Grondwetlike demokrasie in ’n eenparty-dominante demokrasie

  • 1

Suid-Afrika, so sê die kenners, is tans ’n eenparty-dominante demokrasie. Ons hou elke vyf jaar vry en regverdige verkiesings, en die basiese demokratiese vryhede (insluitende die reg op vrye assosiasie, die reg op toegang tot inligting en die reg op vryheid van spraak) word in die Grondwet beskerm. Tog is die regerende ANC polities dominant en is daar nie sprake dat die party binnekort ’n nasionale verkiesing gaan verloor nie.

 

In so ’n eenparty-dominante demokrasie – waarvan Mexiko, Japan, Italië en Indië in die verlede voorbeelde was – bestaan daar ’n wesenlike gevaar dat onafhanklike instellings soos die howe, ’n openbare uitsaaier en antikorrupsieliggame deur die dominante regerende party “gekaap” sal word en hul magte sodoende indirek aan bande gelê sal word. Indien dit gebeur, word dit baie moeilik, indien nie onmoontlik nie, vir sulke instellings om die dominante party verantwoordbaar te hou en neig dit tot magsvergrype en korrupsie. Ten spyte van al die goeie bedoelings van die dominante party lei so ’n situasie noodwendig uiteindelik tot ’n verskraling van die demokrasie, aangesien die politieke dominansie van die regerende party op die lang duur volgehou kan word net deur toe te laat dat die demokrasie so verskraal.

In Suid-Afrika speel die onafhanklike howe – insluitende die Grondwetlike Hof – tans ’n uiters belangrike rol om die demokrasie te beskerm en te waarborg en om te verseker dat die vergrype wat soms met ’n eenparty-dominante demokrasie na vore tree, nie handuit ruk nie. Die howe se taak word vergemaklik deur die feit dat die Suid-Afrikaanse grondwet soewerein is en dat enige wet of enige optrede van die uitvoerende gesag – insluitende enige optrede van die president of enige lid van sy kabinet – deur ons howe ongrondwetlik verklaar kan word indien dit indruis teen enige bepalings wat in die Grondwet vervat is.

Dis dié dat die Hoogste Hof van Appèl onlangs kon beslis dat die aanstelling van Menzi Simelane as hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag onwettig was en dat die howe in die toekoms dalk self sou kon beslis dat die besluit van die einste Vervolgingsgesag om alle kriminele klagte teen Jacob Zuma te laat vaar, nie geldig was nie.

Die Grondwetlike Hof het boonop nog die mag om enige aspek van regeringsbeleid rakende die verskaffing van behuising, gesondheidsorg en onderwys teen die Grondwet te toets om te bepaal of die beleid redelik is en of dit wel – gegewe die beperkte bronne – op die lang duur beter toegang tot die basiese behoeftes aan meer Suid-Afrikaners sal kan verskaf.

In ons stelsel beskik die howe dus oor ongekende magte. Dit beteken egter dat die Grondwetlike Hof soms genoop word om besluite te neem wat uiters sensitiewe politieke gevolge kan hê. Dit plaas die Hof in die spervuur van kritiek van sommige lede van die regerende party wat voel dat die Hof dalk te veel mag het en dat Suid-Afrika eerder deur die onverkose 11 regters van die Grondwetlike Hof as deur die verkose president en sy kabinet regeer word. Dít, sê kritici van die Hof, is ondemokraties en ondermyn die vermoë van die regering om die land na goeddunke en doeltreffend te bestuur. Sulke aantygings klink dalk nog meer geloofwaardig in ’n land waar die regerende party elke vyf jaar ’n oorweldigende mandaat van die kiesers kry om die land te regeer ten einde ekonomiese en sosiale transformasie na te streef.

Dit is teen hierdie agtergrond dat die jongste uitsprake van die regering rakende die “hersiening” van die uitsprake van die Grondwetlike Hof beoordeel moet word. Die Minister van Justisie het dié week die welkome versekering gegee dat so ’n “hersiening” nie ten doel het om die onafhanklikheid van die regbank of die beginsel van die skeiding van magte aan te tas nie. Alhoewel minister Radebe tydens die perskonferensie geen versekering wou verskaf dat verdere veranderings aan die Grondwet nie in die vooruitsig gestel word nie, lyk dit of die regering tog besef dat dit nie moontlik of wenslik is dat die magte van die Grondwetlike Hof wesenlik afgeskaal word nie.

Indien die regering die magte van die Hof sou wou inperk – iets wat nie tans in die vooruitsig gestel word nie – sou die Grondwet in ieder geval verander moet word. Maar omdat so ’n inperking van die magte van die howe een van die grondliggende bepalings van die Grondwet sou aantas deur die oppergesag van die Grondwet op indirekte wyse af te skaf, sou dit kon geskied slegs indien 75% van die lede van die Nasionale Vergadering so ’n grondwetsverandering sou steun. Tans beskik die ANC oor net minder as ’n twee-derde-meerderheid in die Nasionale Vergadering, terwyl die DA, Cope en die IVP gesamentlik oor sowat 27% van die steun in die Nasionale Vergadering beskik. Dit sou tans dus onmoontlik wees om genoeg steun in die parlement te werf vir so ’n grondliggende verandering van die Grondwet.

Die gespreksdokument wat vandeesweek vrygestel is, suggereer egter dat die regering dalk eerder van plan is om meganismes te probeer skep wat sal verseker dat die drie bene van die staat – die wetgewende gesag, die uitvoerende gesag en die regsprekende gesag – gereeld met mekaar in gesprek tree ten einde te probeer verseker dat die lede van al die liggame “gemeenskaplike transformasiedoelwitte” nastreef wat in belang van alle landsburgers sal wees.

Gesprekke tussen regters en lede van die uitvoerende gesag en wetgewende gesag oor die bestuur van die regstelsel is natuurlik nie iets waaroor ons bekommerd hoef te wees nie. Sulke gesprekke vind gereeld plaas en is nie daarop gemik om politieke druk op regters te plaas ten einde besluite te neem wat slegs vir die regering aanvaarbaar is nie.

Daar mag egter ’n probleem ontstaan indien sulke gesprekke in die vooruitsig gestel word ten einde te verseker dat die Grondwetlike Hof (en ander howe) nie uitsprake lewer wat in stryd is met enige beleidbesluite van die regerende ANC nie. Suid-Afrika se grondwet vestig ’n relatief streng model van skeiding van magte tussen die drie staatsorgane. In ’n onlangse uitspraak waarin die Grondwetlike Hof wetgewing ongrondwetlik verklaar het wat magte aan die president sou gee om die termyn van die hoofregter te verleng, het die Hof weer eens bevestig dat ons Grondwet so ’n streng skeiding van magte in die vooruitsig stel. Die huidige regeringsvoorstelle in dié verband is dus nie konseptueel te versoen met die huidige sisteem van skeiding van magte, die oppergesag van die Grondwet en die Grondwetlike Hof en toetsingsreg van die howe nie.

Die regering se besprekingsdokument verklaar in dié verband:

Dit kan nie genoeg beklemtoon word hoe belangrik dit is dat die wetgewende, uitvoerende en regsprekende bene van die staat moet saamwerk en op interafhanklike wyse moet optree wanneer die onderskeie organe hul grondwetlike pligte uitvoer nie. Die regering moet as ’n geïntegreerde en enkele eenheid funksioneer om die gemeenskaplike grondwetlike missie na te streef. Die formidabele staatsmasjinerie wat as ’n eenheid optree, word benodig ten einde die gevolge van kolonialisme en die gevolge van die ongelyke apartheidsverlede aan te spreek. Die beginsel van die skeiding van magte maak dus voorsiening vir ’n sisteem van wedersydse saambestaan (co-existence) en interafhanklikheid.

Maar indien die drie onafhanklike bene van die staat as ’n geïntegreerde enkele eenheid optree “in die openbare belang” (en indien wát in die openbare belang is, deur die verkose politici bepaal word), is dit onwaarskynlik dat die howe gereeld en daadwerklik die handelinge van die wetgewende en uitvoerende gesag  ongrondwetlik sal verklaar om sodoende die magte van die wetgewende en uitvoerende gesag doeltreffend te beperk ten einde magsvergryp te voorkom.

Ten beste sou so ’n sisteem daartoe lei dat die drie bene van die staat enige grondwetlike kwessies eers deeglik debatteer sodat die twee politieke bene van die staat hul optrede voortydig so kan wysig om te verseker dat hulle nie enige bepalings van die Grondwet oortree nie. Maar dis ook moontlik dat so ’n sisteem daartoe sal lei dat die twee politieke bene van die staat politieke druk op die howe sou kon uitoefen om te verseker dat die howe nie te veel inmeng met die uitoefening van hul magte nie.

So ’n “harmonieuse” siening van die beginsel van die skeiding van magte is moeilik te versoen met ’n sisteem waarin howe op aktiewe wyse die uitoefening van mag deur die twee politieke bene van die staat beperk om te verseker dat die politici nie hul mag misbruik tot nadeel van die burgers van die land nie.

Soos die regering se gespreksdokument uitwys, is daar wel politieke wetenskaplikes soos Richard Simeon wat beweer dat daar in beginsel niks fout is met so ’n “harmonieuse” siening van die beginsel van die skeiding van magte nie. Simeon argumenteer dat die wetgewende, regsprekende en uitvoerende gesag in ’n moderne staat nie maklik in isolasie van mekaar kan optree nie. Daar is maar voortdurend ’n vorm van dialoog en onderhandeling tussen die drie bene van die staat aan die gang oor die begroting, jurisdiksie, grootte, prosedures en administrasie van die regbank, sê Simeon.

Simeon beweer egter nie dat die drie bene van die staat met mekaar in debat moet tree oor die inhoud van regterlike beslissings of oor kwessies rakende die gemeenskaplike nastreef van ’n vaag-gedefinieerde openbare belang nie. Alhoewel sy argument van toepassing is op die Kanadese sisteem, maak Simeon ook nie melding van die feit dat die Kanadese hooggeregshof die “harmonieuse” siening oor die aard van die skeiding van magte verwerp het nie.

In die belangwekende uitspraak van Reference re Remuneration of Judges of the Provincial Court (PEI) het die Kanadese hooggeregshof dit duidelik gestel dat dit onder geen omstandighede toelaatbaar is vir die regbank as entiteit (of individuele lede van die regbank) om met die ander bene van die staat te onderhandel oor belangrike kwessies soos hul salarisse nie, aangesien dit sal indruis teen die beginsel van ’n onafhanklike regbank.

Die Hof, per monde van regter Lamer, verklaar voorts:

Wat hier ter sprake is, is die aard van die verhouding tussen die wetgewende en uitvoerende gesag aan die een kant en die regsprekende gesag aan die ander kant. Hierdie verhoudings behoort te alle tye gedepolitiseer gehou te word. As ek sê die verhoudings behoort gedepolitiseer te word, wil ek nie ontken dat die verhoudings polities is in die sin dat beide grondwetlike en ander hofbeslissings gereeld politieke gevolge sal hê nie en dat die wetgewing wat deur howe geïnterpreteer en toegepas word, deur politiese prosesse geskep word nie. Wat ek bedoel, is dat die wetgewer en die uitvoerende gesag nie politieke druk op die regbank mag plaas of mag optree sodat daar die indruk geskep word dat sulke druk op die regbank geplaas word nie.

Die suggestie in die gespreksdokument wat vandeesweek deur die Minister van Justisie bekend gestel is dat die drie bene van die staat as ’n eenheid ’n gemeenskaplike doelwit moet nastreef en dus gereeld oor die gemeenskaplike doelwitte in debat moet tree, is dus iets om oor bekommerd te wees.

Die kommer wat mens het oor sulke uitsprake, word vergroot deur die feit dat Suid-Afrika ’n eenparty-dominante demokrasie is. Omdat daar nie sprake is dat die wetgewende of uitvoerende gesag binnekort deur ’n ander party beheer sal word nie, en omdat die gespreksdokument suggereer dat die openbare belang (soos gedefinieer deur ANC-politici) deur al drie bene van die staat (ook dus die regbank) nagestreef behoort te word, sal die voorgestelde model van skeiding van magte bes moontlik daartoe lei dat die partypolitieke belange van die regerende party – eerder as die bepalings van die Grondwet – ’n deurslaggewende invloed op die uitsprake van die howe sal hê.

Natuurlik kan die beslissings van regters nie as apolities beskou word nie. Soos die Kanadese hooggeregshof tereg opgemerk het, het vele regsuitsprake noodwendig politieke gevolge. Boonop kan nie ontken word dat die politieke oortuigings en lewensbeskouinge van afsonderlike regters in ’n sekere mate ’n invloed op die interpretering en toepassing van die Grondwet sal hê nie. Maar as partypolitieke oorwegings ’n deurslaggewende invloed gaan verkry op die verhouding tussen die regbank en die ander bene van die staat, sal dit ’n nekslag toedien aan enige sinvolle sisteem van skeiding van magte waarin regters onafhanklik en onverskrokke kan optree ten einde die moontlike magsvergrype van die regering aan bande te lê. Soos die Kanadese hooggeregshof aangedui het, sal dit daartoe lei dat politieke druk op die regbank uitgeoefen word om die “regte” besluite te neem en dan sal die oppergesag van die Grondwet self moontlik indirek in gedrang kom.

Die vraag wat nou ontstaan, is of die lede van die regbank – insluitende leiers soos die onderskeie regterpresidente en die hoofregter – geneë sal toekyk hoe partypolitieke oorwegings die verhouding tussen die regbank en die ander bene van die staat infiltreer en begin oorheers.

Dalk het dit tyd geword vir die regbank om te besin oor hoe hulle te werk wil gaan ten einde hul eie onafhanklikheid te verseker en ten einde enige pogings af te weer om die regbank op indirekte wyse polities gedienstig aan die dominante regerende party te maak.

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Die bree gemeenskap stem elke dag deur verbruikers voorkeure kollektief oor hoe die samelewing waarin hulle 'n bydrae lewer moet lyk. Die ANC lees elke dag hierdie tekens en voldoen tans aan 68% van die kiesers se voorkeure. Hulle is nie daarmee tevrede nie. Hulle was nog altyd van mening dat 'n eenparty staat vir hulle aan bewind sal hou tot die wederkoms. Hul vernaamste probleem was nog altyd hul gebrek aan beheer oor die media. As hulle die media kan muilband is die regsbank en alle ander kontrole punte weerloos. Daarna sal enige vorm van kritiek teen die eenparty bewind as verraad gedefinieer word. As ons nou nie die behoud van ons grondwetlike beskerming op statutere vlak kan verdedig nie sal ons mettertyd in bloed daarvoor moet opdok. Kadaffie en sy kaders het nie in vrede afstand gedoen van hul mag nie. Ons het nie olie om aan die Amerikaners te belowe om ons te kom red uit die kloue van 'n eenparty despoot nie. Die ANC kaders is van misdaad afhanklik vir oorlewing. Ons moet nou besluit of ons hulle in die regering of tronk wil he.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top