Hendrik Verwoerd: vyftig jaar later

  • 4

Hendrik French Verwoerd is op 6 September 1966 – vanjaar  50 jaar gelede - om die lewe gebring.

Dit was nie moord nie, het regter-president Andrew Beyers van die Kaapse hooggeregshof later (tereg) bevind: Dimitri Tsafendas was immers  ontoerekeningsvatbaar en kon dus nie regtens die opset om die premier te vermoor vorm nie.

Betsie Verwoerd en haar kinders het in die hof se uitspraak berus en stilweg uit die kalklig verdwyn.

Ek het as hoërskoolseun dikwels persoonlik met Verwoerd kennis gemaak want ek het in sy kiesafdeling, Heidelberg (Gauteng), skoolgegaan.

In 1963 het hy op ’n Saterdagmiddag ‘n "NP-Stryddag" op Heidelberg kom toespreek.  Ek dink dit was die eerste keer dat ek hom in lewende lywe gesien het.  Saam met ’n swetterjoel kinders het ons ná sy toespraak op hom toegesak vir sy handtekening.  Terwyl hy vir my op ’n stukkie wit papier geteken het – nogal met my eie Hifra-vulpen – het ’n fotograaf van Die Vaderland ’n foto geneem wat die daaropvolgende Maandag in dié middagblad gepubliseer is.

My tweede ontmoeting met Verwoerd was by die Uniegebou in Pretoria later in 1963.  Ons het by vriende gekuier. Dinge by die huis het ons begin verveel en ons jong klomp het besluit om in die nabygeleë tuine van die regeringsetel te gaan rondloop.  Ek het my pa se 35mm-kamera (sonder sy medewete) saamgeneem.  Dit was vakansietyd en ons was kaalvoet.

Met ons ronddrentel het ons later aan die "agterkant" van die Uniegebou beland – daar in die middel van die halfboog, waar lede van die publiek nou nie meer toegelaat word nie.  In die warm son het ‘n swart Cadillac gestaan, TP1000.  Daar was ‘n motorbestuurder geklee in ‘n grys dubbelbors-uniform met ‘n bypassende pet. Hy het ons meegedeel dat dit Verwoerd se ampsmotor was en dat hy hom aanstons Libertas (soos die ampswoning toe nog bekend was) toe sou neem vir middagete. 

Ek het besef dat daar vir my ‘n kans was om - soos ‘n wafferse persman – my eie foto’s van die eerste minister te neem.

Na wat soos ‘n ewigheid in die warm son gevoel het, het Verwoerd, vergesel van sy lyfwag, eensklaps sy verskyning gemaak.  Toe hy sien dat ek ‘n foto wou neem het hy sy hoed afgehaal en reguit na my aangestap gekom.  Sy lyfwag het eenkant toe gestap en toe sommer ook verdwyn.

My eerste foto was heeltemal onbepland, maar dit het so gekom dat ek die sluiterknoppie gedruk het op die oomblik toe hy van die trappie afgestap het.

Ek het daarna teruggehol na die Cadillac se agterdeur vir ‘n “nabyskoot”. 

Verwoerd het egter stil gaan staan en my genooi om nog ‘n foto te neem. 

Daar was ander ontmoetings ook.

Verwoerd se dood kort voor die matriekrekordeksamen van 1966 het my persoonlik erg geruk. 

Ek sal nooit sy  staatsbegrafnis in Pretoria vergeet nie.  Ek was dáár.

Die jeugdige historikus, Lindie Koorts, het ’n jaar of wat gelede agting verwerf vir haar biografie van DF Malan – “warts and all”, soos die Engelsman sou sê. Dalk is die tyd nou ryp vir ’n wetenskaplik verantwoorde biografie van HF Verwoerd wat in sy betreklike kort lewe van 65 jaar nie alleen akademies en andersins uitmuntend presteer het nie, maar wat ook die gang van ons land se geskiedenis diep geraak het. Hopelik sal iemand uit die jonger (post-apartheid) geslag vir so-iets kans sien.

Was Verwoerd regtig – soos Schalk Pienaar eenkeer geskryf het – saam met lord Milner een van dié twee “gevaarlike manne” wat Suid-Afrika opgelewer het? 

Gevaarliker, desktruktiewer, as die hedendaagse Jacob Zuma?

Ek sal Hendrik Verwoerd altyd onthou as die statige omie met die glinsterende grys hare, deftig geklee in ‘n bruin strepiespak, wat op ‘n warm somersmiddag in Pretoria vir my - ‘n kaalvoet standerd sewetjie met ‘n borselkop - stil gaan staan het met die woorde: "Boetie, wil jy nog ‘n foto neem?"

Foto's: Gustaf Pienaar

  • 4

Kommentaar

  • JW(Hoffie) Hofmeyr

    Gustaf, ek het die volgende interessante ervaring rondom die moord op Dr Verwoerd gehad by Tukkies waar ek toe 2e jaar was. Ek sou die volgende dag 'n Griekse toets skryf en het toe besluit om in die Merensky-bib te gaan swot met skerp fokus en min afleidinge. Toe ek die bib instap sien ek vir die jongste Verwoerd-seun, Wynand daar wat ook aan die swot was. (Terloops, ons was vir 5 jaar saam op skool by Affies in Pta). Alhoewel ek my aanvanklik nogal bietjie koud geskrik het, het ek besef ek moet na hom gaan. Gelukkig het ek, alhoewel ek wel vd aanval geweet het, nie geweet dat sy pa reeds oorlede was nie. Ek vra toe aan hom of hy weet dat sy pa aangeval is. Uiteraard was sy antwoord nee. Ek beveel toe aan dat hy eerder huis toe (Libertas) moet gaan, en ek wou weet of ek hom nie kon begelei nie. Hy het toe gesê alles is reg, maar ek het hom minstens tot by die fietsloods begelei want hulle het nie met blink motors rondgery nie. Die Saterdag daarna het ek toe maar net vir hom en sy latere vrou, Nona Plekker in die swart Cadillac in die begrafnisstoet sien verby ry toe die Tukkies langs Pretoria se strate gestaan het ... Ons het inderdaad interessante tye beleef. Groetnis hier uit België. Hoffie Hofmeyr (NS Jy het seker vandag op Netwerk24 prof Herman Giliomee en prof Bill Nasson van US se belewenisse van Verwoerd raakgelees: nogal insiggewend ook vir my as [kerk]historikus.)

  • Gustaf Pienaar

    Beste Hoffie - dankie vir jou interessante bydrae. Ek het vanmiddag eers die kans gekry om prof Giliomee se voortreflike artikel te lees. Min mense kan Giliomee so iets nadoen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top