Omtrent al my stories wat ek hier vertel kom maar uit die Kaokoveld en Damaraland uit. Jy weet waar skei die twee? Doer so half by Palmwag. Daar het boere in die ou dae plase gevat en opgedaag met ’n wa dalk en donkies en so ’n klein troppie skaap en dan het hulle begin boer. Harde tye, man. Die moderne mens het g’n idee hoe hard was dit vir die mense nie. Kinders het nie geken van speel eintlik nie en moes van kleins af deel van die werkspan word wat veg vir oorlewing. Ek lees nou die dag van ’n skrywer van doer uit die Kalahari se kontrei wat reken as jy vandag met kinders doen wat hulle ouers met hulle gedoen het, dan sou jy aangekla word van kindermishandeling! Ek het ’n vriend doer aan ons kus wat in sy kinderdae ver kaalvoetspore in Damarand/Kaokoveld gestap het agter skaap en ’n dronk pa se giere aan en hy weet ek groet hom glad nie as hy nie vir my ’n storie vertel uit die ou dae nie ... dis weer tyd vir ’n lekker ene!
Namib

