Die afgelope naweek het die soveelste matriekklas-herenigingsgeleentheid, van ons trotse produkte van Hoërskool DF Malan (Bellville) plaasgevind. Aanvanklik was die gedagte daaraan om weer van die ou skoolmaats te sien, baie aanloklik. Maar, dit was 5 jaar terug die geval; nie vandag nie.
Vyf jaar gelede het ons die eerste reünie gehou. Sommer ‘n heel dag lank. Een funksie net vir skoolmaters en ‘n tweede saam met die lewensmaters. Dit was beide bevrydend en komies om jouself aan die ander bywoners voor te hou. Om te sien dat die ander maters en materinne ook plooie en ponde bygekry het en andersyds, om die volwasse vroulike prag van een of twee skoolvriendinne so te waardeer, dat party van ons oopmond-stomgeslaan rondgestaan het! Die blote gedagte aan die onderwerp is steeds ‘n sensitiewe mynveld in ons huis.
Dit was toe en nou is nou.
Die behoefte om weer, en selfs ‘n eerste keer, die handvol skoolmaats te probeer beindruk met wie ons geword het van wat ons was; wel dit is nie daar nie. In terugblik kan mens aanneem dat die ongeveer 30% bywoningsgetal, ook daarvan ‘n aanduiding is. Na ‘n paar dekades se verloop is die gesigte van die meeste van die skoolmaats so min of meer herkenbaar. Soms ontgaan die naam, maar die beeld bly op ‘n manier staan. Dit is nou met hierdie beelde wat mens moet gaan hereniging hou. Ironies genoeg, is dit op enkele uitsonderings na, die skoolmaats wat nooit my vriende was nie, wat die geselligheid bywoon.
Dus, in wese gebeur die volgende: mens is deel van ‘n matriekklas van 250 plus in ‘n voorstedelike hoërskool. Na matriek en die skool se dinge, vertrek jy op jou lewensbootjie na waar die wind jou waai – of selfs waar jou seile vir jou gespan word. Tussentyds, behou jy ‘n twee-arm lengte vriendskap met ‘n handjievol van jou skoolmaats. Die verhoudings sukkel en sluk om aan die lewe te bly en met die onthou van ‘n verjaarsdag of wat, stuur jul deesdae darem ‘n sms, e-pos of boodskap op Gesigblad. Dan na 25 jaar op die lewenssee, is die geleentheidshawe op die horison. Die matriekklas, of almal wat gekontak kon word, kan vir ‘n naweek of aand saam kom ankergooi. Te kom kuier saam met mense wie jy glad nie ken nie; behalwe natuurlik vir die wasige beeld van herkenning.
Is dit dalk deel van ons mensies se behoefte aan behoort? Om te onthou waar ek vandaan kom en om myself op ‘n manier te meet aan die maatstaf van my tydsgenote. Of is dit om waarlik die spreekwoordelike stof van ou kennisse af te stof en moontlik vriendskappe te bou? My antwoord is voor-die-handliggend en uiteraard eenogig.
Die ou vriendskappe het met verloop van tyd wankelrig geraak. Party wat sterker was, is ongelukkig so verinneweer dat daar basies niks van oor is nie. My herenigingsdae is verby. Daar is nie verhoudings om by geleenthede te “reunite” nie. Ek “seil” dus voort met die hoop om by ‘n volgende hawe nuwe kennisse te maak wat hier-en-daar ‘n wedersydse vriend kan word; en moontlik, wie weet, is daar ander maters wat ook daar sal aandoen.
Hennie Fritz

