Groot Afrikaanse Romanwedstryd: Commendatio – Liefste Lena

  • 0

Liefste Lena is ’n goed-afgewerkte roman wat ’n mens verras met ’n onkonvensionele aanpak van bekende temas in die Afrikaanse literatuur. Een van die boeiende eienskappe van die roman is die gebruik van twee verhaallyne wat afwisselend die verhaal vertel van die karakter Renier se twee verskillende lewens. Beide verhaallyne beeld hom uit as ’n man in sy vroeë veertigs wat soek na ’n bepaalde rigting in sy lewe en ernstig nadink oor wie en wat hy is. Naas hierdie ooreenkomste ontwikkel die plotlyne van die twee verhaallyne egter in volkome verskillende rigtings, sodat die leser uiteindelik gekonfronteer word met twee alternatiewe weergawes van een persoon se lewe, wat dui op ’n soort skisofrene gespletenheid en herinner aan ’n film soos Fight Club. Die slot toon egter dat ’n mens hierdie twee verhaallyne ook as opeenvolgend in die tyd kan lees, sodat die vertelstruktuur ’n enigmatiese gegewe is wat die leser tot die einde bly boei.

In die een verhaallyn is Renier ’n inwoner van Huis Genade, waar hy veertien uur per dag slaap en veelvuldiglik droom. Een van die belangrikste verwikkelinge in hierdie verhaallyn is dat hy ’n film begin maak van die tehuis en later ook van ’n regse en militaristiese groep Afrikaners. Dit blyk egter mettertyd dat hierdie gebeure nie werklik afgespeel het nie en slegs in sy verbeelding bestaan. Geleidelik loop hierdie verhaallyn dan af in steeds groter wordende verwarring en skisofrenie. In die ander verhaallyn woon Renier in ’n woonstel êrens in Gauteng en besluit hy om na die Boland te gaan, waar hy werk kry op ’n plaas en verlief raak op die boer se dogter, Lena. Na haar dood keer hy uiteindelik terug na die Noorde, waar hy in Huis Genade opgeneem word.

Die roman se gesplete vertelstruktuur en rigtinglose hoofkarakter is nie net ’n literêre truuk nie, maar word onder andere aangewend om te besin oor verskillende kwessies, soos manlike chauvinisme en rassisme. Dit is veral die Afrikanerman se stryd om binne ’n nuwe konteks aan te pas, sy gevoelens van minderwaardigheid en die restante van rassisme in sy samestelling wat aangespreek word. 

Die roman het ’n digte verteltekstuur vanweë die uitgebreide stel verwysings na die Suid-Afrikaanse politiek, films en die letterkunde – laasgenoemde manifesteer onder andere in die wyse waarop die liefdesverhaal teen ’n idilliese Bolandse agtergrond in sekere dele van die roman geparodieer word. Die gebruik van Afrikaans is sober en eenvoudig, maar het tog ’n besondere poëtiese lading wat blyk uit tal van formulerings, soos byvoorbeeld hierdie elegiese uitspraak van Renier waarmee die roman afsluit: “En die lewe is soos daardie beeld wat ek nou vergeet het waar ek daaraan kom, die beeld waarin ’n swart voël, ’n raaf sou ek raai want dis ’n Europese gedagte as ek reg onthou, uit die stikdonker stormnag by ’n venster invlieg, ’n ruk vertoef by die vuur waar reisigers oornag, en dan by ’n ander venster uitvlieg.” 

Louise Viljoen

Keer terug na die GAR–indeksblad. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top