Soos ek die ding het, praat jy verkieslik The Queen's English as jy 'n omroeper op BBC is. 'n Rou Geordie- of Essex-aksent sal jou loopbaanvooruitsigte aansienlik beperk by daardie uitgelese instansie. Laat val dus op die Essex-wyse die laaste lettergrepe van jou Engelse woorde as BBC-aanbieder, en jy maak so op eie risiko.
Waarom, o waarom, word ons Afrikaners dan geteister deur die verkragting van Afrikaans op RSG, die naaste ding wat ons aan BBC se Radio 4 in Afrikaans het?
Veral ene Jean Esterhuizen, 'n verslaggeefster op Monitor in die oggende, se vervanging van die h-klank in Afrikaans met die j-klank is soos skuurpapier op die oor. Die Jirre jelp ons as dit die toekoms van radio-Afrikaans moet wees. Kan hulle nie die stomme vrou help met spraakterapie, wat haar sal leer om die "hu"-klank mooi uit te spreek nie? So ook is nog 'n Monitor-verslaggeefster, ene Mercedes Besent, se vreemde aksent, wat link soos 'n Australiër wat Hollands met 'n Franse aksent probeer praat, baie dinge, maar Standaardafrikaans is dit beslis nie.
Kry hulp vir julle verslaggeefsters, asseblief, RSG! Hierdie mense is immers veronderstel om professionele omroepers te wees, wat die hoogste taal- en spraakstandaarde moet handhaaf.
JvNk


Kommentaar
Ek stem heelhartig saam. Dis asof Afrikaanse taalfoute deesdae aanvaar word sonder dat enige een daarteen optree, en so stel ons (wat stilbly) die standaard vir aanvaarbare spreektaal.
Wat my grensloos irriteer, is wanneer omroepers iets in oortreffende trap wil stel, en dan dinge kwytraak soos MEES BELANGRIKSTE - my Afrikaanse juffrou op hoërskool sal 'n aar bars as sy dit hoor!!
Dis nie nodig om puristies te wees met spreektaal nie. Kry tog net die taalreëls onder die knie. Daar is vir seker joernaliste wat sonder werk sit, wat wel die taal kan praat??
Dagsê JvNK
Dankie tog dat jy die saak aanroer! Ek moes net vanoggend op my nugtermaag weer hoor hoe Esterhuizen na Janoewharrie verwys. Ek skakel sommer uit frustrasie oor na 'n ander sender toe soos wat ek in soms doen met die oordadige en irriterende "Werner-advertensies" van FNB. Ek hoop hulle verloor 'n klomp kliënte!
Groete
Panda
Ek het self oorgeskakel na 'n ander sender, toe praat die onderhoudvoerder aanmekaar van Hansbaai. DIt het my 'n rukkie geneem om te besef hulle bedoel Gansbaai.
Dis nou meer as vier jaar later en dis nog net so erg. Dit klink my RSG is nou 'n eksklusiewe sender vir die inwoners van die Wes-Kaap.
Dit is nie Jean Esterhuizen se uitspraak of Kaapse Afrikaans die doring in die vlees is nie. Dit is eerder taalgoggas soos die volgende paar wat dag na dag gehoor word: soos wat jy die M1 nader; hulle het drie wedstryde in ’n ry gewen; in terme van die wet; die saak word aangespreek; in antwoord tot die vraag; wanneer kampusse nie toegangbaar is nie; so gepraat van dit; ons weet nie wat gaan gebeur op 2 November nie; ons praat nou oor wat gebeur het in Kaapstad gister; met dit kom ons aan die einde van die program en jy moet 'n lekker dag hê.