Die Britse skrywer Graham Greene (1904-1991) is nie net vanweë sy boeke, veral romans, in Suid-Afrika bekend nie. As persoon het hy in 1973 plaaslik bekend geword toe hy besoek aan sy vriend Etienne Leroux (1922-1989) op sy plaas by Koffiefontein gebring het. Greene was ’n geldbewuste skrywer wat om geld geskryf het. Hy was so suksesvol dat hy later kon bekostig om liefdadig te word. Die leesbaarheid en afset van sy boeke was vir hom belangrik. Met die oog op gewildheid het hy nie vergesogte onderwerpe gekies nie. Aanvanklik wou hy bloot vermaak verskaf. Later is sy vertellings as volwaardige romans beskou, maar hy het steeds verkies dat daar nie groot literêre waarde aan hulle geheg word nie. Hy wou nie ’n intellektueel wees nie.
Sy verhale speel dikwels in eksotiese plekke af. Met die oog hierop het hy graag en later baie gereis. Sy werke is dikwels aangepas vir rolprent- en televisie-weergawes. ’n Kenmerk van Greene was dat hy gemeen het dat hy tydens sy buitelandse besoeke politieke en sosiale veranderings deur gesprekvoering kon bewerkstellig. Hierin was hy ’n voorloper van die talle verhoogkunstenaars en rolprentsterre wat deesdae dink dat hulle met publisiteitsryke bemoeiing hervorming teweeg kan bring. Greene was bv in 1980 betrokke by onsuksesvolle onderhandelings om die Suid-Afrikaanse ambassadeur Archibald Dunne, wat deur rebelle van San Salvador ontvoer is, te bevry (bron hieronder, p 367-368). Tog was daar by Greene "unease with the whole idea of the writer’s social function being paramount" (p 147).
Verskeie biografiese werke het oor Greene verskyn. Die omvattendste is dié van Norman Sherry, wat in drie boekdele (1989, 1994, 2004) gepubliseer is. Greene het sy bedenkinge oor Sherry as biograaf gehad, maar wou hom nie vervreem nie. Met die publikasie van sommige van sy briewe, Graham Greene: A Life in Letters (London: Abacus, 2008, 446p), met Richard Greene as redakteur, het die resensent Alexander Waugh die hoop uitgespreek dat hierdie bundel "liberates his postumous image from the Norman Sherry stranglehold" (p i). In die teks is Graham Greene natuurlik self aan die woord, maar eintlik is hierdie briewe, asook van sy briewe wat in ander bundels gepubliseerde is (p xxxiii), druppels uit die emmer. Greene het beweer dat hy sowat 2 000 briewe per jaar geskryf het, wat meebring "that the greater part of what Graham Greene wrote ... remains unpublished" (p ix).
’n Deurlopende kenmerk van Greene is sy afkeur van Amerika, wat tydens sy studentejare in Oxford (Balliol-kollege) kortstondig uitdrukking in lidmaatskap van die Kommunistiese Party gevind het. ’n Ander kenmerk is sy Rooms-Katolisisme, maar hy het die pous se onfeilbaarheid verwerp (p 407, 410). Religie het ’n afnemende rol in sy lewe gespeel. "In old age, he spoke of himself as a ’Catholic agnostic’" (p xvi, ook p 409). "Greene positioned himself just inside the church door" (p xvi). Hy het dikwels uit ’n gedig van Robert Browning aangehaal oor "faith diversified by doubt" (p 152), asook uit ’n ander een: "Better sin the whole sin" (p 189).
Hy het die skryfwerk van Arthur Conan Doyle, Brian Moore, RK Narayan, Muriel Spark en Evelyn Waugh bo dié van Virginia Woolf, EM Forster, Iris Murdoch en Kingsley Amis verkies. Daar is rede om oor Greene se literêre oordeelsvermoë te twyfel. "Graham’s comments on books written by his acquaintances were usually drawn from the well of faint praise" (p 179). Selfs oor die gehalte van sy eie skryfwerk was hy onseker. "The act of creation’s awfully odd & inexplicable like falling in love" (p xiv). Van Joseph Conrad sê hy: "I would place him far and away above Virginia Woolf ... his books sometimes read as though they were extremely brilliant and understanding translations from the French" (p 164).
In hierdie briewe maak Ottoline Morrell (1873-1938) in 1930 haar verskyning as "a painted old woman ... a revolting spectacle" (p 39). Sy is nie net ’n karakter in een van Greene se boeke nie, maar ook in die romans van DH Lawrence, Aldous Huxley en Evelyn Waugh. In 1931 skryf Greene aan Morrell: "Books are a labour to write & a hell to publish" (p 43). In dieselfde jaar skryf hy aan iemand anders: "The life of a novelist ... is not all beans & bacon" (p 45). In 1966: "The effort of writing robs one of confidence, pleasure, everything" (p 283).
Aan Elizabeth Bowen (SêNet, 21.09.2011) skryf Greene in 1947: "There are at least two duties the novelist owes - to tell the truth as he sees it and to accept no special privileges from the state" (p 150). "Disloyalty is our privilege ... the Catholic Church ... would present me with grave problems as a writer if I were not saved by my disloyalty ... Literature has nothing to do with edification. I am not arguing that literature is amoral, but that it presents a personal moral, and the personal morality of an individual is seldom identical with the morality of the group to which he belongs ... It is a contradiction in terms to attempt a sinless Literature of sinful man" (p 151-152).
Ongeveer dieselfde tyd skryf Greene aan VS Pritchett oor "the virtue of disloyalty". Die romanskrywer is "more his own master than others are: he is his own employer: he can afford to offend; for one of the major objects of his craft ... is the awakening of sympathy. Now the State is invariably ready to confuse, like a schoolmaster, justice with retribution" (p 154). "Making the work of the State a degree more difficult ... that is a genuine duty we owe society" (p 155). In 1970: "I have small respect for those who wish to protect themselves by a majority opinion" (p 308).
Daar is onder andere drie dinge wat telkens in die briewe na vore kom. Eerstens is daar die huweliksprobleme met sy vrou, Vivien (1904-2003), en sy talle buite-egtelike verhoudings. In 1948 skryf Greene aan Vivien oor sy "disease" as "profoundly antagonistic to ordinary domestic life ... I really feel the hopelessness of sharing a life with anyone" (p 159). Aan ’n vriendin skryf hy: "Marriage isn’t maintaining a friend, a housekeeper or even a mother" (p 169). Hy en Vivien het twee kinders gehad.
Tweedens is daar verwysings na sy drankmisbruik. "For a considerable period of my time at Oxford I lived in a general haze of drink" (p 270). "Hope I wasn’t too drunk. I found when I left the Café that I was wearing a woman’s brown belt and had my braces in my pocket!" (p 64). Oor ’n voorgenome besoek aan die dranksugtige Evelyn Waugh (SêNet, 17 en 18.10.2011): "Will you mind a semi-corpse who will try to work and will succeed in drinking?" (p 190). Greene beplan om ’n vriendin saam te bring: "We are both drinkers rather than eaters" (p 191). "I’ve had three aquavits & some beer, so you must forgive a muddled letter" (p 217). Oor ’n besoek aan Moskou: "I kept going on vodka" (p 248).
Derdens hou hy daarvan om te vertel in watter land hy pas was en na watter een hy op pad is; ook hoeveel keer hy al in ’n land was en hoeveel briewe van bewonderaars tussen sy vertrek en terugkoms by sy huis opgedaag het. Hy wou graag ’n wêreldburger wees en het later eerder in die buiteland (Frankryk, Italië en Switserland) gewoon. "I never believed in the prime importance of loyalty to one’s country. Loyalty to individuals seems to me to be far more important" (p 412-413).
Teen 1953 was Greene al soos ’n ou man weens drank, rook en selfs dwelms: "As one grows older one grows more and more disinclined to read a really new thing. One is afraid one won’t understand, which hurts one’s pride ... and one is afraid of being unduly disturbed" (p 202). In 1955: "At the end of a misspent life one has quite a lot of experience" (p 216). In 1986: "Why should remembering happy times make one sad?" (p 391). Hy het stemming gewerf om die Nobel-prys vir Letterkunde te kry, maar was onsuksesvol. Sy briewe is maklik leesbaar, maar dit lyk nie asof hy ’n groot of oorspronklike woordkunstenaar was nie. Hy was eerder ’n goeie storieverteller.
Wanneer my werkgewer my reis- en verblyfkoste betaal het, was my riglyn altyd dat ek nie vir myself meer en beter gun as wat ek sou gehad het as ek self daarvoor betaal het nie. ’n Vorige Suid-Afrikaanse eerste minister (1954-1958), JG (Hans) Strydom, het dieselfde gesindheid jeens sy besteding van staatsgeld geopenbaar, soos ek al uitgewys het (SêNet, 28.07.2010). ’n Mens wonder wanneer sy borsbeeld in Pretoria heropgerig word. In ’n voetnoot verwys die redakteur, Richard Greene, na George Price, die eerste premier (1989-1993) van die Sentraal-Amerikaanse staat Belize. Graham Greene "admired him as a man of principle ... his frugality with his nation’s money was such that when he visited Miami he would take a bus downtown rather than a taxi" (p 374). Soos Strydom het Price ’n navolgenswaardige voorbeeld aan politici in die nuwe Suid-Afrika gestel.
Johannes Comestor

