Greeff op dreef is super-onderhoudend

  • 0

Alles behalwe die geheim van my whiskies
Outeur: Rachelle Greeff
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 978-0-7981-4937-2
Formaat: Sagteband
Prys: R130.00

Klik op die omslag van die boek om jou eksemplaar by kalahari.net te bestel.

Hierdie versameling rubrieke in hul tamatierooi baadjie is warm leesstof. Rachelle Greeff is ? meester van die kortkuns: sy het ? aweregse oog wat deur ? druppel kraanwater korrel. Sy skryf met die volle inset van haar persoonlikheid. Die leser gaan op ? reis deur die kamers van haar eksentrieke kop, van haar kreatiewe maar voorstedelike huishouding. Haar temas kring ook heelwat wyer; daar is pitkos en sappige trivia om aan te knabbel – oor ons land se geskiedenis, resepte, boeke en skrywers, paddas, om maar ? paar te noem.

Greeff op dreef is super-onderhoudend. Sy is lakonies, wrang, filosofies en snaaks. In die titelrubriek lees sy op die etiket van Arthur Bell se whiskybottel dat hy nie graag die geheime van sy whiskies verklap nie. Sy pas dit toe op skrywers, wat ook hul fabrieksgeheime verswyg. Tog kry die leser ? vlietende blik op ? paar van die skrywer se eiesoortige rituele en noodsaaklike waansin. Pantoffels en troeteldiere vorm ? integrale deel van die skryfproses.

Dis ? plesier om ? deurwinterde joernalis en woordsmid op volle vaart te beleef. Die leser ervaar alledaagse vraagstukke en kwessies op ? drafstap en soms op ? maniese galop. Die bekoring van rubrieke is dat die onderdele uiteindelik ? samehangende collage of mosaïek van die skrywer self vorm, hoewel universele kwessies onder die loep geneem word. Uit hierdie versameling rubrieke tree Greeff teësinnig na vore as ? gekompliseerde mens met ? besige, nuuskierige kop, ? sin vir verwondering en ? hartstog vir onder meer boeke, katte, vriende en sjokolade. Sy is ook die onbetwiste koningin van koppe, met rubriektitels soos: "Wie wil anyway piepie soos Parker-Bowles?".

Daar is heelwat oomblikke wanneer alles bymekaarkom, wanneer die leser ? doodgewone objek of situasie in ? nuwe lig teen ? gekantelde helling waarneem en oorrompel word deur verwondering oor die vreemdheid van die alledaagse. Daar is ook altyd ? minieurnoot wat bly hang: na die familiefees met tafels wat kreun onder liefdevol-voorbereide disse, is daar die bergie wat op ? stuk karton onder die brug lê – op sy maag, om die ergste hongerpyne te verlig.

? Stukkie kritiek is dat Greeff heeltemal te goed skryf. Soms kry woorde in die hand van hierdie bedrewe woordgoëlaar ? lewe van hul eie, word die leser oorrompel deur Greeff se bedrewenheid. Ek glo dat woorde soms in die hoek moet gaan staan en hul bekke hou. Soms spreek stilte, eenvoud, gestrooptheid harder as prosa. Greeff is self bewus hiervan en verwys daarna in die rubriek "Die Hel van Honde en Ander Alliterasies" wanneer sy vertel dat kopieskrywery die styl beduiwel en skrywers te netjies laat skryf, dat sy bewustelik die alliterasie-impuls moet besweer. Tog kan sy stilte ook dawerend raakslaan, soos die volgende reëls oor sneeu in "Die stilte onder die woorde": “Maar dié bladswye, die doodse stilte, is meer as net die blote afwesigheid van geluid. Dit klink. Dit sê.”

Rubrieke is selfstandige eenhede wat gerieflik een-een ingeneem kan word terwyl jy wag vir die ketel om te kook. ? Goeie rubriek bly nog dae lank by jou spook. Daar is heelwat sulkes in Alles behalwe die geheime van my whiskies.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top