Haikoe-kompetisie: "Vier seisoene en sewentien haikoes" deur Linky de Bruyn

  • 0

Opgedra aan jou wat talle jaargetye ook reeds deurwinter het, wat die warmte van vriendskap ken en vrede in alleenheid vind.

LENTE

Elke jaar weer
word alles stadig wakker ...
Dis nog baie vroeg.

Ysige windjie ...
Waagmoedig en sonder vrees
die eerste bloeisels.

Stil en afwagtend
net maar oop en ontvanklik
in haar bruidsgewaad.

Opgewondenheid!
alles word nou omtower ...
Kortstondig die prag.

Met elke lente
helaas ek ‘n jaar ouer
Vlinderverbyvlug.

SOMER

Net gister nog
was ons so ongeduldig ...
Nou is alles groen.

Na ‘n lang dag
bo die verkeer se lawaai
skone nagmusiek.

In oorgawe nou
kwesbaar na die son gedraai
bemin die volmaan.

Die groot immergroen
gee heeljaar deur sy blare
vir die arm bruin grond.

HERFS

Ryp koringlande
gekoesterde valleie
Najaarsnostalgie.

As die najaarsgloed
so uitbundig kan getuig
waarom dan nog twyfel?

Kerse wat stil brand
vertel dat die lewensoes
tog oorvloedig was.

Wit voëls vlerkklap
vroeg uit die slapende vlei ...
Winter is naby.

WINTER

Wintersonnetjie ...
Selfs jy gee hoop aan
gestroopte bome.

Glasblink gelukkig
is bome bladloos hulself
in afhanklikheid.

Die aandskemerte
het al vier die seisoene
berustend aanvaar.

Tyd se jaarringe
in drome en werklikheid ...
Elk se lewenslot.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top