
bobbejaan og-og
jy skuur jou bas deur van sit
en byt aan vlooie!
hy dink nog hy loop
toe lê hy dop na onder
spartel stywe-been
gister vaal en dor
vandag in oorvloed getooi
met kosmos bestrooi
sag fluister die wind
deur hoë boomtoppe heen
slaaaap ... tinktinkie ... klein
bas en blaar flankeer
met wind-en-son – snags poot-uit
kreun moeg op loom dak
saad en grond word een
lewe en sonlig versmelt
tot blom wat oopkelk
onbevlek en wit
tussen modder en biesie
aandblom in die vlei
droë blare roer
en rol in die son – om te
sterf is om te leef!
wit slanglywe wieg
regop, rankend, teen mekaar
dit is tyd vir paar
koer sonder ophou
draal perkloos van plek tot plek
duifie sonder maat
met kop-ruk, ore
wat draai, weet hy vóór die hoor
van die slot se klik
wind snerp lustig deur
blom en blaar terwyl wortels
honger smag en kleef
rotsvas verweer hy
nat en glad elk ruwe golf-
aanslag sonder vat
distels en dubbels,
knapsekêrels, boetebos
ploeg en skaar verroes
goud en rond die tjilp
straat-af toeter ‘n motor
waar’s die oggendstond?
swiep agtermakaar
plas dat die water so spat
kom, Pietkokkewiet!
pronk gekleurd geveer
decor blou en groen geblaar
tjilp met als in hom
voëlkwink bars los
met vere wat bewe van
puur lus om te leef
wilgers roer lang-tak
maan-gesig die ene frons
in waterspieël
pyn tril deur die lug
die kap van die byl word stil
skadu-en-boom-een


