Hans, ek is nie eintlik 'n taalkundige nie, en die bietjie wat ek amper vyftig jaar gelede geleer het, het ek omtrent alles al vergeet.
Nogtans, ons weet dat die ou taalvaders van toentertyd, toe hulle begin het met Afrikaanse reëls vaslê, gesê het: "Ons skryf soos ons praat." Van daardie beginsel het hulle natuurlik uitgegaan en die spelling- en grammatikareëls vasgelê, hoewel hulle miskien 'n bietjie klei getrap het, soos met die Patriot Woordeboek. Dit wil sê hulle kyk hoe die "volk" skryf en praat en laat hulle daardeur lei.
Dit bly vandag nog so te wees as mens kyk na die HAT en veral die voorwoord by die derde uitgawe van 1993. Ek het 'n deel daarvan inskandeer op my rekenaar met behulp van die "Optical Character Recognition"-fasiliteit en gee dit hieronder. Let op dat die rekenaar Afrikaanse woorde moet erken uit die skandering en dat foute voorkom. Ek het alles probeer regmaak, maar kan nie heeltemal die korrektheid waarborg nie.
"Wat dit WIL doen, is om die algemeenste woorde van Standaardafrikaans op te neem en in hulle verskillende betekenisonderskeidinge in te deel, verder met soveel voorbeelde van hulle gebruiks¬toepassing as wat die ruimte toelaat. Dit is ook die benaderingswyse van woordeboeke van die omvang van HAT in alle tale. Die ratio hier agter is dat gebruikers meestal 'n antwoord soek in terme van die sg "korrekte" gebruik, en dit is vir die gebruiker die standaardvorm. Die bewerker van 'n handwoordeboek kan egter nie alle dialektiese of streekswoorde of woorde van elke variant, of alle woorde gangbaar in die omgangstaal, opneem nie. Eerstens beskik hy nie oor die data nie en tweedens is 'n woordeboek soos hierdie nie 'n spesialiswoordeboek nie. Nogtans kry sulke woorde soms wel 'n plek. Gebruikers moet dit liewer as 'n toegif, 'n bonus beskou, eerder as om krities (of selfs teleurgesteld) daarteenoor te staan omdat 'n ander woord van dergelike aard
... (miskien 'n geliefkoosde woord uit sy of haar eie omgewing) ontbreek.
“2.2 Daar is gesê dat die algemeenste woorde uit die standaardtaal opgeneem is. Wat is nou hierdie stan¬daardtaal en wie bepaal dit? Dit is 'n baie gekompliseerde vraag en nie net vir Afrikaans nie. Dit kan nie hier in kort bestek in besonderhede behandel of beantwoord word nie. Wat tog duidelik gestel moet word, is dat in die moderne benadering en siening die standaardvorm nie noodwendig die beste, die mooiste, die oudste of selfs die algemeenste vorm van 'n taal is nie. Wat wel as stan¬daardvorm beskou word (en elke taal het so 'n vorm), word dikwels, selfs meestal, bepaal deur nietaalkundige faktore. So byvoorbeeld verwerf die sprekers van 'n bepaalde streek of groep 'n lei¬dende posisie op staatkundige, literêre of ekonomiese gebied; sprekers van ander gebiede of groepe sien dan op na daardie sprekers, en gevolglik ook na hulle taalgebruik, en probeer dit navolg. 'n Godsdienstige geskrif soos die Bybel of Koran kan 'n groot invloed uitoefen, in ons moderne tyd ook die massamedia: koerant, tydskrif, radio, televisie. 'n Mens kom by die standaardvorm uit byna deur eliminasie - daardie vorm waarna ander sprekers van die taal opsien, waarna hulle hulle eie taalgebruik graag rig, wat hulle as 'n norm aanvaar - dit is die standaardvorm. Dat so 'n vorm nie in die laaste besonderheid omskryf en beperk kan word nie, is ook waar; daarvoor is taal te seer 'n lewende organisme. In Afrikaans dien die AWS in hoë mate as rigsnoer van wat tans as Standaardafrikaans beskou word. Dat daar sedert die jongste tyd 'n beweging is om die standaard¬vorm sogenaamd te herdefinieer, is deel van 'n polemiek wat buite die woordeboeke uitgemaak moet word. Dit is onmoontlik om te weet hoe lank dit gaan voortduur en wat die uitslag gaan wees. Intussen het die gebruiker 'n woordeboek nodig. En woordeboekbewerkers is bekend daarvoor dat hulle liefs aan die konserwatiewe kant sondig."
Ek wil byvoeg, hulle kyk seker ook maar na wat in Nederlands en selfs Engels gebeur. Die wêreld het piepklein geword, inligting trek regom die aardbol teen 'n geweldige spoed.
Ek vertrou dat die bostaande jou uit jou sielewroeging oor die "daktaal" sal loswoel.
Groete,
Varkspek

