Die rolprent Woman in Gold word tans in teaters vertoon. Dit handel oor een van Gustav Klimt (1862-1918) se beroemde skilderye, 'n portretstudie (voltooi in 1907) van Adele Bloch-Bauer (1881-1925). Hierdie skildery is deur Adele aan haar man Ferdinand (1864-1945) nagelaat, wat dit op sy beurt aan familielede, onder andere Adele se niggie Maria Altmann (1916-2011), bemaak het. Dit is een van vyf Klimt-skilderye van die Bloch-Bauers wat deur die Nazi's gekonfiskeer is en in die besit van die Oostenrykse owerheid beland het. Altmann het suksesvolle regsprosedures van stapel gestuur. In 2006 is hierdie skilderye aan haar en haar familie in Amerika terugbesorg. Die skilderye is daarna teen meer as $327 miljoen op veilings verkoop.
In 1912 het Klimt nog 'n portretstudie van Adele voltooi. Dit was een van die genoemde vyf skilderye en is in 2006 vir $88 miljoen verkoop. Wat in die tweede skildery ontbreek, is die bladgoud wat so kwistig in die 1907-studie gebruik is en so kenmerkend van Klimt se skilderkuns in daardie tydvak was. Hierdie skildery het $135 miljoen op die veiling behaal. In 2012 het Anne-Marie O'Connor 'n boek, The Lady in Gold, gepubliseer waarin die verhaal waarop die rolprent gebaseer is, vertel word. Daar was in daardie tyd talle ryk mense, dikwels Jode, wat hulleself of familielede in skilderye wou verewig. Hulle was 'n belangrike bron van inkomste en oorlewing vir skilders. Byvoorbeeld, die filosoof Ludwig Wittgenstein (1889-1951) se suster Margarethe (1882-1958) is in 1905 deur Klimt geskilder.
Daar is baie verhale van skilderye en ander waardevolle items wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die hande van die Nazi's beland het. Toe die Jode inderhaas uit veral Duitsland en Oostenryk moes vlug, is sommige skilderye spotgoedkoop verkoop, bv om geld vir die reis en vir verblyf in die vreemde te bekom. Baie Jode uit hierdie lande het hulle lewens in Amerika voortgesit. Een van die probleme wat na die oorlog opgeduik het, was om te onderskei tussen die skilderye wat onwettig gekonfiskeer is (soos in die geval van die Bloch-Bauers) en dié wat destyds wettig deur die eienaars verkoop is (soos skynbaar die geval met Alma Mahler was).
Klimt en die komponis en dirigent Gustav Mahler (1860-1911) was tydgenote. In Wene het hulle mekaar goed leer ken. Mahler was die eerste man van Alma (1879-1964), die dogter van die skilder Emil Schindler (1842-1892). Voordat sy Mahler leer ken het, was Alma bevriend met Klimt, asook met die komponis Alexander von Zemlinsky (1871-1942). Klimt, ietwat van 'n ruwe diamant, was 'n huisvriend van die Schindlers en bekend as 'n rokjagter. Alma se stiefpa, die skilder Carl Moll (1861-1945), en haar ma Anna (1857-1938) het dit gerade geag om haar vriendskap met die heelwat ouer Klimt te beëindig. Hulle het ook haar verhouding met Von Zemlinsky ontmoedig. In 1902 het sy met die nog ouer Mahler getrou, onder meer omdat sy na analogie van haar pa toe 'n Freudiaanse verering vir ouer mans gehad het. Dié huwelik was egter nie danig gelukkig nie. Daarna het Alma jonger mans verkies.
Van 1915 tot 1920 was Alma getroud met die argitek Walter Gropius (1883-1969), van wie sy geskei het. Van 1929 tot 1945 was sy met haar derde en laaste man, die skrywer Franz Werfel (1890-1945), getroud. Daar was tussendeur ook 'n lang verhouding met die skilder Oskar Kokoschka (1886-1980) en met die Katolieke priester Johannes Hollnsteiner (1895-1971). Onlangs het daar 'n boek verskyn wat heelwat onvleiende lig op die doen en late van Alma werp: Oliver Hilmes se Malevolent Muse: The Life of Alma Mahler (Boston: Northeastern University, 2015, 348p; Amazon Kindle $24.21). 'n Soortgelyke negatiewe beeld van Alma word in Henry-Louis de la Grange se Mahler-biografie geskep (vier boekdele, 4712 bladsye, terwyl 'n hersiene, uitgebreide deel 1 in die vooruitsig gestel word).
Op Kersdag in 1916 is Alma en Gropius se dogter Manon (1916-1935) gedoop. Op daardie dag het hy die skildery Summer Night at the Beach (1902-1903) van Edvard Munch (1863-1944) aan haar geskenk (Kindle 2396). Van 1937 af is die skildery in die Oostenrykse kunsmuseum in Wene (later bekend as die Belvedere) uitgestal, nadat Alma dit aan hulle geleen het. In 1938, toe Alma en Werfel voorbereidings getref het om weg van die anti-semitisme en Nazi's te vlug, het sy via Moll dit teen 10 000 Oostenrykse schillings ($51 000) aan die museum te koop aangebied (4115). Voor dit het Alma dit oorweeg om van Werfel te skei (4227), onder meer omdat sy, anders as Werfel, nie Joods was nie en dus nie nodig gehad het om te vlug nie. In 1940, nadat Alma en Werfel hulle in Amerika gevestig het, het Moll die skildery teen 7 000 reichsmarks ($38 000) aan die museum verkoop omdat dringende herstelwerk aan Alma se Oostenrykse huis in Breitenstein gedoen moes word (4115, 5087). Na die oorlog en Moll se dood Alma "repeatedly claimed that her stepfather had not been authorized to dispose of her property, which was why the precious artwork had to be returned to her" (5069). In 1947 kon sy tydens 'n besoek aan Wene nie hierin slaag nie. Alma het gevolglik besluit om nooit weer haar geboorteland te besoek nie (5095); selfs nie toe Mahler se geboorte na 'n eeu in 1960 met talle uitvoerings van sy musiek gedenk is nie.
Gustav Mahler en Alma het twee kinders gehad, Maria (1902-1907) en Anna (1904-1988). Anna, 'n beeldhouer, het haar ma oortref deur vyf keer te trou. In 1943 is Anna se dogter Marina uit haar vierde huwelik, met die dirigent Anatole Fistoulari (1907-1995), gebore. Marina is tans die enigste direkte afstammeling van Mahler, sedert die oorlye van sy ander kleindogter Alma (1930-2010), uit Anna se derde huwelik, met die uitgewer Paul Zsolnay. Haar tweede huwelik was met die komponis Ernst Krenek (1900-1991).
In 1953 is Alma se aandrang op die teruggawe van die Munch-skildery weer geweier. Na haar dood en dié van haar dogter Anna, het Alma se kleindogter Marina, wat sy 'n "little brat" genoem het (5420), voortgegaan met pogings om die skildery terug te kry. In 1999 is so 'n versoek nogeens geweier. In hierdie eeu het daar toenemend skuldgevoelens oor Nazi-gekonfiskeerde eiendom in verskeie lande ontstaan. Byvoorbeeld, in 2001 is meer toegeeflike wetgewing hieroor in Oostenryk aanvaar. In 2006, dus in die jaar toe die Bloch-Bauers hulle Klimt-skilderye terugontvang het, was Marina suksesvol met haar eis vir die teruggawe van die Munch-skildery. Dit is in 2007 in Wene aan haar oorhandig.
Inligting oor die teruggawe van die Munch-skildery kom nie in Hilmes se boek voor nie, maar is op die internet beskikbaar. Dit kan stof vir nog 'n rolprent wees. Intussen is die liggaamlike oorskot van Gustav en Alma Mahler besig om tot stof in die Grinzing-begraafplaas buite Wene te vergaan. Sy dogtertjie Maria is in dieselfde graf as Gustav begrawe, terwyl Alma daar naby langs haar dogter Manon rus; Manon wat as baba gesorg het dat Alma die Munch-skildery as geskenk ontvang.
By die eeuwisseling in 1900 was Alma die mooiste vrou in Wene (5783). Teen die einde van Hilmes se boek word sy beskryf as "the muse of the great artists without being it" (5836). Wat ek my al telkens afgevra het, is: Hoeveel beter sou Mahler nie as komponis gevaar het as hy nie met die egosentiese, histeries-neigende, alkoholistiese Alma getroud was nie? Ook: Watter verdere grootse werke sou hy nie geskep het as hy langer as daardie skrale 50 jaar kon gelewe het nie? Mahler is aan 'n keelinfeksie dood wat sy hartspiere aangetas het; 'n ongesteldheid wat veral sedert die jare veertig suksesvol met penisillien opgeklaar word; maar toe was hy al 30 jaar dood.
Johannes Comestor


Kommentaar
Ek wil net verduidelik dat die inligting in Hilmes se boek uitstekend nagevors is. Die oorspronklike teks is in 2004 in Duits gepubliseer. In 2014 het hy die voorwoord by die Engelse vertaling geskryf, maar uiteraard nie probeer om sy teks by te werk nie. Dit is dus nie vanwee 'n oorsig dat hy nie oor die uiteindelike lot van die Munch-skildery geskryf het nie.
Wie weet, dalk het Alma se storms en onweer gesorg vir voortdurende emosionele hoogte- en laagtepunte by Mahler, wat net so in sy werk gehoor kan word. TS Eliot het mos ook sy beste werk gelewer toe hy met die hoogbesnaarde en labiele Vivienne getroud was. Die mammie met wie hy later jare getroud was, was geen muse nie.