Eendag het ’n ateïs doodgegaan, en soos sy Christenvriende hom verwens het, is hy reguit hel toe.
By die hel aangekom, wag daar ’n groot ontvangs vir hom. Hy word hartlik verwelkom, en toe word daar behoorlik fees gevier.
Daarna word hy op ’n toer deur die stad geneem.
“In daardie straat sal jy die wonderlikste restouante kry waar hoogs gekwalifiseerde sjefs die kos voorberei, en die kos word bedien deur die aller pragtigste meisietjies,” beduie die Maître D’ geesdriftig.
So word hy straat na straat gewys. In die een straat is daar Casino’s waar hy kan gaan dobbel sonder om te verloor, en in ’n ander is daar vyfster hotelle waar hy verniet kon gaan bly.
Verbaas vra die ateïs of dit dan regtig die hel is, en wat dan van die hemel?
“In die hemel het hulle strate wat met goud uitgelê is, maar verder is daar net geboue waar almal saamkom om harp te speel,” verduidelik die MD.
Skielik ry hulle by ’n groot put verby wat die ateïs laat dink aan die oop myn by Kimberley. Al verskil is, dis gevul met gloeiende lawa, daar swem mense in, en verder hoor jy net ’n geween en gekners van tande.
“En dit?” vra die ateïs verskrik.
“O, dit is vir die Christene,” verduidelik die Maître D’. “Dis hoe húlle dit wou gehad het.”
Groete
Angus

