Die filosofie van Albert Camus (1913-1960) is maklik om te verstaan, onder meer omdat hy in groot mate eerder 'n literator was. Hy het formele onderrig in die wysbegeerte aan die universiteit in Algiers ontvang. Wanneer hy swaarde met uitgelese filosowe soos Jean-Paul Sartre (1905-1980) en Simone de Beauvoir (1908-1986) gekruis het, het Camus egter gewoonlik sleg tweede gekom, al is sy algemene oriëntasie myns insiens geestelik baie meer higiënies as die stoere Stalinisme van hierdie opponente. Sartre het gewag gemaak van Camus se "insufficient philosophical background" (Lottman, bron hieronder, Kindle 11115); selfs: "He had a little Algiers roughneck side, very good-for-nothing, very comical" (11204).
Toe eksistensialisme in die jare vyftig hoog in die mode was, het Camus se denke aansluiting daarby gevind. Literêre elegansie bring mee dat dit maklik is om sy geskrifte te lees. In hierdie proses versamel hy dan ook volgelinge, maar daar is 'n opvallende gebrek aan terminologiese vastigheid. Dit is maklik om aanhangers van bv vryheid te werf as elkeen self kan besluit wat dit behels en verantwoordelikhede nie ter sprake kom nie. 'n Kommunistiese lyfblad het dit soos volg gestel: Camus "is the 'philosopher' of the myth of abstract freedom. He is the writer of illusions" (13138).
Wat my belangstelling in Camus gewek het, is dat hy 'n Algeryn, 'n blanke Afrikaan soos ek, was. Algerië was sedert 1830 'n Franse kolonie. Meer as 'n miljoen blankes, afkomstig van veral Frankryk, Spanje en Italië, het hulle daar gevestig en die land ontwikkel. Toe dekolonisasie momentum opgebou het, is die buurlande, Morokko en Tunisië, albei in 1956 onafhanklik van Frankryk verklaar. Onafhanklikheid vir Algerië was egter problematies vanweë die substansiële blanke bevolking.
'n Soortgelyke situasie het hom in suidelike Afrika voorgedoen. Nyasaland en Noord-Rhodesië het as Malawi en Zambië albei in 1964 onafhanklikheid van Brittanje verkry. Suid-Rhodesië (in 1965 as Rhodesië eensydig onafhanklik verklaar) was egter meer ontwikkeld, veral danksy 'n gevestigde blanke bevolking. Dit het 'n langdurige oorlog en baie onderhandeling geverg voordat die land in 1980 as Zimbabwe onafhanklik geword het. In Algerië is daar ingelyks oorlog gevoer (1954-1962) voordat die land onafhanklik geword het. Lees gerus Alistair Horne se aangrypende boek, A Savage War of Peace (London: Macmillan, 1996, 608p), oor die Algerynse oorlog en let op die talle ooreenkomste met die "bevrydingsoorloë" in Kenia, Zimbabwe, Namibië en Suid-Afrika.
Wat die Algerynse situasie anders as dié van bv Rhodesië gemaak het, was dat die koloniale moondheid, Frankryk, naby was (oorkant die Middellandse See) en daar aanvanklik gehoop is dat Algerië as 'n integrerende deel van Frankryk bestuur kon word. Hiervan wou die Arabiese meerderheid, wat die land in die 7de eeu beset het, niks weet nie. Die groot onreg wat meer as 'n miljoen blankes in 1962 met onafhanklikheid aangedoen is, word meesal nie gereken nie. Daar was 'n massa eksodus. Net enkele duisende wittes het in die land oorgebly. "Political violence kills about 15 Algerians every day. Foreigners, Jews and Christians are singled out by the radical Armed Islamic Group, many of whom are teenagers" (The Dorling Kindersley World Reference Atlas, 1995, p 61).
Dit is nie die eerste keer dat ek oor Camus skryf nie. Voorheen het ek oor sy roman, La Peste (1947), geskryf en daarop gewys dat die pes wat hy beskryf allegories bedoel is (SêNet 7 Maart). As jong man in Algiers het Camus by die kommunistiese party aangesluit (1935-1937), maar is weldra uitgeskop. As volwassene het Camus meesal in Frankryk gewoon en veral met linkses geassosieer. Maar wanneer die Algerynse vraagstuk ter sprake gekom het, kon hy hom nie versoen met die "maklike" oplossing dat die blankes moet skoert nie.
Camus is in die fleur van sy lewe in 'n motorongeluk dood. Hy was bekend en selfs beroemd, veral sedert die Nobel-prys vir letterkunde in 1957 aan hom toegeken is. Tydens sy lewe is daar heelwat onakkuraathede oor hom geskryf, onder meer vanweë sy gereserveerdheid (pudeur) oor sy persoonlike sake. Na sy skielike dood is daar spoedig talle biografieë gepubliseer, eweneens met heelwat mistastings. Ek het 'n boek van Tony Judt (1948-2010) gelees waarin hy kant vir Camus teen Sartre kies. Judt was 'n historikus en 'n kenner van veral Franse kultuur. Op sy aanbeveling het ek Herbert Lottman se Albert Camus: A Biography (Corte Madera: Gingko Press, 1979/1997, 848p; Amazon Kindle $15.49) gekoop.
Lottman se ideaal was om 'n biografie soos dié van Richard Ellmann (1918-1987) oor James Joyce (1959) te lewer. Het hy daarin geslaag? Nie eintlik nie, al is hierdie boek die merkwaardige resultaat van ondersoekende joernalistiek. Lottman het Camus nie persoonlik geken nie. Daarom skryf hy: "Sometimes the biography of an author can seem like a banquet from which the guest of honor is absent" (326).
Camus was as 'n rokjagter bekend. "Tuberculosis had made him exceptionally virile" (1740). Hy het deurgaans behoefte aan die teenwoordigheid van iemand gehad. Camus "needed constant companionship" (8574) maar hy "could never stand the company of more than four or five persons at a time" (10386). "He wanted his friends to visit, to reduce his feeling of isolation" (10600).
Lottman se "refusal to trade in sensation" (228) is oënskynlik heeltemal aanvaarbaar. Hy beweer Camus se tweede vrou, Francine (gebore Faure, 1914-1979), het haar samewerking onvoorwaardelik ("no strings attached," 204) gegee. Haar suster, Christiane, het ook hartlik met Lottman saamgewerk, maar blykbaar nie Camus se tweeling, Catherine en Jean (gebore in 1945), nie. In die teks word net positiewe opmerkings oor Francine gemaak en Camus se flirtasies word dermate geïgnoreer dat die leser geen duidelike beeld van bv sy gesinslewe kan vorm nie.
My hipotese is dat die Faure-susters wel voorwaardes vir hulle samewerking gestel het en/of dat Lottman hulle gevoelens te veel in ag geneem het. (Hierdie boek het in dieselfde jaar as Francine se dood verskyn, maar die Franse vertaling is 'n jaar vroeër gepubliseer.) Dit is 'n verskynsel wat hom telkens by die skryf van biografieë voordoen. Die biograaf wil oor 'n dooie skryf en die enigste manier hoe dit doeltreffend gedoen kan word, is as hy die samewerking van agtergeblewe naasbestaande kry wat beheer oor die dokumentasie uitoefen. Oor die dooie kan vryelik geskryf word, maar lewendes kan voorwaardes stel en hofsake aanhangig maak. Vergelyk bv die soortgelyke geval van Laurie Lee (SêNet 25 Junie).
Die beste aanduiding van Camus se gedrag word in die volgende sin gegee: "He had been anything but a family man" (207). Elders skryf Lottman van Camus "who had been taking his women for granted" (4190). Francine se depressie en selfmoordpogings word in ander bronne aan Camus se buite-egtelike verhoudings toegeskryf. "He was not then or ever prepared to give up the way of life which could have been the primary cause or one of the principal causes of the trouble" (11500).
Lottman kla tereg dat latere skrywers sy oorspronklike navorsingsresultate plunder, maar sy versuim om oor 'n belangrike aspek van Camus se lewe te skryf, het ruimte vir verdere boeke gelaat, bv Olivier Todd se Albert Camus: A Life (1997), wat oor hierdie "obsessive womaniser" handel. Met die aktrise Maria Casares (1922-1996) het Camus 16 jaar lank 'n verhouding gehad. In haar outobiografie (1980), wat fatsoenlikheidshalwe eers kort na die dood van Francine gepubliseer is, het sy daaroor geskryf.
Camus het sy pa nooit geken nie. Hy is in 1914 in die slag van Marne tydens die Eerste Wêreldoorlog dood. Camus het saam met sy ma, haar ma en sy ouer broer, Lucien (gebore in 1910), in 'n arm woongebied in Algiers grootgeword. Albei hierdie vroue was ongeletterd. Sy ma was van Spaanse afkoms. Dwarsdeur sy lewe het Camus 'n sagte plekkie vir Spanje en Spanjaarde gehad. Tydens die Spaanse Burgeroorlog (1936-1939) het hy hom aan die kant van die kommunistiese republikeine teen Franco se fasciste geskaar. In sy woongebied het Camus heelwat met Moslems te make gehad. (Ek hou nogal van die uitdrukking "Arab telephone," wat "word of mouth" beteken - 870.)
In Algiers het Camus skoolgegaan en aan die plaaslike universiteit studeer. 'n Belangrike keerpunt was toe tering in 1930 by hom gediagnoseer is. Voordat ek Lottman se boek gelees het, het ek nie besef in hoe 'n mate Camus se lewe deur hierdie siekte oorheers is nie: "All his life Albert Camus would be handicapped by his tuberculosis" (1202). Hy moes bv onmiddellik ophou om sokker te speel en is van militêre diensplig vrygestel. Hy kon ook nie as onderwyser aangestel word nie. Tog het hy voortgegaan om te rook en te drink; ook te swem en te dans. In Algiers het hy privaat onderrig aan studente gegee, joernalistieke werk gedoen en toneel gespeel. In 1934 is Camus met die dwelmverslaafde Simone Hié (1914-1970) getroud. Nadat die huwelik misluk het weens ontrouheid aan albei kante, is Camus in 1940 met Francine getroud.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) het Camus joernalistieke werk in Frankryk gedoen, maar daar was 'n onderbreking in 1941-1942 toe die egpaar in Oran, Algerië, gewoon het. Camus het veral bekendheid vir sy skryfwerk in Combat verwerf,wat versetteen die Duitse besetting van Frankryk behels het. Maar daarmee het hy eintlik eers in September 1943 begin, dus 'n jaar voor die ontsetting, na 50 maande, van Parys. Van November 1943 af het hy ook werk by die uitgewery Gallimard gedoen.
Die wysbegeerte van Camus word veral met die begrip van absurditeit geassosieer. Hier vind hy eerder by Franz Kafka (1883-1924) as Soren Kierkegaard (1813-1855) aansluiting. Camus is "our Kafka without dreams" genoem (8427). Camus kies die lewe bo selfmoord en nihilisme. "Camus continues to think despair, even to write it; but he lives hope" (2367). 'n Mens kan ten spyte van die immer naderende dood gelukkig wees. "It's worth the pain to be born and to grow up" (10568). 'n Mens se lewe word waardevol in die mate waarin jy daarin slaag om self sin daaraan te gee. Hier kom Camus die naaste aan outentieke eksistensialisme, soos deur bv Sartre geformuleer.
Camus: "To accept the absurdity of everything around us is a step, a necessary experience: It must not become an impasse. It provokes a revolt which can become productive. An analysis of the notion of revolt can help to discover notions capable of restoring a relative meaning to existence" (8176).
"Christianity is pessimistic about man and optimistic about human destiny, Marxism pessimistic concerning destiny and human nature, optimistic about the march of history. 'I shall say that, pessimistic as to the human condition, I am optimistic about man'"(8066). In die Manchester Guardian is Camus se standpunt beskryf as "the authentic voice of God, without the help of God" (10481). Camus: "'I feel closer to Hellenism. ["Greece ... the source of Mediterranean civilization," 11955.] And, within Christianity, closer to Catholicism than to Protestantism.' And he felt distant from the Bible because of its 'antinaturalisme'" (10810).
Camus: "Man is not only a social being ... At least his death belongs to him. We are made to live for others. But one really dies only for oneself" (8187). Camus het op 'n meesterlike manier sulke mooi klinkende sêgoed uitgedink, dikwels met verwysing na moord, selfmoord en die dood, maar hulle skiet dikwels tekort aan rasionele inhoud.
"Concerning European pessimism (life is tragedy) and American optimism (life is marvelous), he felt that a synthesis was necessary" (8705).
"Man's true destiny was in fraternity, tenderness, 'and in bearing witness for the honor of the spirit'" (14284).
In die liberaal-humanistiese tradisie was Camus ten gunste van gelyke regte, dus ook stemreg, vir alle Algeryne. Hy was "a 'lay saint' in the service of a superannuated humanism" (13134). Hy het gedink die Arabiere en blankes kon vreedsaam in dieselfde land saamwoon. Camus was 'n pasifis wat die doodstraf, geweld, terrorisme en oorlog sterk afgekeur het. Selfregering vir Algerië, maar nie onafhanklikheid van Frankryk nie, was sy ideaal. Camus was egter vaag oor presies hoe dit bewerkstellig moet word. By Camus tref 'n mens dieselfde politieke naïwiteit as by die bogenoemde Tony Judt aan, wat 'n een-staat-oplossing vir Israel en die Palestynse gebiede voorgestaan het. Absolute gelyke regte bring noodwendig oorheersing deur die meerderheid mee. As twee groepe inwoners kultureel baie verskil en in 'n enkele staat saamgevoeg word, is die magiese resultaat nie 'n nasie nie, maar die uitverkoping en onderploeging van die minderheid.
Daar word vermoed dat Camus die Nobel-prys gekry het vanweë die aktualiteit wat die Algerynse oorlog op daardie tydstip gehad het. Volgens sy eie erkenning was hy toe nie meer in staat tot die skeppende skryfwerk wat hy voorheen gelewer het nie. "I no longer have the time, nor the interior leisure, to write my books ... my work hasn't freed me, it has enslaved me" (11248). Hy was onseker oor alles en het bv besluit om liewer oor die Algerynse vraagstuk te swyg. "To remain silent is better than to be wrong" (1799). Sy hoofbekommernis was sy ma en broer wat in Algiers gewoon het.
Camus het al hoe meer in dramas en verhoogwerk belanggestel. Teen die einde van sy lewe was sy ideaal om sy eie teater en produksiemaatskappy te hê. "Theater and not books would dominate this last decade of his life" (11318). Hy het self toneel gespeel ("A competent actor. Never a great one," 2905), dramas vertaal, romans vir die verhoog aangepas, voorwoorde vir boeke geskryf, versoekskrifte oor politieke sake opgestel, ens, pleks van oorspronklike skeppende werk te lewer. Kort voor sy dood het hy sy skrywersblok oorkom en The First Man (London: Hamish Hamilton, 1995, 262p) begin skryf. Dit is 'n onvoltooide roman maar 'n wonderlike leeservaring. Wat my bybly, is sy uitbeelding van die lewe in die Algerië van weleer. Hy het deurgaans eerder Algerië as Frankryk as sy tuisland beskou.
Simone de Beauvoir se waarneming was "that in Camus the gap between his life and his writing was wider than in many others ... his public image didn't coincide with his private truth" (8142). Dalk is dit waar wat moraliteit betref, bv sy obsessie met geregtigheid. As 'n mens Camus se oeuvre evalueer, val sy subjektiwiteit eerder op. Sy verbeelding was so beperk dat hy hom in sy skryfwerk grootliks op (aangepaste) outobiografiese gegewens verlaat het. Byvoorbeeld, La Peste is geskryf na aanleiding van 'n tifus-epidemie wat in 1941 in Turenne, by Tlemcen, Algerië, uitgebreek het. "You don't see things while you are living through them" (11403). "He knew that his real work was to create books out of the life he was living" (3330). Lottman: "The heart of an artist is a battlefield, his books being successive images of that battle" (13345).
'n Sprekende voorbeeld van Camus se subjektiwiteit is die monoloog La Chute/The Fall (1956). Ek haal aan uit The Collected Fiction of Albert Camus (London: Hamish Hamilton, 1962, p 251-306). "I know how to keep my distance" (p 254) - sy pudeur. "I preferred the bus to the underground, open carriages to taxis, terraces to being indoors" (p 260) - sy engtevrees. "He had a phobia about going into stores"/winkels (8653). Camus was ook bang om per vliegtuig te reis. Depressie het hom oorval as hy gereis het en ook as hy uiteindelik 'n stuk skryfwerk voltooi het, onder meer omdat hy die reaksie van kritici gevrees het.
"I always succeeded with women - and without much effort. I don't say succeed in making them happy or even in making myself happy through them. No, simply succeed ... I was considered to have charm and I took advantage of it ... I looked merely for objects of pleasure and conquest" (p 272-273). "My kingdom was the bed. I used to advertise my loyalty and I don't believe there is a single person I loved that I didn't eventually betray" (p 283) - die rokjagter.
"For more than thirty years I had been in love with myself exclusively" (p 288). Lottman: "Camus ... had never refused to wear the mantle of success" (7751). Oor 'n/die vrou: "Is she not all that remains to us of earthly paradise?" (p 288). "Alcohol and women provided me, I admit, with the only solace of which I was worthy" (p 289). "Nothing remained but to grow older" (p 291).
Johannes Comestor

