Hartseer

  • 6

Ek was die naweek in Clarens en ALLES was Engels.  Die besoekers was hoofsaaklik Afrikaans en selfs waar dit duidelik was dat winkeleienaars Afrikaans was, was alle, name, brosjures ens Engels.  So, met die eienaars hoofsaaklik Afrikaans en die klandisie oorwegend Afrikaans is alles Engels.  Dit is hartseer.

Vroeër vanaand kyk ek Fiësta, die uitsending gaan oor die Olyffees en alhoewel die meeste van die stalletjies, lyk dit my, deur Afrikaanssprekendes bedryf word, is al die produkte se etikette Engels – wyn, olyfolie, brood, alles.  Dit het die hartseer vererger.

Later lees ek toe Kobus Faasen se brief waar hy onder andere sê dat gedurende " ...  apartheid is hierdie taalsuperioriteit gelegitimiseer en gewettig. Afrikaans is verhef bo al die ander tale en werkers wat goed Afrikaans kon praat, is in bevoorregte posisies aangestel."  Wat 'n klomp onsin want Afrikaans was nog NOOIT in enige bevoorregte posisie nie.  Intense hartseer, weliswaar nie oor "isiBhulu" weer deur Faasen verguis word nie maar omdat die man, ooglopend een van die intellektueles, so oningelig kan wees. 

Is sy sienings verteenwoordigend van dié van die bruin gemeenskap?  Indien wel, waar kom hulle aan die soort onsin?  Hy sê byvoorbeeld "Die meeste plaasboere was Afrikaanssprekend, het gebruik gemaak van Khoisan-, slawe- en later Nguni- en Sotho-arbeid, maar steeds was sý wil wet, sý taal was die werkstaal en sý taal sou dan verder verstewig word as “die Boer se taal”.  Hieruit moet mens aflei die Engelssprekende boere het Zoeloe, Sotho en die Khoisantale gepraat.  Indien dit nie die strekking is nie is dit nog erger; die Engelse boere kon maar Engels met al daardie werkers praat maar die Boere moes, in plaas van Afrikaans, Zoele, Xhosa en Khoisan praat.  Absurd.

Hy beweer op die Kaapse vlakte het baie ouers hul kinders in Engels opgevoed weens die afkeer van Afrikaans.  Hoe werk dit?  Was hul huistaal dan nie Afrikaans nie?  As ek nou byvoorbeeld 'n gly in die bruin gemeenskap vang, sal dit OOIT by my opkom om my kinders te verengels?  Natuurlik nie.

Die werklike rede vir die opvoed in Engels is wat Breyten Breytenbach "opgradering" noem, 'n omhelsing van wat jy as beter as jou eie beskou.  Baie Afrikaners (en vir seker 'n klomp Hollanders en Duitsers ook) lei ook aan hierdie siekte.

Kobus Faasen het 'n moerse chip op die skouer; hy is kwaad en hou die Afrikaner (ek vermoed oor die verskoningvraery van die politici en die kerke) verantwoordelik vir die gebrek aan welvaart onder die bruin gemeenskap.  Dit is tyd dat hy hand in eie boesem steek om daardie balk uit sy oog te haal ('n ou sal nogal slap moet wees om dit te kan doen).  Hier op die ondermaanse skuld niemand iemand iets nie; jy is verantwoordelik vir jou eie heil.  Die Indiërs byvoorbeeld, wat ook aan sogenaamde apartheid onderwerp was, het die mees welvarende etniese groep in SA geword.

Jan Rap

  • 6

Kommentaar

  • Jan

    Jy skryf:  "Die Indiërs byvoorbeeld, wat ook aan sogenaamde apartheid onderwerp was, het die mees welvarende etniese groep in SA geword."

    Bygesê. Die Swart Somalis wat met NIKS in hierdie land inkom, en tussen die bruin mense van die skiereiland vestig, het in 'n japtrap hul lewenstandaard beter as die plaaslike inwoners verbeter, tot so 'n mate dat jaloesie die oorhand kry en word hulle winkels geplunder, afgebrand en hul lewens gedreig.  Van opnuut armoede, is hulle weer in 'n japtrap die plaaslikes ekonomies ver voor.

    Blameer hulle apartheid vir hulle lot en wag vir die regering om "handouts" soos vir die" vorige (blywende) benadeeldes" te gee?  NEE, want hulle ken nie apartheid nie, en hulle kwalifiseer ook nie vir "handouts" nie.  Hulle maak staat op eie vernuf, en gryp elke voorsienbare geleentheid aan tot eie voordeel. Hulle werk lang ure, skeep hulself aanvanklik af totdat hulle voel hulle is finansieel veilig.  Vir hulle is daar nie tyd vir toi-toi nie.

    Jaco Fourie

  • Jy's reg Jaco.  Terloops, ek het vergeet om by te sê dat die Indiërs hierdie prestasie nog GEDURENDE sogenaamde apartheid behaal het.

  • Hello, 

     
    Jacobus Faasen is so reg met die volgende, dit is net 'n dwaas wat dit sal ontken. Wie vergeet van 1925?
     
    gedurende " ...  apartheid is hierdie taalsuperioriteit gelegitimiseer en gewettig. Afrikaans is verhef bo al die ander tale en werkers wat goed Afrikaans kon praat, is in bevoorregte posisies aangestel." 
     
    Net 'n bietjie geskiedenis met 'n oop kop gelees sal die bevestig dat die gevolge van apartheid nog lank nie verby is nie. Tussen die Afrikaner en die ANC het hierdie land 'n erge geskiedenis. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Cornelius, ek stem saam. Al die "varksige" wette, soos die onteieningswette, het onder die Britse vaandel van die Unie van Suid-Afrika onstaan. Nadat Afrikaners aan bewind gekom het, wou hulle vir die ander stamme 'n eie grondgebied gee, en nou is Afrikaners die varke in die verhaal. Propaganda is 'n lellike ding,  dit was en is die Achillies Heel van die Afrikaner.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top