Haikoe-kompetisie: Haikoes deur Adéle Theron

  • 0

jou tuin se rose
drup dou deur my hart se geut,
so mals blom ons liefde

soos geel somerson
van koring, volryp in die aar,
kom vul jy my hart

somerstorm pulp
plase se kraakkorsvleie,
Karoo-lewe juig!

miere skarrel rond,
hulle ondergrondse spens
boepensrond te vul.

Namakwaveld vol
gesiggies, herfskleurig geverf,
ons land se hemelstuin

tydens herfsblare
se geskarrel om te sterf,
meng aardsgeur en graf

langs horison soek
ouvolk en skurwejantjie
warm straaltjies sonlig

een-en-twintigste
junie juig my hart se klop:
die son draai terug!

met haar oë anderkant
die horison rystoel sy,
eensaam haar moedersdag

met vreugde in Meimaand
oes die lande in oorvloed,
gee ons tiendes aan Hom.

dagbreek tot skemer
herout met najaarsweemoed
hierdie nag-ewening

vader son largo
rondom siësta verby
soek-soek na sy kooi

knie en pak die deeg
vol anys of karringmelk,
droog die kersfeesbeskuit

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top