Helderheid en magnitudes van hemelligame asook Kobus de Klerk se kluitjie

  • 16

Die helderheid van hemelligame word in ‘magnitudes’ aangedui. Die stelsel dateer ongeveer 2 000 jaar terug en word toegeskryf aan die Griekse sterrekundige Hipparchus terwyl sommige meen dit was die Alexandrynse sterrekundige Ptolemy. Volgens dié metode is sterre in ses groepe ingedeel ooreenkomstig hulle grote (oënskynlike helderheid is destyds met grote verwar omdat algemeen aanvaar is dat alle sterre dieselfde afstand van die aarde af is, dus hoe helderder die ster, hoe groter). Sterre is op ’n skaal van 1 tot 6 geklassifiseer, met ’n toekenning van 1 vir die helderste groep sterre tot by 6 vir die heel dofste groep.

By die helderheid van hemelligame word onderskeid getref tussen oënskynlike en absolute helderheid.

• Die oënskynlike helderheid van sterre is soos van die aarde af waargeneem en word baie presies met ’n ligmeter (fotometer/”photometer”) gemeet. Dit weerspieël nie die werklike helderheid nie omdat oa die afstand van sterre vanaf die aarde verskil. Die ligmeter onderskei ook nie tussen planete, komete, asteroïdies en die verskillende tipes sterre nie. Dit meet net die ligsterkte. Magnitudes verwys normaalweg na oënskynlike helderheid tensy anders vermeld.
• Die absolute helderheid van ’n ster is die helderheid wat dit op ’n afstand van presies 10 parsecs ( 32,6 lj) van die aarde sal hê. Op só ’n afstand van die aarde af sal die son maar omtrent so helder as Jupiter se helderste maan, Ganymede, wees terwyl die ster Rigel in die konstellasie van Orion, daarenteen 480 keer helderder as tans en duidelik tydens daglig sigbaar sal wees.
In die moderne sterrekunde is die beginsel van laer getalwaardes vir helderder sterre en hoër getalwaardes vir dowwer sterre behou en verfyn en uitgebrei om ook nul en negatiewe magnitudes te akkommodeer. Die son se oënskynlike magnitude is -27 en die volmaan -13. Die helderste planeet is Venus met ’n maksimum magnitude van -5 en die helderste ster Sirius, se magnitude is -1,5. Die Internasionale Ruimtestasie se magnitude is -6.
Magnitudes word volgens ’n logaritmiese skaal ingedeel deur met die vyfdemagswortel van 100,( 5 √100 ) dws 2,512 te vermenigvuldig.
• Daarvolgens is ’n ster van magnitude 0 se helderheid 1, (2.5120 = 1)
• en dus 2.512 keer helderder as ’n ster van magnitude 1, (2.5121 = 2,512)
• en 100 keer helderder as ’n ster van magnitude 5, ens. (2.5125 = 100)
Daar is verskillende metodes om oënskynlike helderheid te vergelyk indien die magnitudes, bekend is. Veronderstel die magnitude van ’n ster word aangedui as 3.7:

a) ’n Magnitude verwerker is op die internet beskikbaar by http://www.1728.org/magnitude.htm. Daarvolgens is die helderheid 30,2 keer dowwer as ’n ster met magnitude 0.

b) Met behulp van die formule: 2,512magnitude. Dus, oënskynlike helderheid = 2,5123,7 = 30,208 keer dowwer as ’n ster met magnitude 0.

c) Met behulp van die tabel hieronder, deur die waarde van die helderheid teenoor die getalwaarde van die magnitude(3.7) voor die desimale punt (15.85) in tabel A te vermenigvuldig met die helderheid teenoor die getalwaarde van die gedeelte van die magnitude na die desimale punt (3.7) in tabel B. (1.91). Dus 15.85 x 1.91= 30.2735 keer dowwer as ’n ster met magnitude 0.

 tabel

 

 

 

 

 

 

 

 

Kobus de Klerk se kluitjie:
Sirius B is ’n klein dowwe witdwerg metgesel van die helder ster Sirius en is op 31 Januarie 1862 deur die teleskoopmaker Alvan Graham Clark ontdek toe hy die 470 mm refraktorteleskoop wat destyds die grootste refraktorteleskoop in die wêreld en die grootste teleskoop in die VSA was, vir die Dearborn Observatorium getoets het.

Jupiter se maan, Ganymede, se oënskynlike helderheid is 4,6 en Sirius B s’n is maar slegs 8,5. Die feit dat een ’n voorwerp is wat lig weerkaats en die ander een ’n ster is wat lig uitstraal, is irrelevant sover dit hulle helderheid aangaan.

Refraktor
• Sirius B, is meer as100 000 (104 192) keer verder as Ganymede van die aarde af en byna 40 keer dowwer as Ganymede. Met die inligting hierbo verskaf kan enigeen die verskil in helderheid self bereken.

• Hoe kan Kobus de Klerk skryf dat hy Sirius B deur sy proffie se teleskoop waargeneem het? Hoe weet hy in elk geval of dit wat hy hom verbeel hy gesien het, wel Sirius B was? Hoe kan hy dit bewys? Volgens sy eie reëls kan dit mos net deur fisiese kontrole bewys word.

Panda

  • 16

Kommentaar

  • Beste Panda,
    Jy vergeet Kobus het spiritistiese intelligensie. Dis nie ons arme spiritisties intelligentlose aardse wesens beskore om, soos hy, geeste en goeters te kan sien rondswewe nie.
    Groete,
    Angus

    • Beste Angus,
      Kom my voor of ’n ou nie ’n keuse het nie. Jy word geseën met spiritistiese intelligensie of met gesonde verstand.
      Groete
      Panda

  • Panda
    Baie dankie vir 'n interessante en leersame stuk oor die helderheid van planete en sterre. Ek het dit uitgedruk en in my sterrekyk-lêer gesit.
    Jou inligting vul my amateuragtige stuk oor die sigbaarheid van Jupiter en sy mane goed aan en gee dit stewige wetenskaplike onderbou.
    Ek kan nog steeds nie bepaal hoekom ons Kabouter probeer voorgee dat die ganse astronomiese gemeenskap met 'n verneukspul besig is nie. My vermoede is dat hy hom probeer loswikkel uit sy oningeligte plasing dat Jupiter se mane nie van die aarde af sigbaar is nie.
    Groete
    Thomas

  • Kobus de Klerk

    Panda,

    Jy is eintlik reg oor jou afleiding van wat ek gesê het omtrent sirius B. Ek kan dit glad nie bewys nie. Ek het Prof van Jaarsveld se woord daarvoor aanvaar, en hy op sy beurt, natuurlik ander se woord en so gaan dit aan, terwyl geeneen van hulle of ek of jy enigiets daarvan kan bewys of eens verifieer nie.

    Vandaar dat die kosmiese wetenskap vir die afgelope 2000 glad nie vordering kon maak nie, soos wat jy hierbo so in detail verduidelik en word dieselfde ou stories wat die Griekse ouens sonder toerusting destyds verkondig het (almal van hulle met Griekse en Romeinse religie in gedagte waar aan sigbare blinkers in die hemele as hemelliggame persoonlikheidseienskappe en name toegedig is en aanbid is as gode), vandag steeds verkondig sonder enige hoop op vordering van die sogenaamde wetenskaplike metode om die aansprake te kan verifieer of kontroleer. Mense, vandag nog, met hulle 'gevorderde' glasies, sien iets blink, gee dit 'n naam en sê dat dit biljoene der biljoene kilometers van hier af is op 'n spesifieke plek in die uitspansel en terwyl hulle daardie aanspraak maak, weet hulle dat niemand dit kan betwis nie want hulle self kan dit nie eens bewys of verifieer nie.

    Diep ruimte 'wetenskap' is die duurste en grootse foefie - klug - waaraan 'n segment van die mensdom homself steeds, na duisende jare sonder werklike vordering, vir vermaak en (sommige) as 'n nering, oorgee.

    Kobus de Klerk

  • Kobus de Klerk stel dit as ’n feit “dat die kosmiese wetenskap vir die afgelope 2000 glad nie vordering kon maak nie”. Ek neem aan dat die 2000 moet lees 2000 jaar. Dus die geosentriese model met die aarde in die middel en die ganse heelal wat elke ± 23 uur en 56 minute om die aarde wentel, is nog steeds die populêre model? En die maanlandings en die karretjies wat op Mars rondry?
    Ag ou Kobus — asseblief man — skryf tog meer oor wetenskaplike onderwerpe sodat ons stommerike wat nie geseënd is met spirituele intelligensie nie, ook kan bykom. Wees tog net bietjie versigtiger met jou uitsprake want ek vermoed jy is besig om jou juigkommando te vervreem. Wat drink jy en waar kan mens dit kry?
    Panda

    • Kobus de Klerk

      Katterigheid los nie jou probleem op nie, Panda. Ek het so 'n tyd gelede gevra julle moet reële bewyse verskaf vir die heliosentriese stelsel en julle kon nie - net weer vorendag gekom met beledigings en ou holruggeryde teorieë. En wat het dit te make met wat sigbaar is en verifieerbaar is of nie?

      Ek weet waarom ek glo die heliosentriese stelsel is korrek, maar kan julle?

      Kobus de Klerk

      • Kobus,
        Die heliosentriese model wat vandag algemeen aanvaar word, is tydens die periode wat jy beweer dat daar glad nie vordering gemaak is nie, voorgestel. Nikolaus Copernicus (1473 — 1543) het in sy boek “On the Revolutions of the Celestial Spheres” wat kort voor sy dood in 1543 verskyn het ’n model voorgestel waar hy die son in die plek van die aarde na die middel van die heelal verskuif het. Ons weet vandag dat dit ook nie die son in die middel van die heelal is nie maar dit was nogtans ’n groot stap vorentoe en een van die mylpale in die sg wetenskaplike revolusie.
        Wat betref jou bekentenis en vraag waar jy skryf “Ek weet waarom ek glo die heliosentriese stelsel is korrek, maar kan julle? “ Nee Kobus ons kan nie, want ons glo dit nie soos jy nie — ons weet dit omdat ons dit verstaan en het nie nodig om dit te glo nie. Albert Einstein het gesê: “The most incomprehensible thing about the universe is that it is comprehensible”
        Panda

        • Kobus de Klerk

          Julle weet dit, sê jy Panda? Hoe bewys jy dit wat jy dink jy weet ... Einstein se aanhaling help jou nie hier nie.

          • Nee wat Kobus
            Ek sal maar liewers terugval op Angus se raad en jou laat glo wat jy wil. As jy eers in jou bomskuiling “BEWYS” gaan wegkruip het, is enige rasionele gesprek met jou buite die kwessie.
            Ek sal darem baie graag, soos Angus, van jou wil verneem wat jou laat ‘glo’ het dat die heliosentriese model die ware jakob is. Ek vermoed maar dat dit iewers in ‘Die Bybel’ staan maar dat ons spul sonder spirituele intelligensie, dit nie kan begryp nie.
            Panda

  • Aitsa Kobus
    Jy sê: "Diep ruimte 'wetenskap' is die duurste en grootse foefie - klug - waaraan 'n segment van die mensdom homself steeds, na duisende jare sonder werklike vordering, vir vermaak en (sommige) as 'n nering, oorgee".
    Nou ja toe. Onthou jy van die lastige ou probleempie van bewyse. Jy moet bewys wat jy beweer. As jy reken dat daar geen vordering is nie en dat dit 'n klug is moet jy darem 'n ou bewysie of twee verskaf. Jy is nou nie eintlik die persoon hier op die Sê met hoogstaande kredietwaardigheid nie, so ons neem maar jou stellings met 'n knypie sout.
    Ons wag in spanning vir jou bewyse.
    Groete daar in Kammaland
    Thomas

  • Ek sien hierbo Kobus is absoluut seker dat die heliosentriese stelsel korrek is, en dit is sy geloof wat hom die sekerheid gee. Ek sal graag meer hieroor by hom wil hoor.

    Buitendien, volgens die heliosentriese stelsel, draai die planete in een vlak rondom die son, en dit is nie wat gebeur nie. Soos die son voortbeweeg in die Melkwegsterrestelsel, beweeg die planete in 'n draaikolk (vortex) om die son.

  • Ek wil darem hier byvoeg: die geosentriese en heliosentriese modelle word nie sommer weggegooi nie. Hulle dien ook hulle doel.
    As 'n Christen sy Bybel lees, en hy die skepping van sy god so om hom gadeslaan, hy sien hoe die son, maan en sterre so in die ooste opkom, en dan weer is die weste ondergaan, gebruik hy sy Bybel en sy "gesonde verstand" om te verstaan. Die aarde is dan die middelpunt van die skepping: die geosentriese stelsel.
    As die posisies en bane van planete om die son vasgestel word, is die heliosentriese model nuttig. Die ware Jakob is egter die Draaikolkmodel. Ek dink 'n mens sal, met so 'n bietjie soek, dit op YouTube te siene kry.

    • Angus,
      Ek dink die video by: https://www.youtube.com/watch?v=82p-DYgGFjI gee ’n redelike aanduiding van wat jy in gedagte het met die draaikolkmodel. Vir ’n waarnemer van ver buite die sonnestelsel is dit sekerlik die prentjie wat hy sal kry as hy die spulletjie ’n klompie honderdduisend of ’n paar miljoen jaar lank kan waarneem.
      Die son en die res van die sonnestelsel wat saamgesleep word in sy 250 — 250 miljoen jaar lange reis om die middelpunt van die Melkweg staan bekend staan as ’n kosmiese jaar en is deur baie fyn waarnemings en berekenings bepaal. Dit is egter nie net vir ’n waarnemer van binne die sonnestelsel sigbaar nie maar ook van min waarde en kom die heliosentriese model die naaste aan die ware jakob en word dit gebruik in alle berekenings van bv ruimtereise en posisies van planete en ander voorwerpe binne die sonnestelsel op spesifieke datums. Al die astronomiese simulasie-programme wat ek al onder oë gehad het, gebruik slegs die heliosentriese model in hulle simulasies en voorspellings. Die geosentriese model is van geen waarde nie behalwe moontlik vir sommige geloofsgroepe. Kan jy glo dat daar selfs kaarte op die internet te sien is wat nog dié model propageer.
      Groete
      Panda

  • Beste Panda,
    Dankie vir die inligting. Soos Langenhoven in "Die laaste van die takhare" gesê het: "Die aarde draai, hy draai my dronk." Nie alleenlik draai hy om sy eie as nie, maar ook om die son, wat op sy beurt weer draai om die middelpunt van van die Melkwegstelsel, wat op pad is êrens heen; miskien ook om 'n middelpunt.

    Groete,
    Angus

    • Angus,
      Ja — die Melkweg is juis lid van 'n groep van ongeveer 30 sterrestels wat bekend staan as die "Local Group" wat waarskynlik 'n gemeenskaplike middelpunt het en die "Local Group" is weer 'n subgroep van die reuse "Virgo Group".
      Groete
      Panda

  • Hoe meer ek lees, hoe meer wil ek weet wat ek eintlik sien as ek glo dat ek "sterre kyk".
    Baie dankie vir `n praktiese en interessante leesstuk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top