Groen truie en gedoemde liefde. Of: ’n Oomblik in Breyten se neushare

  • 0

Die week in woorde

Dis Oktober en die lug ruik lekker. Alles wat asem het, is bewus van die lenteblomme se teenwoordigheid. Dertig persent* van alles wat asem het, het hooikoors. Die res het troukoors. Dis wat blomme aan mense doen.

Gister kondig ’n vriendin in die verre aan dat sy binnekort gaan trou. Die nuus ontketen ’n vreeslike niesbui by my. Aan my hooikoors is geen salf te smeer nie: ek is erg allergies vir troues. Maar moet my nie verkwalik dat ek die vreeslike feesvierdery met wit rokke en elaborate koeke en voorspelbare toesprake nie kan verdra nie. Dit het alles te make met my gedoemde liefde, die feit dat ek wéét, beter as wat ek enigiets anders weet, dat ek nooit voor die kansel gaan staan saam met Breyten Breytenbach nie.

Ek is een van minstens twee vroue wat my lewe lank al gebuk gaan onder ’n gedoemde liefde vir die man in die groen trui. Die ander een (van wie ek weet) is Maud, die hoofkarakter in Deborah Steinmair se boek Marike se laaste dans. Op ’n stadium in daardie storie vertel Maud vir die spook van Marike de Klerk:

Ek het nog altyd gehunker na Breyten Breytenbach. Breyten wat soos ’n hartstogtelike Portugees gelyk het toe hy jonk was, en nou, op amper 70, soos ’n aristokratiese Kubaan, ’n sjamaan, ’n vors van ver … Met sy Wellington-aksent, sy allerlieflikste stem, sy kop vol woorde, drome en katastrofes – God se geskenk aan vroue. Die hoëpriester van teerheid. Lenig, neutbruin, beleefd, bedek met silwer hare. Ek sien soms so duidelik hoe hy al sy klere uittrek, op my duvet gaan lê en my naam sê … sy geslag is vlesig en besny soos ’n beeldhouwerk, hy sê my naam en my ganse lewe tot dusver maak perfek sin … As ek dan nie Leonard Cohen se kop in my skoot kan koester nie, wil ek dat Breyten helder oordag op my klouter … jammer, ek is besig om die kluts kwyt te raak.

Ou Maud is besig om die kluts kwyt te raak, maar ek is hom lankal reeds heeltemal kwyt. Noem net sy naam en ek swymel. Gee vir my een van sy boeke en my geswymel word ’n beswyming. Plaas my in sy teenwoordigheid (dit het al een maal gebeur, in die ry voor ’n toilet in Kaapstad) en ek verval in ’n katatoniese staat, ’n krisis, ’n koma.


Breyten: Maud se "hartstogtelike Portugees"/"aristokratiese Kubaan".

Ek is magteloos onder die uitwerking van sy toorwoorde. Byvoorbeeld: voor in die huldigingsbundel vi’ Adam Small wat nou die dag deur Naledi uitgegee is, skryf Breyten:

 

Want jy het by uitstek gewys dat die poësie in die eerste plek, die tuisplek, ’n mensetaalomgang is: ’n koerskuns en ’n verdwaalkuns. En partykeer – ons is ook mos maar net mens – ’n kansvattery. Dit is wat ons dankbaar in die mond neem en saamneem as troos vir ’n lewe wat op te veel maniere ’n vernedering en ’n vashou aan die verbygaande is.

Koerskuns. Verdwaalkuns. Kansvattery. Vashou aan die verbygaande. For better or for worse. For he’s a jolly good fellow. Aaaaaaa ... tsjooooee!

Ek dobber in die bad en lees sy Boek (deel een). Hy skryf (of sê hy, spesiaal vir my?):

Die wonderbaarlikste, wanneer jy soek sonder om te weet waarná, is dat jy vind sonder dat jy weet wat jy gevind het.

Ek besluit om myself nie te verdrink in my verdriet nie. Ek gaan my eerder verbeel dat Breyten oorbuk en aan ’n lenteblom ruik en dan die wêreld se grootste nies nies. Na daardie nies voel hy dat iets anders is, dat dinge ’n bietjie beter in plek geval het toe alles weer tot rus kom in die nadraai van die nies. Hy sal nie weet waarom nie, maar hy sal voel of hy iets gevind het waarvoor hy nie heeltemal gesoek het nie. En dis alles oor ek, vir ’n oomblik, tussen sy neushare rondgekruip het.

(* Statistiek is versin. Moet verkieslik nie aanhaal vir navorsingsdoeleindes nie. Wel geskik vir aanhaling aan die etenstafel of op trou-blogs.)

Nuut op Nuwe Skryfwerk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top