaarvergadering" te hou op 18 November in Pretoria.
Nuwe lede het skielik opgeduik, volmagte is links en regs ingevorder, en mense is vir die bestuur genomineer deur mense wat nie die vergadering bygewoon het nie. Ten spyte van al die doenighede het net vyf mense daardie vergadering bygewoon, genoeg om volgens Dan ’n kworum te vorm om ’n Afrikaanse skrywersliggaam te vorm en ’n grondwet aan te neem. Van daardie vyf was net Dan en Karin Roodt ooit lede wat deur ’n bestuur goedgekeur is. Die drie ander mense wat die kworum help vorm het, was Andre Alkema, Ben Pieters en Christo Pretorius. Dit is op grond van hierdie vergadering dat Dan beweer dat hy herverkies is as president.
Op die oomblik is die "Pretoria-PEN" waarvan Dan skryf, dus net sy eie skepping na aanleiding van die "jaarvergadering" waar vyf mense teenwoordig was. Die grondwet is sy grondwet.
International PEN sal uiteindelik later moet besluit watter groepering werklik verteenwoordigend is en internasionale erkenning geniet. Ons het reeds aan die PEN-moederliggaam oor die situasie geskryf.
John, Fanie en Pieter het intussen in die lig van die voorstel voortgegaan met die proses om Pretoria-PEN te herkonstitueer. Daar is op die oomblik geen grondwet nie, en gevolglik geen bestuur of voorsitter nie. As gevolg van die feit dat die sentrum die laaste klompie jare geen jaarvergaderings gehad het en geen nuwe bestuur gekies het nie, moet ons onsself weer van voor af organiseer.
Daarvoor word ’n vergadering vroeg volgende jaar gereël, waar almal wat aangedui het dat hulle lede van die vereniging wil wees, ’n grondwet sal goedkeur en ’n bestuur gaan verkies. Ons wil so gou moontlik met die reëlings begin en daarvoor sal die mense op die nuwe ledelys binne ‘n week of so ‘n komitee moet kies. Dit is daarom belangrik dat ons so gou moontlik van almal hoor wat wil aansluit.
Dit is nogal ’n oomblik van waterskeiding vir die Afrikaanse skrywers, want ek weet (en Dan weet dit ook) dat PEN nie twee Afrikaanse sentrums/takke sal erken nie. As Dan praat van ’n Afrikaanse Kaapse tak, is hy besig om iets voor te hou wat nie kan materialiseer nie. Daar kan net een Afrikaanse PEN in Suid-Afrika wees, en daardie sentrum se naam is op die oomblik Pretoria-PEN. Natuurlik kan die hergekonstitueerde sentrum se lede die International PEN vra om ’n naamsverandering goed te keur.
Die werf van lede word op die oomblik behartig deur Pieter Haasbroek (pieter.haasbroek@telkomsa.net), John Miles (milos@hantam.co.za) en Fanie Olivier (olivierf@mweb.co.za). Ons poging is om werklik ’n verteenwoordigende stem van die Afrikaanse skrywers te skep, ’n ruimte waarbinne almal hulle sal tuisvoel. Om moontlike verwarring op die oomblik te voorkom, noem ons die vereniging voorlopig die Afrikaanse PEN-proses, maar die idee is natuurlik om by die vergadering onsself as Pretoria-PEN te konstitueer.
Die drie van ons sal hierdie proses so deursigtig moontlik hanteer. Aansoeke moet na al drie van ons gestuur word, en ons sal binne ’n dag of twee reageer en almal op hierdie poslys inlig oor wie aanvaar is. Nuwe mense se name word dadelik tot die poslys toegevoeg. Indien ons iemand uitsluit, sal so ’n persoon die reg hê om direk na Nicol Stassen te appelleer, om te voorkom dat Dan dit weer as ‘n slenter uit die Suide afmaak.
Die grondvereiste is dat mense die PEN-Handves, wat in die aansoekvorm is, moet onderskryf. Voorlopig word lede toegelaat op grond van ’n paar kriteria, wat in die aansoekvorm verduidelik word. Die finale grondwet kan natuurlik anders bepaal, maar ons moet iewers begin.
Die aansoekvorm word hierby aangehak. Stuur dit asseblief so gou moontlik terug. En onthou asseblief om die aansoekvorm deur te gee aan almal wat sou belangstel om eventueel lid te word van ’n Pretoria-PEN.
Groetnis
Fanie, John en Pieter