
Remona Voges en die Mystic Boer-logo. Foto’s: verskaf
It was the best of times, it was the worst of times, it was the age of wisdom, it was the age of foolishness, it was the epoch of belief, it was the epoch of incredulity, it was the season of Light, it was the season of Darkness, it was the spring of hope, it was the winter of despair, we had everything before us, we had nothing before us, we were all going direct to Heaven, we were all going direct the other way. (Charles Dickens)
Terwyl ek terugdink aan my studentejare, neem sensoriese snapshots my terug na ’n tyd toe die lewe eenvoudiger was en die wêreld anders. Maak jou oë toe, dalk kan jy dit ook byna hoor – die polsende ritmes van Die Mystic Boer aan die onderkant van Victoriastraat in Stellenbosch. Luister mooi na die gekraak van deurgetrapte houtvloere, die gegons van gesprekke gemeng met plaaslike bands en platejoggies se eklektiese wysies. Die musiek is nie net agtergrondgeraas nie, dit is ’n dryfkrag, ’n pols wat die kollektiewe hartklop van sy inkommers sinkroniseer. Asem in en jy kan dit amper proe – die lug gevul met rook, asems en sweet. Maar dié legendariese instelling se ligte is op 14 Januarie 2024 finaal gedoof, die musiek is afgeskakel en die deure, saam met herinneringe aan my vervloë jeug, gesluit.

Die Mystic Boer in Stellenbosch. Foto: verskaf
Die Mystic Boer was nie net ’n kroeg en dansplek nie, dit was ’n hawe vir dié wat op soek was na die rou, ongetemde gees van die nag; ’n laboratorium waarin plesiersoekers pille en poeiers vrylik op die proef kon stel en hulself in ’n wêreld van chaos en losbandigheid kon begeef. Die atmosfeer was onpretensieus en die beknopte dansvloer ’n ruimte waarin die lewe se klein vreugdes gevier kon word en besoekers hulself sonder enige beperkinge van maatskaplike norme kon verloor óf vind.

Die bank langs die kaggel. Met Anske van Niekerk, Amy Taljaardt en Remona Voges. Foto: verskaf
Ek het in Mystics vir die eerste keer met die spel van hedonisme kennis gemaak. Dis waar ek vir die eerste keer ecstasy gedrop het – in ’n tyd toe almal se tonge blou gevlek was van Blue Ghosts al die pad uit Nederland. Dis waar ek my eerste (van ontelbare) meisies gevry het toe Mystics nog die unofficial gay bar van Stellenbosch was en daar maandelikse pink parties gegooi is.
........
Ek onthou die geklingel van glase – luidrugtiger as in van die Eikestad se lanier joints – ’n simfonie van kameraadskap en gedeelde oomblikke.
........
Laatnag-oefensessies by die Konservatorium het gereeld in impromptu kuiersessies op Mystics se stoep verander. Ek onthou die geklingel van glase – luidrugtiger as in van die Eikestad se lanier joints – ’n simfonie van kameraadskap en gedeelde oomblikke. Ek onthou hoe ek en my medemusiekstudente gekonkel en gedroom het oor die toekoms, sonder uitsondering met ’n yskoue Black Label in die een hand, ’n sny pizza in die ander. Daar is gedebatteer en gefilosofeer oor geloof en kuns; daar is bespiegel en geskinder oor wie deesdae vir wie naai; daar is geklets oor alledaagse dinge soos swottings, vakansies en braai. Dit is in oomblikke van besope gesprekke en kameraderie waartydens verbintenisse verdiep het en vreemdelinge tydelike bondgenote in hul nagtelike avonture geword het.

John Doe. Foto: verskaf
Ek dink terug aan die hitte van die kaggelvuur langs die fucked-up bank vanwaar jy stilweg die aand se jongste spektakel kon dophou. Vanaf dieselfde knus hoekie kon mens jouself vir ure vermaak deur die trappe (’n safety hazard of note) dop te hou. As jy ’n tequila moes drink vir elke mens wat van daardie einste trap af neergebliksem het, sou jy beslis op jou gesig val met die opstaanslag. Maar ’n gesig (jou eie of iemand anders s’n) en ’n val (op jou eie, of as jy ná toemaaktyd lucky was, ’n lover s’n) was sonder uitsondering deel van die Mystic-ervaring.

Dean Portway, Halloween. Foto: verskaf
Die partytjies by Die Mystic Boer was nie bloot sosiale byeenkomste nie, dit was hoofstukke uit ’n bundel uitspattige kortverhale met unieke karakters wat in die argiewe van Stellenbosch se naglewe geëts is. Soos die alombekende John Doe – ’n local wat een Oujaarsaand tragies in die Welgevondendam verdrink het. Rus in vrede, buddy. Daar was bouncers wat my broers geword het en bartenders wat saam met my koshuis toe gestap het. Daar was goths en gays, musos en muses, daggakoppe en dealers, foozeball-entoesiaste en poolspelers.

Tequila in oorvloed. Foto: verskaf
Selfs die drankseleksie was soos karakters uit ’n boek en het uiteraard vir die grootste deel van die aand se storielyn gesorg. Ek onthou Malpiet (’n vriend verwys na ’n “hele epidemie van los kinders” wat hierdie fenomeen genuttig het) en Bergiebombs (soortgelyk aan ’n Jägerbomb, maar met Black Label en OBS). Jose Cuervo was altyd ’n hoofkarakter en dikwels sommer so uit die bottel in gewillige monde geskink.
........
Mystics is simbolies van soveel meer as ’n fisieke ruimte, dit verteenwoordig die essensie van ’n era wat nou tot ’n einde gekom het – ’n plek waar verbintenisse gesmee is, memories gemaak is en die geesdrif van jeug gedy het.
........
Ek verlang skielik na stinkende sigaretrookspirale en natgeswete hare; na DJ Invisible, Mini en PH Fat; na die verweerde kroegtoonbank, geëts met merke van tallose kuiers, ’n stil getuie van stories wat daaragter, daarop en daaronder vertel is. Ek mis die gekke en dwase se digkuns wat geskryf is op deure, mure en glase; die mure vol Boereoorlog-plakkate.

George Provan. Foto: verskaf
Mystics is simbolies van soveel meer as ’n fisieke ruimte; dit verteenwoordig die essensie van ’n era wat nou tot ’n einde gekom het – ’n plek waar verbintenisse gesmee is, memories gemaak is en die geesdrif van jeug gedy het. Dis waar vreemdelinge kon verenig deur ’n gemeenskaplike liefde vir die magic wat oor jare tussen Mystics se mure ontvou het. Hunter S Thompson skryf die volgende oor San Francisco in Fear and loathing in Las Vegas:
Maybe it meant something. Maybe not, in the long run, but no explanation, no mix of words or music or memories can touch that sense of knowing that you were there and alive in that corner of time and the world. Whatever it meant.
Dieselfde kan van Die Mystic Boer gesê word. Totsiens, Mystics. Dankie vir die memories, die meaty music en die 100% goeie tye. Dis die einde van ’n morsige, pragtige era.

Die infamous Mystic Boer-stoep: Calvyn Steyn, Darius Erasmus en Remona Voges. Foto: verskaf

