"Gypsy en die duiwel" deur Anthanique Nienaber

  • 0

Gypsy en die duiwel

Die duiwel het sy jas vir jou geleen, en sy glimlag in jou oë versteen.
Ek staan in die middel van ‘n kruispad en wag vir my goue viool
Die nag om my skouers, en my siel in my hand.
Ek het dit jare terug al aan jou verpand.
Adam is maar net ‘n mens, en sal my nooit verkwik.
Lyk my ons het mekaar heel ingesluk.

Gypsy wil met die duiwel dans,
Tango tot by die ewigheid verby.
Gypsy met haar derde oog,
verlei en verbyster met towerkrag.
Eendag is eendag Satan, sal ek jou bind
en ekstase sal ons albei verslind.

Die kruispad is stil, en jou woorde en oë wreed.
Maar duiwel, luister mooi, jou drome sal my nooit vergeet.
Die sirkel is geteken, en daar is vuur in my oë, my hande en mond.
Ons kom van dieselfde onheilige, wonderlike plek.
Duiwel jy soek hitte net soos ek
As jy ware sonde wil pleeg, hier is ek,
Voel hoe my heupe, hart, sweet en passie beweeg.

Gypsy wil met die duiwel dans,
Tango tot by die ewigheid verby.
Gypsy met haar derde oog,
verlei en verbyster met towerkrag.
Eendag is eendag Satan, sal ek jou bind
en ekstase sal ons albei verslind.

Klingel klingel klokkies, kaalvoetkoningin.
Te veel mense wens dat ek hulle vreugde kon bring.
Faustus verbeel hom, hy het agter my masker gesien.
Alles net ‘n drogbeeld van jakkalshongerte en -lus.
Niks kan ooit gypsy-vuur blus.
Duiwel, selfs die vuilste vuil word met vuur skoongebrand.
Ek is nie bang, kom vat my hand.

 

     

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top