Natuurlik gesels ons en dis lekker. Ek persoonlik dink volwassenheid speel ’n groot rol in ’n verhouding tussen ’n man en ’n vrou. So oor die duim sal ek vir jou sê die beste vrou om na te kyk, is een wat groot genoeg is en genoeg belewe het in die lewe om te besef wat haar sterk punte is, maar ook haar swak punte. Hierdie Amerikaanse idee van “harra-harra! Jy’s altyd die beste!” staan my nie aan nie. Jy kan mos nie ’n boepens met bakbene en ’n kaalkop hê en dan verwag dat die vrouens wat in jou belangstel, moet goed versorg wees nie! ’n Mens moet in staat wees om jou seëninge te kan tel en as jou maat ’n gebrek of twee het, rondom dit kan stap ter wille van dit wat die groter prentjie vir jou gee.
Doer aan die anderkant van ons land, in die Kalahari, was daar ’n ou wat nou nie so mooi was nie en die jong vrouens het hom nie eintlik met smaak aangekyk nie. Synde dat hy nog ver van die beskawing af boer, het dit maar ’n eensame storie geraak. Toe gaan hy op ’n kol saam met ’n groep manne Johannesburg toe vir die rugby en daar ontmoet hy die aand ’n prostituut (nie dat hy gesoek het daarvoor nie want hy was te skaam in elk geval) maar sy het hom genader en hulle het daar in die sitkamer gesit en praat amper die nag deur en so paar dae later toe koop hy haar los by haar agent en hy vat haar saam plaas toe. Die omgewing het gewonder oor die mooi vrou wat die perd aangetree het en party het hulle eie opinies gehad of sy in die Kalahari sal aard, maar toe trap daai stadsmeisiekind vas en begin om te leer alles wat op daai plaas aangaan. Nie lank nie, toe bak sy brood en kook ’n hond uit ’n bos uit. Sy huis is skoon en as dit nodig is, dan help sy met die diere, enige plek op die plaas. ’n Beter vrou kon geen man vra nie en hulle het vier kinders gehad wat grootgemaak is en op universiteit beland het ... dit was eers baie jare daarna wat die storie uitgekom het, sy self het dit met smaak vertel, dat sy ’n prossie was! Niemand wou dit glo nie!
Die moral van my storie is dat hierdie vrou het geweet dat dit wat sy het, is nie wat sy wil hê nie. Toe kom haar geleentheid daar ingestap en sy vat dit en gebruik dit. Sekerlik kon sy met tye gewonder het of sy nie beter op persoonlike vlak kon doen nie, maar dan kyk sy na die groter prentjie en sien watter kant die skaal toe na neig. Volwassenheid.
Namib

