Groot Afrikaanse Romanwedstryd: Commendatio – Koljander

  • 0

In die debuutroman Koljander word die verhaal vanuit twee perspektiewe vertel: dié van ’n pa (die afgetrede fisika-professor Hendrik Verhoef) en sy dogter (Karen, ’n binnenshuise ontwerper wat pas ’n baba gehad het). Hulle is meer as die gewone ouer en kind aan mekaar verbind deur ’n geskiedenis van skuld, verwyt en selfverwyt rondom Roux, die Verhoefs se gestremde seun en ouer broer van Karen wat op 16-jarige ouderdom dood is in ’n ongeluk met ‘n mes. Karen voel skuldig omdat Roux dood is terwyl hy in haar sorg gelaat is, en haar pa kan hom nie daarvan weerhou om haar woordeloos daaroor te verwyt nie, gedeeltelik vanweë sy eie skuldgevoelens. In hulle afsonderlike verhale en leefwêrelde is elkeen besig om te worstel met die nagevolge van Roux se dood, terwyl Karen se ma êrens in die middel staan. 

Die roman is ’n psigologies oortuigende en deeglike ondersoek na al die verskillende ramifikasies van skuld en boetedoening. Daar word ’n duidelike onderskeid getref tussen die vertelstemme van Hendrik en Karen, sodat hulle duidelik onderskeibare karakters word, onder andere deur die wyse waarop die dialoog geskryf word. Die outeur kry dit reg om veral van Hendrik ’n boeiende karakter te maak: hy is ’n teleurgestelde, siniese, seergemaakte en kwesbare man met ’n ruie woordeskat en ’n opinie oor alles vanaf die universiteitswese en die politiek tot die letterkunde. Hy is so geobsedeerd met die verlede dat hy paranoïes is oor sy dogter se baba en nie kan glo dat sy die kind behoorlik sal versorg nie. Die belangrikheid van sy obsessie vir die ontwikkeling van die intrige blyk onder andere in die begin van die roman, waarin hy sy dogter “afloer” kort na die geboorte van haar baba en ook in die slot van die roman, waar hy haar volg na Mali wanneer sy daarheen reis met haar baba om inspirasie te kry vir ’n groot ontwerpkompetisie waaraan sy deelneem.

Die spanningslyn word goed hanteer: presies wat die situasie met Roux was en hoe hy dood is, word slegs stukkie vir stukkie aan die leser ontbloot, sodat jy gedwing word om voort te lees. Die roman betrek ook ’n uitgebreide verwysingsveld: veral Afrika word deel gemaak van die romanwêreld deur Karen se ontwerp-belangstelling, haar ontdekking van die geskiedenis en die teenwoordigheid van die vrou Oumu, wat haar reisgids deur Mali is. Die sin van Karen se reis blyk wanneer sy deur Oumu agtergelaat word om op haar eie verder te reis en uiteindelik deur haar pa gered word van ‘n vertrappende Moslem-menigte op ’n feesdag. Die slot van die roman bring verdere oplugting en afsluiting wanneer moeder en dogter ’n soort gemeensaamheid ervaar wanneer hulle saam die baba versorg. Daar is dus sprake van volgehoue spanning en ’n vooruitstuwende verhaallyn wat die karakters by ’n punt van groter begrip vir mekaar en berusting in hulle gesamentlike skuld uitbring.

Koljander is ’n waardige wenner: dit is ‘n bedrewe en onderhoudende roman waarin daar met veel kleur en energie vertel word. 

Louise Viljoen

 

Keer terug na die GAR–indeksblad. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top