Haikoe-kompetisie: Lyflied – ’n Haikoe-siklus deur Jan AF du Plessis

  • 0

“I sing the body electric, I celebrate
                  the me yet  to come.”  - Walt Whitman

lyf
ek bewoon myself
lewenslank ingekerker
vleispaleispondok

kop
hier skuil geen spook nie
slegs rosyntjiebrein-masjien
instink van die dier


klein wêreldvensters
sielspieëls, drink lig dorstig in
staar oopoog, soms blind

hande
soms glip die lewe
deur dun vingers wat biddend
gevleg stééds bewe

voete
toutrap-lewensreis
elke spoorsny-voetval lei
tot net hiér, nóú, ék

hart
voëlkougevange
agter ribbeentralies vas
sing my rooivinkhart

bloed
daar’s bloed, bloei óf kwyn
heilig soos lewe, draer
van die suur stof  –  pyn

dye
begeerte gedy
waar skaamteloos die blyplek
is van lekkerkry

sel
elke brokkie lyf
het ’n spiraaldigter wat
by homself afskryf

lyk
as net bene bly
sal hulle steeds ’n grynslag
op my bakkies kry

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top