HansR en die Duitse taal

  • 0

Jy soek ’n geheim vir ’n taalgroep om te bly oorleef in ’n land en ek persoonlik dink dit is juis waar die verskil is. Ons mense is meer landelik gebonde en tradisies en geskiedenis is vir ons meer belangrik as vir stadsgebonde mense waar dinge so deurmekaar loop dat die mense nie meer die grense kan raaksien om onderskeid te tref nie. Die feit dat ’n mens Duits of Afrikaans gaan bly, hang bloot van jouself af. Ons Duitse mense het altyd gesorg dat daar Duitse skole is vir die Duitsers wat verkies om hulle kinders in Duitse tradisies en taal groot te maak. As die regering nie wil saamspeel nie, dan doen die privaat mense dit self. Dieselfde ding het onlangs na onafhanklikheid gebeur met die tradisionele Afrikaanse skole wat toe allemanskole geword het en Engels is mos die land se amptelike taal. Toe besluit die Afrikaanse mense onder hulleself om privaatskole te stig, sonder staatshulp, waar Afrikaans die onderrigtaal is.

Om vir jou ’n idee te gee van die vasberadenheid van mense, dan moet die voorbeeld van Elnatan Privaatskool op Stampriet uitstaan. Die skooltjie is begin deur die Kalahariboere wat bang was vir die taalvervreemding van hulle kinders en het die boere finansieel bygedra om die klaskamers te bou en het die skoolkinders ander pligte ook gehad, soos om self die skool skoon te maak, hulle het hulle eie groente en diere gehad en die moes versorg word, ens. Die skool het uit sy nate gebars en is vandag ’n groot skool. Plekke so ver soos Gobabis se ouers het saamgegooi en ’n bus gekoop sodat Gobabis se kinders wat by Elnatan skoolgaan, naweke kan huis toe kom. So karring hulle aan en het Elnatan se eerste rugbyspan al die groot liga van hoërskole gewen!

Dus, waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. Niemand kan jou dwing om jou eie taal en tradisies af te sweer as jy dit nie wil doen nie!

Namib

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top