Haweloos

  • 1

Foto: Canva

Haweloos

Met lang baard
verslonsde hare
oë vol selfverwyt
wat herinner aan die verlore seun
uit ’n heel ander leeftyd
bêre die man sy besittings
in sy stukkende rugsak
gereed om die honderde kilometers
te voet aan te pak
hy het belowe hy sal opstaan
en na sy geboortedorp gaan

Sy brandmaer lyf
word deur ’n sterk wind gekasty
vandag gaan hy nie toelaat
dat die koue hom onderkry
hy moet vanaand iewers wees
om met iemand te gaan praat
’n mens weet nooit
môre is dit dalk te laat

Met voete vol blase
beur hy bibberend voort
verlangend na die geselskap
van mense waar hy hoort

Soos ’n toordokter
smokkel die verlede
met sy brein
hy sien ’n stasie in die verte
maar daar was wanneer laas ’n trein

Hy dink aan die gebeure
van sestien jaar terug
aan besluite en keuses
waarvan hy nie meer kan vlug
sy sondes agtervolg hom
met elke tree wat hy gee
ja, sy sondes bly op sy hakke
soos sy eie skaduwee

Teen skemer kom hy uitgeput
op sy geboortedorp aan
sy maag maak gromgeluide
oor sy wang rol ’n traan
hy is destyds skielik weg
soos ’n rower in die nag
hy glo nie sy geliefdes
het iets so drasties
van hom verwag

Hy is deeglik bewus
niks sal weer dieselfde wees
die tyd is ook te min
vir sy wonde om te genees
hy’t eintlik net kom vra
almal moet hom vergeef
nie eers die spesialis is seker
hoe lank hy nog gaan leef

Hy het ’n wonderlike vrou
in haar liefde verlaat
haar nie genoeg vertrou
om oor die toekoms te praat
hy’t groot planne gehad
groot drome om na te jaag
weens die invloed van sekere vriende
het hy nooit in sy doelwit geslaag

Tot onder ’n brug in Woodstock
het die wind hom gewaai
hy wens dit was moontlik
om die horlosie terug te draai
hy het die dwelms en drank te maklik
in sy lewe toegelaat
tot die dag van sy dood
sal hy homself daarvoor haat

Voor ’n huis naby die laerskool
gaan hy gebukkend staan
om die een of ander rede
is sy senuwees gedaan
hy sug en haal diep asem
skraap moed bymekaar
die oomblik het aangebreek
om die waarheid in die oë te staar

Dan swaai hy om en stap weg
nes daardie vorige keer
sonder om vir oulaas
te gaan klop aan die deur
sonder om nog een maal
vergifnis te gaan vra
of om sy hart uit te praat
oor die swaar las wat hy dra

Hy verkies om in die stilte
en alleen te gaan sterf
al is sy volgende tuiste
die ewige verderf
hy het nie lus vir mense
wat op sy kop wil preek
of vir diegene wat ’n hand
van bejammering wil uitsteek

Wat alles op hierdie oomblik
deur sy gedagtes gaan
is iets wat niemand op aarde
ooit sal verstaan
want al het hy sy menswaardigheid
onder sy voete vertrap
sal sy trots tot in die hiernamaals
soos ’n ou vriend langs hom stap

  • 1

Kommentaar

  • Johan van der Merwe

    Baie ver en baie diep en trots. Is goed beskryf in die laaste twee reëls, sal sy trots tot in die hiernamaals soos ’n ou vriend langs hom stap.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top