Haikoes uit Poznań

  • 0

Antoinette Klein deel haikoes wat sy die afgelope anderhalfjaar in Poznań, Pole geskryf het.

antoinettehaikoes

bosse papawers
padlangs vlietende rooi streep
lens se sluiterspoed

dagbreek skud sy serp
voëls van baie vere
fladder orals uit

die goukou se blou
loop met vroegdag se lig oor
oranje strande

die gul vensters vol
oggendoonde pak baksels
op ou tafels oop

die laaste son vleg
skaduwees plasse koeltes
bolla die donker

die paynesgrys wolke
lek kombersdig bietjies reën
die tuin skep asem

duiwel-in-die-bos
die koringblom in die son
een verbleik een blou

duiwel steek pyp op
branders kook ’n storm los
wolke vol gerook

duiwelsgesiggies
blom vrolik die wêreld vol
doring in my vlees

flenters berigte
krys oulaas in die takke
saktyd vir die nag

franschhoek se massas
dog-roses dwarrel spierwit
straataf konfetti

geure en kleure
vars oor die tafel gestrooi
die ene monét

hier langs die slaapplek
tik iets of iemand iewers
vivaldi wakker

kierie-krom loop sy
rank klein tussen die mense
bokant hulle uit

kwikkienes gestroop
ingeryg aan doringtak
janfiskaal se spens

’n misreënoggend
op die rug van ’n ruspe
lê druppels silwer

nuwetyd se oes
druiwetrap en terpentyn
hang teen die wit mure

oplaas opgeruim
herfs se laastes die eerste
skoenlappervlerke

ou goëlaarwindjie
bokkoms fladder vrolik ry
op ry balke langs

pers laventelbos
somer se towenaar strooi
massas skoenlappers

pirouette plié
goor pantoffels punt oulaas
arabesque vole

reën skryf teen die ruit
’n oop sambreel lees rustig
die hele boek deur

rooiwyn laat verlang
bietjies langbeen bietjies mors
oor die hart se rand

skemer se disprin
los donker op in die nag
helder blink sterre

skielik ondervoets
rank suurlemoenmalva in
chanel nr 5

so langs die warta
herfsblare val fyn vlerkies
charon se stil tol

somerdroogte broei
’n bosbok drink bakhand uit
die tuin se hol klip

teen die stoep se hoek
bol westewind hou hom vas
yler as pyprook

vroegdag kim se naald
bontgelapte horison
paradysdag kwilt

windstil voor die reën
uit volgepakte wolke
knoop ’n reënboog oop

wintervure vort
skoorsteen eindelik weer vry
ooievaars kom nes

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top