
Foto: Canva
My vingers gly oor gister verby nou
tentakels gryp my vas
ek waak met my rug teen ’n klipmuur
waardig
“’n poëtiese profeet met planne”
dink ek by myself
’n nalewe flits voor almal verby
net my nalatenskap
(intussen vir jou gelos)
het ek die rykdom van genade met oop arms omhels
die soet-suur van tussen lewe en dood beleef
elke geur van uitheemse plante ingeneem
inheems alles binne my toegesluit
gedrewe
oopoog die hede herroep
in sig sonder heldersien
het ek my hande saam gevou
weer andersom probeer bid
gepleit, gesoebat, gesmeek
om storms so in hul sole te stuit
beswaarlik gekwalifiseerd om mens te wees
het ek van myself ’n aardbewoner gemaak
ten koste van alles
bymekaargeraap wat ek kon opraap
my arms wyd en oop gesprei
om te sweef
saam met engele soos jy.


Kommentaar
Caren, weereens ’n voortreflike gedig uit jou pen.