Heer Charles Darwin en ons groeiende aarde

  • 8

Heil die leser

Besondere waarnemer wat hy was het die heer Charles Darwin op 'n keer veronderstel dat die aarde in werklikheid besig is om soos 'n ballon op te blaas. Sy waarnemings was hoofsaaklik gegrond op die rysende Andes en Patagonië se vlaktes wat soos oerstrande lyk. Al het hy later sy teorie laat vaar glo ek persoonlik vandag nog dat sy intuïsie in die kol was.

Die aanvaarde hipotese vir die feit dat die kontinente soos 'n legkaart pas word pragtig in hierdie video gewys.

Die heer Charles Darwin se ingewing destyds kom op dieselfde neer as wat daar weer in hierdie prag animasie gedemonstreer word.

Wat die meeste verstom is die gedagte dat die aarde in die afgelope sestig miljoen jaar byna in grootte verdubbel het. Die mees beduidendste groei van die aarde het dus aanvang begin neem met die uitsterwing van die dinosourusse.

Daar is baie wat hier ingesluit lê. In die eerste plek veronderstel dit die aarde sestig miljoen jaar gelede kleiner as selfs wat Mars vandag is. 'n Kleiner aarde in die tyd van die dinosourusse sou kleiner gravitasie beteken wat die logge diere se beweging veel makliker maak as wat voorheen gereken is. Die atmosfeer sou ook veel dunner wees en kon dalk ook besig wees om soos dié van Mars die ruimte in te verdwyn. Vandag is die aarde twee keer groter, die atmosfeer veel digter, daar is baie meer water vry en ons weeg veel swaarder as in die tyd toe die dinosourusse geheers het.

Daar is taamlik ooreenstemming dat die dinosourusse deur iets wat die aarde getref het uitgewis is.

Kon daardie "iets" dalk ook die aarde laat begin groei het?

Vir baie jare loop en tob ek alleen op my eiland hieroor. Oral waar ek reis hou die rotspatrone en die miljoene dun lagies in die rotse my wakker. Dit is so dat die aarde net 'n asteroïed was in die begin en namate dit deur ander klippe uit die ruimte getref is geleidelik groter geword het. Met die groter word het die aarde se gravitasie toegeneem en al hoe meer boustene uit die ruimte aangetrek.

Die aarde wat die dinosourusse vir soveel miljoene jare geken het was meer stabiel.  Maar toe gebeur dit sestig miljoen jaar gelede ...

Vandat Google bestaan krap ek op die Internet vir antwoorde. Google Earth het ook heelwat meer lig op die onderwerp gebring. Enigeen kan ons planeet vandag alkante in die rondte draai en beskou. Die uwe het al van elke hoek en oor elke kimdiepte getuur vir 'n impakkrater wat die aarde sestig miljoen jaar in grote sou laat verdubbel - die enigste steeds die massiewe Chicxulub Krater aan die punt van Meksiko se Yucatán Skiereiland. Hierdie krater wat eers in die negentigs ontdek is dateer juis na die sestig miljoen jaar gelede ter sprake.

Ek vind darem al intussen genoeg vertroue in die werf se kundiges en belangstellendes om hierdie raaisel met julle te deel. Ek is ook bereid om weereens die mantel van profeet op my te neem en my lang deurdagte tog kort verklaring vir ons aarde se groei met julle te deel:

Sestig miljoen jaar gelede was die aarde se kors regoor solied. Die kokende magma se druk diep in die aarde was uiters hoog - nes dié van Mars vandag. Die tien kilometer omtrek asteroïede se impak het nie net ontsaglike tsunami's veroorsaak nie, dit het ook enorme aardbewings veroorsaak. En dis die oorsaak; die geweldige ruk van die aardbewings het die aarde se kors oral gekraak en die drukking daaronder se vrylating het die aarde laat uitsit. Nie net dit nie; die Stille Oseaan wat die grootste uitset van die aarde toon lê direk in die rigting weg waaruit die asteroïed die aarde getref het. Enigeen wat al 'n rypgranaat met 'n .22 gekwes het sal die krake ken. Die aarde se massa het dus dieselfde gebly maar ons gewig op die oppervlak het meer as verdubbel.

Vandag is die bedreiging vir lewe op ons aarde deur nog sulke asteroïedes selfs groter. Die vergrote omtrek van die aarde en groter gravitasie het noodwendig die geneigdheid om meer sulke hemelliggame aan te trek as sestig miljoen jaar gelede.

Na dese kan daar net nog meer vrae as antwoorde wees.

Met hierdie bydrae glo ek nie meer alleen op my eiland te sit en tuur in die wonder van ons bestaan nie. Dankie vir elke hart wat saam met my hieroor sal wonder.

Hindoe-, Moslem-, Joodse-, katolieke-, Boeddhistiese-, Boeregroete en Afrikaliefde,

Cornelius Henn

  • 8

Kommentaar

  • Cornelius: ek is geen fisikus nie, maar ek dink jy het dit verkeerd om wanneer jy sê: "Die aarde se massa het dus dieselfde gebly maar ons gewig op die oppervlak het meer as verdubbel."

    Indien die aarde in volume sou groei, maar sy massa dieselfde bly, sou die teenoorgestelde gebeur. Ons gewig op die oppervlakte sal verklein. 

  • Cornelius

    Interessante hipoteses. Kon jy enige wetenskaplike navorsing (nie Google-bespiegelings) opspoor wat die hipoteses ondersteun?

    Ek is seker Panda sal heelwat lig hierop kan werp.

    Groetnis

    Thomas

  • Die aarde se kors was beslis nie "solied 60 miljoen jaar gelede nie".

    Jy leen jou ore uit aan pseudo-wetenskap en pseudo-wetenskaplikes se ongesubstansieerde mening - en dan is jou mening en brief hierdie resultaat.

  • CorneliusHenn

    Thomas, nie een van die sogenaamde pseudowetenskaplikes wat die hipotese vir ’n groeiende aarde ondersteun kon nog ’n bevredigende antwoord bied oor waar die materie wat sou bydra tot die vergrote volume van die aarde vandaan sou kom nie. My oortuiging dat die aarde groei is absoluut gegrond op die ouderdomskale van die seebodem sonder enige noemenswaardige verskil aan die kontinentale plate. Atlantis is ook ’n besondere deel in die mitologie wat my met ’n ompad terugbring na kontinentale drywing en die groei van die aarde. Om jou vraag te beantwoord; my gedagte is hoofsaaklik om ’n verduideliking vir die uitset van die aarde sonder materie daarvoor nodig  te vind. As ’n meteoriet die aarde getref het en met die kern van die aarde versmelt het sou dit ’n antwoord kon wees. Dit het egter nie in die onlangse 100 miljoen gebeur nie. My veronderstelling is dat die mantel van die aarde byna soos die elastiese wand van ’n ballon besig is om te verdun en toelaat dat die geweldige druk en hitte in die aarde dit "opblaas". Dieselfde gebeur as jy ’n opblaasbal in die son laat en die lug daarin verhit; of soos my opblaasboot wat styf word as ek dit van die kus na Gauteng sleep weens die atmosferiese druk daarop wat verander. Hierdie goed sit als uit sonder om enige massa by te voeg. Swaartekrag speel ook ’n groot rol om te verhoed dat die aarde uitmekaar sal bars. Na mate die omtrek van die aarde toeneem wyl die middelpunt vlietende krag dieselfde bly verhoog die "g-force" op die oppervalk, of te wel gravitasie wat als weer bymekaar hou.  Asteroïdes wat die aarde tref dra by tot die versnelling in die uitset van die aarde - met heelwat gepaardgaande gevolge. In hierdie paar opsigte onder meer is ek besig om op my eie met modelle wat die aarde se saamstelling so naby moontlik simuleer mee te eksperimenteer.  Ja, die Internet help maar niemand het nog ’n antwoord nie. Ek hoop ook Panga kan ons met ’n paar voorstelle verlig. Ek is weereens op pad en soos gewoonlik waai ek vir jou as ek oor Knysna se brug ry. Teen die tyd wat ek weer hier sit en tik sal ek meer as 4000km agter die stuur gewees het. Dis gewoonlik dan wat ek baie tyd het om nog te dink en my te verwonder aan ons pragtige en groeiende aarde langs die pad. BAIE DANKIE VIR ELKEEN SE BELANGSTELLING. Groete, Cornelius.

  • Cornelius,
    Ek is seker dat jy bewus is van die Vredefort krater in die Vrystaat, maar ek verskaf  nietemin die skakel onder aan die kommentaar indien iemand meer daaroor te wete wil kom.
    Die krater is rofweg 250 km tot 300 km in deursnit en as sodanig die grootste van sy soort bekend en ’n reus teenoor die Chicxulub krater van Mexico met ’n deursnit van 170 km. Dit is ook in 2005 deur UNESCO tot Wêreld Erfenisgebied verklaar.
    Die video waarvan jy die skakel verskaf het, is baie besonders en ek het dit terstond afgelaai en onder my versameling gestoor. Dankie !
    Maar dié spesifieke video bevestig darem nou nie jou hipotese nie – trouens ek sien nie juis die verband nie.
    Thomas – jammer maar ek kan ongelukkig nie lig werp nie. Ek is net so in die duister soos jy.
    Skakel: http://en.wikipedia.org/wiki/Vredefort_crater
    Groete
    Panda

  • Hallo Cornelius
    Ek het mos nou-die-dag gesê die aarde het gerek (ek dink dit was in ’n brief aan Panda), weliswaar tong in die kies maar tog. Dit het gebeur toe iets binne-in warmer geword en uitgesit het. Wat die 'iets' is moet ek nog uitwerk. Dit kan yster wees. Iets soortgelyks wat met ’n ster gebeur voor hy uitklink, soos ’n rooi-reus-stadium byvoorbeeld. Waar al die water daarna vandaan gekom het is ’n ander raaisel, dalk ’n ry ysmeteorietjies.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top