
janfrederik roep
piet-my-vrou antwoord heel gou
hoe gul die lente!
jy stap die lang pad
ek strompel-struikel kortpad
soms mis ons mekaar
lentekind is jy
winterskulp se slaap ontwaak
lelie-fyn volmaak
ou bleshoender klein
sleep jou eie rimpeling
trek jou lewenslyn
swewende volmaan
giet swygend sy goud oor see
se glansberoering
waterfonteintjie
kabbel-klets druppel-draal
gesels onverpoos
op wieke sweef jy
op branders wiegend leef jy
driehoek spoor op sand
langs strandpaadjie groei
aronskelk teen kappertjie
in fluistergesprek
brose spinnerak
krag verborge ragfyn prag
web weef bewend lewe
seemeeue huiswaarts
sononder te rus, te slaap
slapeloos die see
swaeltjie swenk snel
span sierlike syferboë
trek somer se spel
trotse lowerboom
koel skadukroon gedoem
wintervuurherd vonk
populierdansers
trillend teen ysbloue lug
herfsballet vaarwel
halfmaanbeligting
streep slingerweerkaatsing
eb en vloed gevoed
waterlelie-nimf
dein blank-rein buite bereik
afstand jou geheim
woedende vuurtonge
windgedrewe donker nag
verlig geskrewe
vier wit ibisse
streep moeisaam; so sekelswaai
skewe silhoeët
wedvlugduifvlerke
versilwer in middagson
fladder flink vaarwel
seewind verwronge
brand verteerde ou bome
onverdiend geskend
tyd-verweerd en ru
ontfermde klipmuurstapel
skuilend smag wit blom
motorband langs drom
oud – verfbesmeer, roesverweerd
nut verwerp en stom
pers wisteria
blom vaarwel-groet aan somer
vroeë winterstroos
reënruit-stofstrepe
slingerend na benede
abstrak geëts
’n blaar dwarrel af
goudgeel – te rus op groen mos
te sterwe, te voed ...
oggendvroeg duifie
pik vir pik meet tree vir tree
skadu-metgesel
dig geblaarde bos
mosbebaarde stam bewaak
geheime volmaak
somerkleure vleg
bont kransies om op te hang
vir wintersonthou
sierlike seiljag
wit seile suisend gespan
– paspoort na iewers
wyse seemansoë
peil, pet-verskuil, takserend
wolke, wind, wesens
verweerde ou huis
ongeliefd, oorgroei, alleen
in stil bepeinsing
leiklip slakspore
soekend soos menselewens
vleg verdwaalpaaie
sou die Goot Verfkwas
dalk een jaar vergeet te verf
die geel; die groen; die blou ...
seepbel-oomblik blink
vingeromsluit gekoester
in brose vreugde
donsveertjie-asem
troostend teen my wang wasem
word geluk geweeg ...?
stil brandende kers
alleen gekose genoot
starend verstil leed
om net stil te staar
hoe vlerk in vlug versilwer
vryheid vorm geskryf
in blou toegevou
’n druppel van die lug gegun
bevoorregte blom!
vae voetspore
getrap oor vreemde paaie
is al wat oorbly ...
ek het jou verloor –
tussen seerkry-kruispaaie
soek ek voetspore ...
masker-beskermd leef ons
daarsonder immer beef ons
verwaand-bevrees


