Grammatika 0,5 - 0 - 0,5 vir Albert Nothnagel

  • 7

’n Ene Albert Nothnagel sê nou die dag op Praatsaam (RSG-inbelprogram) Zuma is ’n Afrikaner en Lynette Francis is ’n Afrikaner en almal van Afrika is Afrikaners. Hier is vir Albert bietjie inligting wat grammatika betref (0,5-0-0,5 is voor jy by 101 uitkom):

Die Duits en die Engels vir die Afrikaanse ‘Afrikaner’ is ‘Afrikaaner’ en ‘Afrikaner’ respektiewelik. Vir ‘Afrikaan’ is dit ‘Afrikaner’ en ‘African’. ‘Afrikaner’ in Afrikaans staan byvoorbeeld nie teenoor Afrika soos ‘Amerikaner’ teenoor Amerika staan nie; die Afrikaanse woord is hier ‘Afrikaan’.

Maklik, of hoe? Daar is baie sulke verskynsels in alle tale. Vergelyk byvoorbeeld ‘nasie’ en ‘nasionalisme’ teenoor ‘ras’ en ‘rassisme’; dis maar goed wat mens net moet leer (gewoonlik op skool).

Jan Rap

  • 7

Kommentaar

  • Albert Nothnagel

    Mnr Jan Rap weet blykbaar iets, maar daar is nog baie waarvan hy niks weet nie, soos alle alle mense, ook ek.
    Na weet kom natuurlik nog ook insig en dit is iets heel apart. Dit neem baie lank.
    Gelukkig is hy darem ook 'n Suid-Afrikaner.
    Neem die suid weg en raai, hyself word sommer 'n Afrikaner ('n mens van Suid-Afrika). Dit nogal saam met mnr Zuma,(ek praat glad nie oor sy party en foute nie), Lynette my Afrikanersuster, en al my Afrikanerbroers en susters in SA, ongeag kleur of wat ook al, Ware Afrikaners (mense van Afrika)
    Ek kan baie sê oor iets wat ek goed nagevors het en steeds doen.
    Ten slotte, Ek wil dus glad nie nie 'n Afrikaan wees nie (wegkruipwoord van wit afrikaners om die woord Afrikaner slegs vir hulle te reserveer) Ek is ook nie 'n African nie maar in my taal Afrikaans, 'n Afrikaner (mens van Afrika).
    Apartheid het ons taal en sy woorde ook maar lekker vermink soos ons wit Afrikaners, ook ekself oor die loop van die geskiedenis. Die NP, Afrikaanse koerante, kerke en kultuurorganisasies het almal saamgewerk om die woord Afrikaner wit en blink te poets. Baie doen dit steeds om dit so te hou.
    Ons het mekaar as wit Afrikaners eintlik veredel tot by die punt van onedelheid in die apartheidsjare.
    Dis nou nog regmaaktyd. Rap beteken in Nederlands mos vinnig, komaan Jan. Ek is seker jy weet dit. Groetnis Jan

    • Jan, die NP en dié se koerante het glad nie die woord 'Afrikaner' gepoets en gereserveer vir blanke Afrikaners nie - die woord is hier in 1910 rond al gebruik as versamelnaam vir Boere en Afrikaanssprekendes van die Kaap en Natal.
      'Afrikaan' is die Afrikaanse woord vir die Duitse 'Afrikaner' en die Engelse 'African'. Die Duits en Engels vir die Afrikaanse woord 'Afrikaner' is respektiewelik 'Afrikaaner' en 'Afrikaner'. Groetnis.

  • Johannes Comestor

    In sy boek, What's gone wrong (Johannesburg: Jonathan Ball, 2014, p 19), skryf Alex Boraine oor wat kort na die Soweto-opstand gebeur het: "I was physically threatened by a National Party member who blamed my party [die Progessiewe Party] for the slaughter which took place on that fateful day, 16 June 1976. Albert Nothnagel confronted me in the dining room of parliament, quivering with rage, and looked set to strike me. I left him with his mouth open and red with anger."

    • Albert Nothnagel

      Die gespreksonderwerp gaan oor die woord Afrikaner, nie oor gewone onbenullige mense, soos ek en dwase foute wat hulle al gemaak het nie.
      Die vraag het ook niks met grammatika te doen nie. Dit het slegs te doen met medemenslikheid van woorde. Slegs oor wat ons nou moet doen en sê.
      Kom ons hou op om wit Afrikaners te sien as uitverkorenes. Ons is dit nie nou nie en was ook nog nooit, God se uitverkorenes nie, al het ons, ook ek, so gedink.
      Moenie die mooi Afrikaanse woord Afrikaner (mens van Afrika), teenoor die Engelse African uitsluitlik gebruik vir wit Afrikaner nasionalisme nie.
      Woorde verander ook in die gang van die geskiedenis. So 'n woord is Afrikaner wat eerstens in SA gebruik is deur mense van "gemengde afkoms" in die Kaap - "Africander".
      Mettertyd het ons voorsate dit gekaap. Toe word witmense, die ware en nogal enigste, wat Afrikaners is, nogal wit ook. Weereens ek was deel daarvan en ook deel van die latere begrafnis van onreg.
      Tweedens is die meeste mense in SA wat Afrikaans praat ook mos klaar Afrikaners. HAT se skewe definisie Afrikaner (veral wit) sê dit self. Alle mense ongeag velkleur, kan dus mos ook op taalgebied reeds Afrikaners genoem word.
      Hierdie debat gaan meer oor verstandige politiek as rondom taalkonstruksies. Niks om oor skaam te wees of om oor te twis nie. Die Afrikaanse taal was verder ook nog nooit staties nie. Dit het verander en sal aanhou verander, bo-oor alle grammatika reëls heen. So word die taal verryk met nuwe idees, nuwe begrippe en nuwe woorde Kom ons werk saam vir Afrikaans.

      • Albert
        Soos jy sê, taal verander. Toe Hendrik Biebouw gesê het hy is 'n 'Afrikaander' in 1707 was die betekenis soos die Engelse 'African'. Hier by Uniewording rond, so 'n bietjie meer as 200 jaar later is die woord 'Afrikaner' glad nie dieselfde as die 1707 woord 'Afrikaander' nie, lg is in Engels byvoorbeeld 'African' en eersgenoemde is 'Afrikaner'. Inderdaad 'n kunsmatige woord soos jy impliseer maar dit was die versamelwoord vir die lojale (teenoor die Britse Kroon) Afrikaanssprekendes van die Kaap en Natal en die Boere van die twee voormalige Boererepublieke.
        Jy kan ook nie sê almal wat Afrikaans praat is Afrikaners nie; net soos almal wat Engels praat nie Engelse is nie (vgl Australiërs, Nieu-Seelanders, Kanadese, Suid-Afrikaners ens) en almal wat Duits praat nie Duitsers is nie (Oostenrykers, Switsers ens).
        So, weer eens, waar jy 'mens van Afrika' in hakies het agter die woord 'Afrikaner' is jy verkeerd; mens van Afrika is 'n Afrikaan.
        Jou stelling dat Afrikaners moet ophou om hulle as uitverkorenes te sien is absurd - waarop baseer jy dit? Tog nie die woord 'Afrikaner' nie? Indien wel sal ek graag wil weet hoe jy die kloutjie by die oor bring.
        Jy sê die debat gaan nie oor taalkonstruksie nie maar politiek ('verstandige' politiek nogal maar dit nou eers daar gelaat). Ek weet, ek het jou maar net gehelp met die grammatika.

  • Die feit dat ons dieselfde stukkie grondgebied deel maak ons nie almal dieselfde nie. In Suid Afrika is daar mense wat tale praat wat ek glad nie verstaan nie, maar in Nederland is daar mense wat dialekte praat wat selfs gebore Nederlanders nie verstaan nie.
    Die feit dat almal in 'n geografiese gebied woon bekend as Nederland ,wat dan almal, omdat dit onder een regering staan Nederlandse burgers maak, behalwe natuurlik die lot wat hul eie paadjie wil loop.
    Maar dit neem nie die feit weg dat dat daar Hollanders in Noord- en Suid-Holland is en Friese in Friesland wat natuurlik nou Fries en Nederlands as hul amptelike taal het nie. En die hele lot saam is dan ook nog Europeërs en is elk op sy eie 'n Europeaan.
    In Suid Afrika is dit darem nog nie sover nie, maar net soos die Nederlanders uit verskillende groepe bestaan en almal Nederlanders is, is alle mense wat in Suid-Afrika woon en burgers is, Suid-Afrikaners en Afrikane en in Suid-Afrika kan jy 'n hele paar dinge, soos bv 'n Zoeloe, 'n kleurling, 'n Indiër ens wees. Gelowig, ongelowig, lesbian en homoseksueel en selfs heteroseksueel ens, maar al is ons almal Afrikane omdat ons op die Afrika-kontinent bly en Suid-Afrikaners omdat ons in die geografiese gedeelte van Afrika bekend as Suid-Afrika bly en voorlopig onder een regering staan, is ons nie almal dieselfde nie.
    As party ouens nou hul sin kry word ons almal pleks van Suid-Afrikaners, Azaniërs, klink nog al lekker, maar selfs dit maak ons nie almal dieselfde nie. En noudat die hele spulletjie lekker deurmekaar geklits is en almal nou na dese die kluts kwyt is, besluit nou maar self wat jy is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top