
Foto: Annette Jacobs
Herinnering in kleur
Ek dink aan jou in skakerings
van turkoois en helder blou,
en my liefde is vrolik en rooi.
Ek onthou jou
in die lig van die volmaan
wat net-net agter die bome uitloer
en jou versilwer, sodat jy lyk
soos die pewter-beeldjie wat op die vloer
langs my verslete boekrak pryk.
My liefde vir jou was knus en mooi.
Die omtowerende landskap
het my na asem laat hyg
en ek was stomverbaas toe jy,
wat meestal oor alles swyg,
byna onhoorbaar fluister:
“’n stukkie ewigheid ... ek en jy.”
jou liefde was met vreugde getooi.
Noudat jy weg is
is my wêreld ontvolk
en ’n eensame, kleurlose plek.
Die maan het verdof
en die dae is bewolk
en my liefde is die kleur van trane.
maar wanneer ek dink aan jou,
word alles weer helder rooi
... en turkoois
... en blou.

