Jy moet een ding nie vergeet nie: Hoe groter die waarde by aankoop, hoe groter die inkomste by die verkoop. Dis die rede hoekom baie mense belê in groot huise langs die kus met die idee dat die dag wat hy aftree, dan het sy eiendom groot waarde wat sal help die dag as sy geldjies uit die pensioen beginne skraps raak. En dit gebeur! Waar jy 20 jaar gelede ’n lekker vet pensioen gehad het van sê R6 000 per maand en gedog het dit kan nie opraak nie, het ’n Hilux-bakkie toe net so R60 000 gekos. Vandag, kos daai einste bakkie by die R180 000 en dink jy jou pensioen sal genoegsaam eskaleer? Nie ’n kans nie, want dit beteken jy sal vandag R18 000 se pensioen moet verdien om dieselfde koopkrag te hê!
Maar dit gesê, is daar ook ’n beginsel hieraan verbonde, naamlik jy moet so koop dat jou volgende koper gaan dink jou huis is koopbaar! Waar baie boere die fout gemaak het, is om sy plaas te verkoop en die geld te gebruik om ’n huis by die see te gaan koop of bou en dan probeer hulle meer die familie tevrede stel deur genoeg plek vir al die kinders en ouma en oupa ook te voorsien vir die tye wat hulle wil kom kuier. Omdat die mense groot kamers nog ook gewoond is op die plase, om die nodige vierkante meters te haal, bou hulle meer eenvoudig om op kostes te bespaar en haal hierdie eenvoudige kasarm, die dag wat hy hom wil verkoop, eenvoudig net nie die verlangde prys nie.
Ek sien aftrede so: Verkoop al jou eiendom en sit dit om in kontant belê dit en huur dan vir jou ’n plekkie by die see ... dan moet die verhuurder al die onderhoud doen en jy kan net doen wat jy wil. ’n Eie plek by die see het geweldige onderhoud en boukoste raak elke dag duurder. Of, bou vir jou ’n kompakte tweeslaapkamerhuisie naby die see (en maak genoeg kampplek vir die kinders op die werf as hulle wil see toe kom!) wat die minimum onderhoud het en ook minder skoonmaak vir die ou vrou ... hehe! Dis nou terwyl jy rondry en visvang!
In elk geval, as jy vir jouself werk, soos ek, dan is die gedagte van aftrede eintlik nie bestaande nie ... hel, dis te lekker op die plaas! Wat kan ’n see my bied wat beter is?
Namib

