Gymnopédies

  • 2

1.

’n skyf lig smelt soos kerswas buite die ruit

onder my vingers
is die tafel se metaalgrint
‘n knoppieswerk van ou vel

weer kom die musiek by
erik is laat vannag

alles is nie meer donker
soos in ‘n huis sonder note nie

net uile se raafsels veer
asof ingeblaas deur die oop raam

2.

gryp vas en skeur
die laaste blare van die tak
dis die blare vir fynvysel
of invryf in die bredies

los kaal die boom op die vlak
tien teen een kom boemelaars
hoenderbene begrawe by sy stam
wat kan eiermaak in die lente

3.

kaal takke of geel blare
waar jy struikel oor die grot se lip
heilige skerf in die hand

anderkant die heining
meteens die bopunt van ‘n kerk
vroue in die tuin en kinders
wat die geel blare opgooi
soos stralekranse en vlinders

4.

stoot uit die sappige vrouelyf
in die winkelvenster
maar draai haar dye na die ruit

kinderstront oumanslym jongmanskom
sal die krake en kepe in haar lyf
volg teen die glas

is dit vroue wat die glas sal bestorm
sal kap en moker en skreeu
draai haar om draai jou om draai om
draai jou borste na die straat toe

  • 2

Kommentaar

  • De Waal Venter

    Om hierdie gedig beter te verstaan, is dit goed om te kyk na die betekenis van die woord "gymnopédies".Die Franse komponis Erik Satie het in 1888 drie klavierkomposisies gepubliseer met die titel " Gymnopédies". Dit is kort, atmosferiese stukke in ¾ tyd geskryf en met 'n gemeenskaplike tema en struktuur.  Die melodieë gebruik ligte dissonansies teen die harmonie wat 'n pikante melancholiese uitwerking het. Die uitvoeropdragte skryf voor dat die stukke stadig en "droewig" of "diep ernstig" gespeel moet word.Die musiek is moontlik gebaseer op die poësie van J.P. Contamine de Latour (1867–1926) wat 'n gedig geskryf het, getiteld "Les Antiques" (Die mense uit antieke tye). Hier is 'n paar reëls uit die gedig:    Oblique et coupant l'ombre un torrent éclatant    Ruisselait en flots d'or sur la dalle polie    Où les atomes d'ambre au feu se miroitant    Mêlaient leur sarabande à la gymnopédieSkuins en skadu-snydend 'n flikkerende stortvloed stromend in goue golwe oor die glansende klipplaat waar die atome van amber weerspieël in vuur en hulle sarabande met die gimnopédie vermeng(Uit Frans vertaal deur De Waal Venter) Latour kon moontlik een of meer van die volgende konnotasies van " gymnopédie" in gedagte gehad het:Dans – 'n dans soos die sarabande.Naaktheid – vergelyk "gimnastiek" wat naak bedryf s in antieke tye. Oorlog – die woord het in antieke Grieks gedui op 'n oorlogsdans.Religieuse seremonie.Marius Crous se gedig is kennelik in ooreenstemming met die "droewige" en "diep enstige" toonaarde. Mens sien dan ook in die verskillende strofes die herhalende tema van verval, ouderdom, kaalheid, uitwerpsels .Ek wonder of die digter al die konnotasies van "opgooi" wil bedoel in "vroue in die tuin en kinders/ wat die geel blare opgooi"?As mens kyk na die laaste strofe met: " kinderstront oumanslym jongmanskomsal die krake en kepe in haar lyfvolg teen die glas" ...lyk dit of dit wel so is. Hierdie interesante gedig van Marius Crous leen hom tot heelwat ontginning. Die verwysing na Satie se "gymnopédie" is net die begin.

  • Bibi Slippers

    Hallo De Waal

    Baie dankie vir die insigryke kommentaar.  Beslis een van die vreugdes van 'n gedig met meer om die lyf as rympies en soet sentimente - hier kan 'n mens delf en delf en aanhou delf en ieder maal iets vind om jou oor te verwonder. 

    Dis lekker om te weet daar is nog mense wat besig is om die een uit te pak by die huis.

    Groete
    Bibi

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top