Haar laaste asem

  • 1

Swaar en stadig dein haar bors, asem in en asem uit, in en uit. Lerené lê roerloos op haar hospitaalbed. Die swart kringe om haar oë is in sterk kontras met haar wit bleek vel, haar blou oë wat altyd skitter van blydskap is nou moeg en al die pyn en lyding is duidelik daarin sigbaar. Sjloes-sjloe, sjloes-sjloe, sjloes-sjloe is die aaklige geluid wat die masjien langs haar maak. Sy hoor hoe die wind buite die venster sing en voel die koue lug die kamer vul. Dis in die middel van die wintervakansie; party is weg op vakansie en ander sit voor warm vure met Milo en gesels rustig oor die lewe terwyl sy wat Lerené is hier lê in die hospitaal met die aaklige antiseptiese reuke wat deur die lug trek en wonder of vandag haar laaste is – sal haar liggaam nog ‘n dag die ondraaglike pyn kan weerstaan?

Die hospitaaldeur word oopgestoot en haar ma en pa kom binne.

“Hoe gaan dit vandag my liefie?” vra haar ma en kom sit langs haar bed op die harde hospitaalstoele.

“Maar [sy stop om asem te kry] ...

dieselfde.”

Haar pa kom staan langs haar ma, ‘n diep frons vorm tussen sy oë, hy sug swaar.

“Pappa kan [sy stop weer, gaan dan gebroke weer voort] ...

maar

kom sit

op die bed.”

“Dankie my skat, maar ek is reg om te staan.” Haar ma leun na vore en vat een van Lerené se koue, bleek hande vas.

“My skat, ons sal hier deurkom, jy sal sien,” sê haar ma so asof sy haarself probeer oortuig, en gee Lerené se hand ‘n drukkie.

Lerené knik haar kop effens.

Die hospitaal se kamerdeure gaan skielik oop, haar ouers draai albei na die deur om die dokter te sien inkom.

Hy gaan staan voor haar bed.

“Hoe gaan dit vandag met jou?” vra hy en kyk bekommerd na Lerené.

“Geen verandering nie, Dokter, dis nog dieselfde,” antwoord haar ma voor sy iets kon sê.

Die dokter knik sy kop. “Kan ek julle twee gou asseblief buite sien?” vra hy en begin deur se kant toe stap. Haar ouers volg stadig.

Dis twintig minute later toe hulle weer die deure oopstoot en haar ouers instap. Haar ma se oë is rooi gehuil, so dit kan nie goeie nuus wees nie, dink Lerené.

“Wat ...

het hy

gesê?” vra Lerené met moeite.

“My skat ...” Haar pa se stemtoon verklaar dat dit nie goeie nuus kan wees nie. “Die dokter het gesê dat as die chemo nie ‘n verandering binne ‘n maand begin maak nie, gaan hulle jou asemhalingstelsel moet ... afsit en jou huis toe stuur, hulle kan niks meer vir jou doen nie.” Haar pa sluk swaar en haar ma begin weer ruk van die huil.

So die dokters wil my doodmaak nog voor dit my tyd is? vra sy haarself.

“Nee,

hulle kan

nie.”

Sy haal swaar asem.

“Ons glo die chemo sal ‘n verskil begin maak, ons moet net vasbyt.” Haar pa vryf oor Lerené se bleek kaboutergesiggie.

***

Die dae gaan verby en die winter verander so deur die tyd in lente. Die blomme begin bloei en die voëltjies sing vrolik in die bome. Sy verlang terug na die koel tintelende water van die helderblou swembad en die gelag van haar maats.

“Môre is dit ‘n maand,” dink Lerené hartseer. Haar ouers sit om haar bed wat al toegepak is met teddiebeertjies, beterwordkaartjies en ballonne. Môre is ‘n maand en die chemo het nog geen verandering aan haar toestand gebring nie.

Haar ma sit en slaap op die een stoel en haar pa staan voor die groot venster langs haar bed en kyk moeg na buite. Lerené druk die een teddiebeer styf teen haar bors vas. Hy is wit en hou ‘n hartjie vas wat sê “LOVE YOU”. Haar ma het dit vir haar gegee.

“Pappa?” Haar pa draai na haar toe.

“Sal hulle ...

regtig my

masjien

afsit?”

“Ek weet nie my skat. En dink nie so nie.” Sy stem klink onseker.

“Maar ...

wat ook al

gebeur,

ek is

baie lief

vir Pappa

en

Mamma.”

Sy blaas haar asem stadig en swaar uit.

“Ons vir jou ook, my skat.” Hy glimlag en druk haar hand liggies.

Lerené glimlag flou, en dis toe wat sy haar asem vir die laaste keer uitblaas.

***

Die dag was grou en almal se gemoedere swaar. Die begrafnis was waarlik sleg gewees. Daar was baie familie en vriende wat totsiens wou kom sê.

Lerené se woorde aan haar die oggend voor sy oorlede is weerklink in haar ma se kop terwyl die kis stadig afsak. Sy sal dit vir altyd saam dra. “Dis heerlike lente, die winter is verby, ek hoop om julle elkeen eendag in God se koninkryk te kry.”

  • Simoné du Plessis is veertien jaar oud.
  • 1

Kommentaar

  • Jeanette Dippenaar

    Ek hou van jou storie en ek hou van jou skryfstyl. Hou aan skryf. Jy het beslis talent!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top