skrik in my blink gang:
gestreepte sjongololo!
hadidas ha-ha
nat en sleepselglad
lê sy spoor op slakkepas
wegkom kan hy nooit
stukkies stof dans rond
gevang in skewe sonstreep
koud en weg daaruit
vreemd die tweevoetval
lowergroen stilte hang klam
bedek skugter-vlug
ongesteurd seil hy
swart en glad van tak tot tak
misken voël-angs
gewyde bosuur:
katedraal se lig gedemp
deur klam lowerspel
warm-rooi tong verteer
voete vlug, trane verblind
struikelval verward
gras lê swart veras
druppels sug-plof huiw'rig neer
pols lewe terug
grassade buig skeef
voor die aanslag van die wind
knak is nié bly leef!
poeletjie water
muskietlarwes kleef vergroen
môre droog gebars
druppels verwasem
om hierdie keer te ontduik
aan wegsyfering
lemoenbloeiselgeur
aangedra op aandroering
laaf snikhete dag
winterverstarring
deur reën en son ontsluit
kleur en geur bars los
skulpie op die sand
jy’s blou of groen of net waas
requiem vir wat?
gesperde kake
in groen seedieptes klap toe
skool vis skoonveld weg
seegolf op seegolf
maal en draai en kolk tot kom
beef van een skuimbol
wriemel tevergeefs
soutlyf spartel blink van see
glans vervloei in net
kat op in die boom
hond tjank en blaf om baasskap
fataal, so gegrond!
grasnessie gevleg
eenvoudigste van als – dáár
strooi die son sy goud!
blaartjies wikkel-dans
kielierig saam met windvlaag
wat tart sonder skroom
nat-glad glip miswolk
tussen rotsvingers deur – hang
stuk-stuk uitgepluis
toktokkie spartel
en spook al bo-oor die klip
weet hy nie van óm?
met rooiswart vlerkstrek
klink sy vlugroep skor en kru
Loeriemaat skuil sku
kaal van blom en blaar
gryp sy tak uitgedor na
gans nuwe seisoen
windgeweld vergeefs
blom en blaar klou wortelvas
aan knol diep gegrond
bosreus gehard en
taai ril en beef teen die kap
en swaai van die byl
paar-paar uitgestrooi
wit-en-blou, groen-en-rooi g’n
plek vir een alleen
bont kapokhaan kraai
met vlerkklap sy koningskap
vroegdag opgekerf
droewig roer die wind
deur die droë dor lug – waar is
al die wolke heen?
druppels hang geklok
luid bars voël-eufonie los
en die son lag saam
byltrillings? dit kom
van daar onder af – hier bo
is tog geen gevaar?
wolke maal en grom
sonder asem wag die wind
druppels plof in die stof
waterval bruis ’n
miswasem wat lowergroen
varings laat rondtas
blare skarrel-vlug
tussen windvlae stof wat
nie mooi weet waarheen
snikhete middag
vou sy loom kombers oor pomp
en dam – rimpelloos
skop hoog agterop
miskruier se wikkeldans
miskoek moet mos rol!
droewig kring die wind
al soekend om elk hoek – waar
glip die wolke heen?
blink gryp ’n druppel
dou die vroeë môreson
vir ’n oomblik vas
hondjie vol van pret
grom-blaf om jou eie stert!
Het jy dan geen end?
nessie waai en swaai
wind ruk en pluk skoon verniet
grasvlegseltjies klou
swart en blink glip sy
gladde lyf, krul met gemak
al sáám met die tak
lentetooi is hier!
wit en pers en pienk gestrooi
kosmos-konfetti
margrietjies bont-mooi
droom gesig na die son – teen
môre flets verlep
sonstrale heel vroeg
omtower spindraadjies fyn
tot dou-reënbogies
zoem al op en af
zoem sy laaste kragte uit
neus vas teen die ruit
wyd en stil die stroom
krans en klip perk in – verskeur –
tuimel bruisend neer
laatdag smelt weg tot
rooi en pienk en pers en blou
nag strooi maan-as uit
bloekom gegrof van
stam en blaar gooi skadu oor
graf in melkwit nag
duifie spring sywaarts
kraalogies verstar – stukkie
koek vertrap tot gruis
swael gemanel
vlug voor die winterkou of
jaag die somer na?
geelvink ken van raas
en uitmekaar pluk nog voor
’n blaar weet van val!
golwe ru en rof
gryp en gier oor elke rots
glip glad-skuimend terug
Kommentaar
Jou ongesiende trane in die nag, sal pappa laat wag, my hart is ook stukkend