“Harige kwessie” deur Marius Francois Ackermann

  • 0

Harige kwessie

met interskool
so by my kool
gebeur die grote blaps
toe iemand sien
hoe die graad tien
wors uit die snoepie gaps
ai, meneer, hyg juffrou Steyn
u moet ons nou verlos
daar’s haas g’n boom
op die terrein
wat die seun uit wil los
en toe die hoof hom uit wil kryt
volg die bitt’re spyt
nie oor boom of wors
maar die gemors
op die vyfskild- rooi tapyt
meneer De Vaal
die prinsipaal
was streng dog simpatiek
die knaap knor glo vir almal
in die klas, by atletiek
mevrou dis oor dit wat kwel
dat ek u as moeder bel
u seun maak vir almal hier
die lewe louter hel
mevrou dis tog ’n topskool dié
dit sê
ons wie is wie
ja, voorspoed is ons visie
ons leuse bou en hou
skoolgeld is ons missie
anders gaan ons vou
(en met welvaart in remissie
is ons bouery geknou)
terloops, mevrou
sê die hoof geduldig
daar’s nog ’n bedraggie
aan skoolgeld verskuldig
elektronies, tjek of kaart
dis tog u kind
wat daarby baat
meneer De Vaal ek sal betaal
sug mevrou doktor
Bouvier des Flanders
die plig rus tog net op my


 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top