
“I sing the body electric, I celebrate
the me yet to come.” - Walt Whitman
lyf
ek bewoon myself
lewenslank ingekerker
vleispaleispondok
kop
hier skuil geen spook nie
slegs rosyntjiebrein-masjien
instink van die dier
oë
klein wêreldvensters
sielspieëls, drink lig dorstig in
staar oopoog, soms blind
hande
soms glip die lewe
deur dun vingers wat biddend
gevleg stééds bewe
voete
toutrap-lewensreis
elke spoorsny-voetval lei
tot net hiér, nóú, ék
![]()
hart
voëlkougevange
agter ribbeentralies vas
sing my rooivinkhart
bloed
daar’s bloed, bloei óf kwyn
heilig soos lewe, draer
van die suur stof – pyn
dye
begeerte gedy
waar skaamteloos die blyplek
is van lekkerkry
sel
elke brokkie lyf
het ’n spiraaldigter wat
by homself afskryf
lyk
as net bene bly
sal hulle steeds ’n grynslag
op my bakkies kry


