Hennie Aucamp se Die huis van die digter en ander liefdesverhale meesterlik

  • 1

Titel: Die huis van die digter en ander liefdesverhale
Skrywer: Hennie Aucamp
Uitgewer: Protea Boekhuis
Formaat: Sagteband
Bladsye: 96
Prys: R120
ISBN: 978-1-86919-339-3

Klik hier om die bundel verhale by Kalahari.net te bestel.

Altyd as ek ’n leeskring moet toespreek of ’n lesing of praatjie moet gee oor die kortverhaal as genre, dan raak ek vooraf in vervoering oor dié uitdagende, verbluffende genre. Die kortverhaal, by uitstek, leen hom tot veelkantigheid en diversiteit. ’n Kortverhaal kan kort, kórt wees, soos Hemingway se beroemde kortverhaal van net ses woorde, en dit kan lank, lánk wees, soos Elise Muller se ouer verhale en die meer kontemporêre verhale van Helena Gunter se twintig bladsye en meer. Die kortverhaal kan verkleurmannetjie speel en enigiets wees: poësie en joernalistiek, New Journalism en sci fi; dit kan wasig romanties en stuitig volks wees; dit kan kliphard realisties en outobiografies, of eteries en fantasties wees. Dit kan geskiedenis wees of fiksie. Daar waar die skrywer se vlugte hom of haar maar wil neem, daar is die kortverhaal ’n gewillige en plooibare meedoener aan die vreugde.

En soos dit nou maar gaan tydens ’n lesing of ’n praatjie, moet daar toepaslike voorbeelde gegee word. En taks en tyd gebeur dit dat die Ou Grote van die kortverhaal, Hennie Aucamp, as demonstrasiemodel moet dien. Want ja, daar is sekerlik nie ’n enkele nuanse van die kortverhaal wat hy nog nie ingespan het nie. Liefdesverhaal, spookstorie, ruige volksverhaal, outobiografiese vertelling, verblindende literêre verhaal, dit is alles daar. Nog altyd. Steeds. En al die netjiese reëls wat soms so gerieflik aan ’n nuwe kortverhaalskrywer voorgehou word as synde die ABC van die kortkuns te wees, dit is van toepassing, ja, maar ook dié ondermyn hy met groot stelligheid en sukses.

Ek is altyd mateloos verwonderd as ek Hennie Aucamp se kortverhale lees. Hoe krý hy dit skynbaar so moeiteloos reg om al die flambojante eienskappe van die kortverhaal te gebruik, uit te stal, te flaneer ... en hoe kry hy dit reg om na al die jare van betowerende kortverhale nog steeds ’n leser te ontroer en te onthuts? Nog altyd. Steeds.

Laat ek maar by voorbaat erken: ek dink nie Die huis van die digter, Aucamp se jongste bundel verhale, is sy tour de force nie. ’n Twee- of drietal verhale meer sou ook ’n stewiger indruk gemaak het. Maar weer eens is daar verhale in hierdie bundel wat my doodgewoon platslaan van verwondering. Maar daarby kom ek.

Die bundel bevat tien verhale, waarvan een, “Die terugkeer uit die kloof”, ’n vertaling is van Joey Muller se verhaal “The Return from the Kloof” wat in 1955 in ’n versamelbundel Karoo-stories verskyn het. Nóg ’n red-uit-die-vergetelheid van redder Aucamp, en dankie daarvoor, Hennie! (Miskien moet Aucamp tog maar eendag prominente erkenning kry vir sy vele argeologiese vondste uit die stoflae van vergetelheid, waarsonder ons literatuur beslis armer sou gewees het.) Nege verhale, dus, wat ’n beeld gee van die skrywer hier-en-nou.

“Aletta van die oewererwe” (en so ook “Kouekoors”), is vintage-Aucamp, met funksionele en pragtige argaïese taalgebruik in woorde soos gasie, loens oë en slonspampoen. Aletta wat haar hele erfenis nalaat aan die skurk met die loens oë, diep gelukkig en vervuld, al is dit nie met die kind wat sy so graag wou gehad het nie. Deernis en verskrikking, die duo wat altoos by Aucamp teenwoordig is, gee aan hierdie verhaal sy betroubaarheid. In “Kouekoors” is dit die bittersoet liefde tussen twee mans, die hoogs beskaafde, estetiese ruimte, die verlange en verlies wat dieselfde effek bewerkstellig.

“Die stolp” is ’n spulse verhaal met ’n sommer-so slot wat my nie aanstaan nie, net soos wat die liriek van Doors du Biel en sy Theresia Tert se manewales (uit ’n vroeëre skrywersera) my ook nie aangestaan het nie, maar dit is in my aard, en daar is lesers wat vrék oor die spulse Aucamp. Maar nét hierna volg die aangrypende en outobiografiese tweelinge-verhaal “In rooi grond, tussen kanniedood en vuurklip”, ’n vuurrooi, intense verhaal wat veel meer sê oor ons land en sy verskriklike, verskillende mense as ’n lesing in die destydse Volkekunde.

Die onthutsende “Droë meer” is die beste verhaal in die bundel. Dit is een van daardie verhale wat bykans alle netjiese en voorafuitgewerkte strategieë van die kortverhaal ondermyn en nuwe horisonne verken. Aucamp het ’n voorliefde vir ’n verhaal wat in sy volle konsekwensies “uit-gestorie” word, maar hierdie verhaal is een wat jou as leser figuurlik gesproke in ’n bondeltjie opfrommel – en dan wegsmyt. Liewe genade, die skaarsheid aan inligting, die evokatiewe karakteruitbeelding, ’n ongenaakbare ruimte, die spanning van die gebeure – die verhaal is soos ’n lugspieëling self, of ’n koorsdroom – niemand weet agterna of dit werklik is, of was, of ooit gewees het nie. Hierdie verhaal wil ek nog tien keer lees. Dit staan uit soos ’n grinterige diamant.

Die titelverhaal bevat al die redes waarom ’n mens ’n Aucamp-aanhanger is. ’n Soektog, ’n ontdekking, ’n bron van kuns te midde van ’n klein Karoodorpie en sy aardse karakters. Liefde, wraak, kuns ... en ’n literêre argeoloog wat snuf in die neus gekry het. Hierdie verhaal herinner my sterk aan wat ek dink die beste roman in Afrikaans is, Karel Schoeman se Die uur van die engel. “Die huis van die digter” is daardie roman in kortverhaalvorm. Hier is perfekte simbiose: ’n verhaal wat die skrywer eer aandoen, ’n skrywer wat die verhaal eer aandoen.

“Vasgepen” is ook nie ’n verhaal waarvan ek hou nie. Hoekom nie? Ek weet nie. Ek kry nie “Aucamp” in die verhaal nie, veral nie in die niksseggende slot nie. Die ek-verteller verdien nie ’n herinnering aan die flambojante Gesie nie; haar gees het immers gedui op ’n magtige invloed op sy lewe. Ek is gewoond aan Aucamp-karakters wat gehaunt word, deur verlange en melancholie, deur skrik en herinnering en drog en waan en seks – maar hier is net … niks.

“Al kwyn die sonlig teen die hange” gee ’n sensitiewe, vermaaklike, maar uiters menslike blik op die lewe van mense in ’n aftreeoord. Niks jillend nie, niks TV-reeks-agtig nie; net: lieflik en menslik en vol deernis, al is die dood ’n meedoënlose maaier.

Die laaste verhaal word tereg as ’n Naspel aangebied. Dit is oorspronklik geskryf vir die reistydskrif Mooiloop, en gee ’n persoonlike weergawe van die psigologiese afskeid van sy geboorteplaas, Rust-mijn-ziel, lank voordat hy formeel daarvan weggegaan het. Ek het toevallig onlangs deur einste daardie Aucamp-wêreld gereis – Burgersdorp, Molteno, Dordrecht, Jamestown – en die ontvolking van die platteland ervaar soos wat hy beskryf. Kinders wat na ander skole gestuur word, huise en tuine wat verval, gemeentes wat krimp, oumense wat uitsterf. Aucamp se insig in die situasie: “Vandag … is daar minder huise wat leeg staan: swart mense het ingetrek, en die hoërskool het ’n swart skool geword. En só is dit goed: Nostalgie kan baie maklik ’n soet vergif word, en benutting is tog soveel beter as verval” (p 92). Wat blywend is, lank ná die wit mense én die swart mense weg sal wees, is oerkuns, ’n Boesmantekening; en die natuur, reën wat ’n stippelgordyn tussen hom en die droë veld trek. Dit is só mooi, só droewig, só eenvoudig en eg en waar, mens kan daarvan tjank.

Met hierdie laaste woorde van die bundel weet die leser ook iets van Hennie Aucamp: dat daar groter dinge is as kritici en politici. Of selfs as skrywers en lesers. Wat sal bly, is die landskap van Aucamp se Oos-Kaap. En die verhale uit sy meesterlike pen. Nog altyd. Steeds.

  • 1

Kommentaar

  • Herbert Raubenheimer

    Dankie. As seun van Molteno soek mens vertroosting vir krimping en verandering. Jy het sy woorde so pragtig gepoets . Hy leef. Steeds.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top