Ek is beslis nie 'n kenner van internasionale betrekkinge nie. Ek lees, kyk en hoor maar wat op die planeet van ons aangaan tussen die skepsels wat spore trap soos mens. Dit slaan my egter onderstebo wat die Grieke se reaksie was en het dit ook te kenne gegee. My gevolgtrekking is soos volg: Hulle wil nie marionette van die IMF of die wêreldbank wees nie. Ongelukkig het hulle die realiteite van hul situasie so bietjie misgekyk. Die huidige regering wil nie aanspreeklikheid vir die vorige bedelings se spandabelrigheid aanvaar nie. Ek weet nie wat hulle gaan doen nie maar ek hoor vanoggend Tsaar Putin gaan die saak nou namens hulle met die IMF/Wêreldbank probeer beredder. As jy nou al politieke opportunisme gesien het, is dit nou. As Putin 'n haas vir die Grieke uit die hoed gaan trek gaan hy beslis hulle held van die dag wees.
Wat my ook laat dink, die blinde sambok piets jou altyd. Het die Grieke nie die Jode baie jare gelede gas gegee nie?
Reusedwerg


Kommentaar
Ten spyte daarvan dat salaristrekkers weet dat jy jou inkomste vir 'n tyd met sê 5% of 10% kan oorskrei maar verplig is om dit mettertyd weer in te haal deur onder jou inkomste te leef, het Griekse regerings uitgegee asof dit nie waar is nie. Nadat hulle met verpligte besparingsmaatreëls reeds die draai gemaak het, word daar toe vasgesteek en die opofferings vernietig met hulle teenstand. Die ontkenning van die werklikheid is fataal en maak hulle situasie veel erger as wat nodig is. Dankbaar ek is nie 'n Griek nie, maar as Suid-Afrikaner is ek self onrustig. As ons nie ons ekonomiese sokkies optrek nie gaan die IMF ook aan ons deur kom klop. Hoeveel Suid-Afrikaners is ingelig oor ekonomiese werklikhede en hoeveel aandag word aan hulle opleiding bestee?
George jou kommentaar is insiggewend. Ek weet nie of ek onwetend iets gerook of gesnuif het nie maar ek is glad nie onrustig oor die ekonomie nie. Ek gaan probeer om my stelling te regverdig. As jy na die Beurs kyk. Ek praat onder korreksie dat ongeveer 95% van die maatskappye wat daar geregistreer is in "Blanke besit" is. Die ekonomie word tans deur die kundiges beheer en manipuleer. Die meeste suksesvolle groot tot kleinsake-ondernemings is indirek onder "kundige" beheer. Dit is hoekom die "natives restless" raak. Ek dink die Grieke het 'n heel ander ekonomie as ons (voor die hand liggend), maar ons "ekonomie" is baie wispelturig in die sin dat iemand altyd 'n haas uit die hoed uit pluk en ons is innoverend en het altyd sakke vol planne om te oorleef. Selfs die informele ekonomie is redelik standvastig. Wat my bekommer is die mense wat in poste sit waarvoor hulle wragtag waar gereeld nie die kwalifikasies oor beskik nie en die moerse salarisse kry.