Hier by ons het ons mos maar ’n praktiese aanslag. Hierdie vriend van my het sy nuwe vrou plaas toe gevat doer in die Kalahari en sy het doer in die begin altyd netjies aangetrek met fyn skoentjies en as hulle by ’n plaashek kom, dan kyk sy net doerie kant toe die veld in en weier eenvoudig om die hek oop te maak. Dit beteken die ou moes uitklim en die hek oopmaak, die bakkie deurtrek en dan wéér uitklim en die hek gaan toemaak. Nou weet jy dalk van ons groot plase met hulle kampe en hoe baie hekke daar is? Aanvanklik het die verliefdheid nog die ding verduurbaar gemaak, maar dit mors baie tyd as ’n man haastig is en op ’n dag kry die ou die inspirasie toe hy van sy bees doer eenkant sien staan by ’n hek en hy stop die 4x4 voor die hek en klim uit met ’n: “Ek moet daai bees gou gaan kyk iets is verkeerd. Trek jy maar solank vir ons die bakkie deur die hek, skat.” Voor sy kan reageer spring hy uit die bakkie uit en stap hy doer na die bees toe sonder om om te kyk. Dit was op die middag en donners warm daar in die rooi sand van die Kalahari.
Wat kon sy maak? Sy klim toe maar uit met haar sandale in daai dik sand en nog voor sy die hek gehaal het, toe begin sy al so hogerig trap van die hitte van die sand wat deur daai dun sooltjies haar voete begin brand. By die hek, span die ketting styf om die kameelhoupaal en sy sukkel om dit oop te maak. Intussen begin sy nou so ’n riel trap soos die sand haar voete brand! Uiteindelik kry sy die hek oop en sy hol terug bakkie toe en ry hom deur. Toe’s sy terug na die hek toe en nou’s haar aksie baie vinnig om daai hek gou toe te maak en so hoog-poot hol sy terug kar toe. Intussen kom haar man uit die veld aangestap en klim in die bakkie in en maak of hy van niks weet nie en hy sê ook niks nie, maar hy kyk maar diekant die veld in om die vonkeling in sy oë weg te steek.
Daai aand, aan tafel, toe vra sy hom wanneer gaan hulle ’n geleentheid kry dorp toe? Hy vra toe wat benodig sy en sy reken toe sy dink sy moet vir die hitte van die Kalahari vir haar ’n paar velskoene aanskaf vir die slag as sy weer saamgaan veld toe! Die ou het maar saamgestem en daai aand toe hulle al in die bed is, toe vra sy: “Wat was toe fout met die bees daar by die hek?”
Hehe, lag hy. “Waffer bees?” vra hy!
Namib

