Haai Karoo
Etienne van Heerden
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624056157
Koop Haai Karoo by Kalahari.net
Onlangs het daar ’n bloemlesing kortverhale van Etienne van Heerden verskyn. Van Heerden het só bekend geword as romanskrywer dat ’n mens byna vergeet van sy belangrike bydraes as kortverhaalskrywer. Hierdie bloemlesing bevat verhale uit die bundels My Kubaan en Liegfabriek; dit bevat ook die lang kortverhaal “Die gas in rondawel Wilhelmina”, wat oorspronklik saam met ’n Nederlandse vertaling daarvan gepubliseer is.
Die titel van die bloemlesing is Haai Karoo; die haai hier is natuurlik nie die teenoorgestelde van Engels low nie, maar het die betekenis van “dor”, “kaal” en “verlate”.
Die Karoo-motief is deurlopend in al die verhale. Die haai van die titel is nogal ironies, met die huidige vooruitsig van breking in die Karoo. In dié lig gesien, is die bundel ’n huldeblyk aan die Karoo met sy uitgestrekte verlatenheid, wat op soveel mense, ook skrywers, ’n diepgaande invloed uitgeoefen het.
Die Karoo-motief sluit aan by die tema van verbondenheid aan die Afrikaanse plaas en die Afrikaanse platteland. So word byvoorbeeld in die verhaal “Gemeenplase” ’n aantal Afrikaanse skrywers byeengebring wat die innerlike besit van ’n plaas met mekaar gemeen het. By dié skrywers het dit meestal nie gegaan om die bloot realistiese uitbeelding van die plaas nie – soos dit in hierdie verhaal gestel word: “Miskien het die Doornbosse en Jakkalsdraaie en Rust-mijn-ziels afmetings in die landskappe van ons geheues aangeneem wat buite proporsie is” (102). Die plaasmotief was dus by ’n aantal Afrikaanse skrywers, en sekerlik by Etienne van Heerden, die stimulus vir verbeeldingsvlugte vér verby die plaaslike toneel.
Twee van die verhale kom ook (in gewysigde vorm) voor in Van Heerden se roman Kikoejoe, maar is tot volkome selfstandige kortverhale omskep. Hulle is “Die wederopstanding van Olive” en “Die gas in rondawel Wilhelmina”. In laasgenoemde kom die seun Fabian in aanraking met verskillende lewensmoontlikhede: dié van sy pa met ’n eng siening van Afrikaner-geskiedenis en -identiteit; van sy tante Geertruida, wat reis tussen Amsterdam, Londen en die Karoo, en wat hom aan ’n groter wêreld wil bekendstel; sy Engelse ma en die Engelse bibliotekaresse wat hom met die Engelse literatuur in aanraking bring; en ook die hoofkelner Reuben, die leergierige swart man wat onvanpas is in sy ondergeskikte posisie op die plaas. Uit al hierdie verskillende indrukke moet die jong Fabian sy eie keuses maak en sy eie identiteit bepaal.
In “Die wederopstanding van Olive” gaan dit om die skep van ’n alternatiewe identiteit, anders as een wat vereenselwig word met die heersende konserwatisme in Afrikaner-geledere. In dieselfde tyd dat ereburgerskap van die tuisdorp aan dr Verwoerd toegeken word en ’n groep Afrikaner-mans met verskriklike geweld teen swart mense optree, roep ’n Afrikaner-seun sy swart maatjie Willempie om hom met ’n uitdagende taak te help. In ’n verbeeldingryke toneel grawe die twee seuns die beendere van Olive Schreiner op wat net buite die dorp begrawe is, voeg dit aanmekaar met draad en gare, en heg dit aan ’n kruis, met die hoop dat haar beendere weer tot lewe sal kom. Die gedagte is dat die progressiewe visie van Olive Schreiner moet heropstaan, dat dit nuwe lewe moet bring in ’n land wat aan die sterwe is. Die toneel roep die kruisiging en opstanding van Jesus op, asook Opperman se gedig “Gebed om die gebeente”, oor die herrysenis van Gideon Scheepers; en verder die visioen in Esegiël 37 dat die doodsbeendere van Israel tot lewe gewek sal word. Die verhaal is besonder belangrik in die oeuvre van Van Heerden, omdat dit so helder sy siening van die literatuur weerspieël: dat dit nuwe lewensmoontlikhede kan bied in ’n samelewing wat innerlik sterwe uit ’n gebrek aan verbeelding en erbarming.
’n Treffende verhaal, in magies-realistiese styl, is “Dol hond”. Jakadas trek met sy gesin in hul donkiekarretjie weg van die plaas waar Jakadas gewerk het, omdat die boer hom onregverdiglik geklap en verneder het. ’n Geheimsinnige hond, wat skynbaar hondsdolheid het, bly die karretjie agtervolg, en Jakadas kry ’n suspisie dat dit die gees van sy oompie Danster is wat gesterf het van die byt van ’n dol hond. Die hond wat hulle agtervolg, blyk hulle in werklikheid na geluk te lei, en die verhaal kry ’n sprokieseinde wanneer Jakadas en sy familie ’n weelde beleef wat hulle vroeër nooit beskore was nie.
Die hoogtepunt in die bundel is miskien die verhaal “Die biskop en die bul”. Dit speel af in ’n tyd van rasse-onrus, wanneer ’n skare opstandige swart mense optrek na die begrafnis van vyf mense wat kennelik slagoffers van apartheid was. Medespelers in hierdie drama is die boer Tokkie, wat pas ’n peperduur stoetbul gekoop het en dit huis toe vervoer, en die swart biskop wat vrede probeer handhaaf in ’n tyd van onrus. Uiteindelik beland boer, bul en biskop tussen die opstandige skare, wat chaos veroorsaak. Die biskop leer in hierdie situasie wat sosiale betrokkenheid beteken: dat hy ’n radikale liefde moet beoefen wat hom in die skare in laat beweeg, om sy lewe op die spel te plaas, om as ’t ware die rol van ’n offerdier aan te neem. Die storie het ’n oop einde, met die biskop wat in die rigting van die bul beweeg, die skare wat tot bedaring kom, en die moontlikheid van vrede deur die heldhaftige ingryping van die biskop.
Haai Karoo is ’n bundel pragtige verhale met ’n gepaste hulde aan die Karoo wat dalk binnekort nie meer die Karoo gaan wees nie.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter